Hulle deel al meer as drie dekades gereeld ’n verhoog en is kort-kort saam voor die televisie- of rolprentkameras. G’n wonder dat dit al byna ’n gewoonte geraak het om saam woorde te leer, te repeteer of ’n teks en hul karakters te bespreek nie.

En wanneer ’n projek afgehandel is, kan hulle ure lank gesels oor die draaiboek se dieper betekenis, nuwe talent of sommer net die dinge wat op die stel gebeur het.

Vir die veteraan-akteurspaar Johan (80) en Lida (85) Botha kon dit nie anders dat hul loopbane en huwelik oor ’n leeftyd saam verweef geraak het nie – hulle is immers al 50 jaar getroud en werk al ’n leeftyd saam in dieselfde bedryf.

Lida en Johan Botha vier in Maart hul 50ste huweliksherdenking. Foto: Megan Miller
Lida en Johan Botha vier in Maart hul 50ste huweliksherdenking. Foto: Megan Miller

“Ons ken mekaar nou al so goed,” sê die bekende vrouestem aan die ander kant van die lyn, doer vanuit die Klein-Karoo, waar die akteurspaar op ’n plaas woon. Maar soms stem hul gedagtes oor ’n teks of karakter nie ooreen nie.

“Dan kan ons ook maar ’n lekker woordewisseling hê,” vertel die gesoute aktrise en kraai van die lag. “Maar dit is maklik om teenoor mekaar te speel, want jy weet al hoe om teenoor die ander een te reageer.”

Die egpaar, wat in Maart hul 50ste huweliksherdenking vier, was verlede jaar weer saam in die fliek Toorbos te sien, ook as man en vrou. Die fliek is Suid-Afrika se amptelike inskrywing by vanjaar se Oscars.

Lida is ook nou weer terug op die kassie in die nuwe kykNET-reeks 4 Mure, wat verlede jaar in Kaapstad by Atlantic Studios verfilm is.

Sy vertolk die rol van Marcelina, ’n skoonmaker in die hotel waar die reeks afspeel. En ja, dan is dié legendariese egpaar vir die hoeveelste keer weer saam op die kassie, want Johan vertolk in een van die episodes die rol van ’n huurmoordenaar wat die gereg in eie hande wil neem.

Al is die twee al in hul 80’s, is hulle nog net so besig soos altyd. Lida vertel dit is hul liefde vir toneelspel wat maak dat hulle steeds instem om nuwe rolle aan te pak.

“Elke keer as ons met ’n projek klaarmaak, sê ons: Nou, nou is ons klaar. Maar, my hartjie, ek weet nie of ons kan nie.

“Ek dink die dag wanneer ons nie meer twee woorde ná mekaar kan onthou nie, dan is dit seker tyd dat die regisseurs ons nie meer moet vra nie,” sê Lida, en weer weerklink daardie aansteeklike lag van haar. Sy gee die foon vir Johan aan. “Ja, ons kom al ’n lang pad saam,” sê hy.

“Ons het al soveel kere op die verhoog saam gespeel. Later jare het ons mos die Oupa en ouma sit op die stoep-reeks gedoen. Ons het saam met daai ding getoer,” onthou hy. “So, dit is amper asof ons in ons beroep ook ’n getroude lewe het.”

Dié stuk, wat die dramaturg Leon Kruger spesifiek vir Johan en Lida geskryf het, is ook later in ’n kykNET-komediereeks omskep.

Johan en Lida het mekaar in 1970 in Bloemfontein ontmoet. Lida, toe ’n onderwyseres vir kinders met spesiale behoeftes, het op ’n dag gehoor hoe iemand klavier speel in die woonstelblok waar sy woon.

Uit nuuskierigheid het sy by haar buurman, die akteur Mees Xteen, gaan aanklop en daar sy vriend, Johan, ontmoet.

Die skoot was sommer gou hoog deur en die twee is die volgende jaar getroud. In 1973 het hulle na die destydse Suidwes-Afrika verhuis, waar Johan toneelhoof van die Suidwes-Afrikaanse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Swaruk) was.

“Ek het Lida as die eerste aktrise van die span aangestel. Die eerste rede was dat ek geweet het sy is ’n goeie aktrise, en tweedens het ek iemand nodig gehad wat ek kon misbruik van die oggend tot die aand en wat nie daaroor sou kla nie,” vertel hy droogweg en lag.

Hulle is later terug Johannesburg toe en het in 1981 die eerste keer saam op televisie in die reeks Nommer asseblief verskyn.

Later jare was hulle weer saam in reekse soos Moord op die lug, Arende, Meeulanders en Meester.

Hulle het ook saam in ’n norring flieks gespeel – Die storie van Klara Viljee, Anderkant die stilte, die Afrikaanse romantiese komedie Pad na jou hart en nou weer die magiese fliek Toorbos, wat op Dalene Matthee se boek gegrond is.

“Dit is aan die een kant wonderlik om saam met Lida op te tree, om te sien hoe sy oor iets dink. Maar sy kan ook moeilik raak,” vertel Johan. “Soms wil sy net nie na my luister nie,” terg hy.

“Soms raak die gemoedere op loop, en ek is veral geneig om vir haar te sê wat om te doen. En sy is nie die soort mens wat dit sommer net aanvaar nie,” lag hy.

ouma en oupa
Lida is in die nuwe kykNET-reeks 4 Mure te sien as Marcelina, ’n skoonmaker by ’n hotel. Foto: KykNET

Maar hy is eintlik al so daaraan gewoond om saam met haar op te tree dat dit vir hom skoon vreemd voel wanneer hulle nie saam werk nie, sê hy. Tog gebeur dit soms. En gaan die ander een dan steeds saam stel toe?

“Og, nee, dit raak te vervelig!” sê Johan. “Die ander een bly eerder tuis. Maak groente nat, kyk na die katte. Dan praat ons maar oor die foon en so aan. En ook, dit is ’n hindernis, want wanneer jy werk, wil jy konsentreer op jou werk, op jou rol. Dan is daar nie tyd vir ander nonsens nie.”

Die vermaakveterane het sowat 16 jaar lank op Leipoldtville aan die Weskus gewoon, waarna hulle einde 2015 na De Rust verhuis het om nader aan die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn te wees.

Die afgelope vier jaar huur hulle ’n huis op ’n plaas tussen Calitzdorp en Oudtshoorn.

“Dit is vir ons baie lekker hier,” sê Lida. Sy geniet veral die stilte en die rustigheid op die plaas. Verlede jaar se inperking het hulle nie juis so erg geraak nie, meen die twee.

“Kyk, as jy ’n vryskutakteur is, dan ken jy daai maande wat jy nie werk nie,” verduidelik Lida.

ouma en oupa
Lida en Johan was verlede jaar te sien in die fliek Toorbos. Die fliek is Suid-­Afrika se amptelike inskrywing by die Oscars. Foto: KykNET
ouma en oupa
Lida en Johan was verlede jaar te sien in die fliek Toorbos. Die fliek is Suid-­Afrika se amptelike inskrywing by die Oscars. Foto: KykNET

“So, dit was nie asof ons daar gesit en naels kou het nie, want jy moet altyd voorbereid wees – maande vooruit. En ja, ons was lekker vry hier op die plaas; ons kon loop waar ons wil.

“As ons so nou en dan dorp toe gaan, dan voel ons dit. Maar die mense is baie oulik met die dra van maskers en hulle saniteer jou hande, so dit is baie goed.”

Wanneer hulle nie aan ’n projek werk nie, is albei met tuinwerk op die plaas doenig.

“Veral Johan. En hy lees hom berserk,” merk Lida op en skaterlag weer. “Ek doen graag . . . Ag, man, jy weet, ’n vrou in ’n huis het mos altyd iets om te doen. So dit is maklik vir ’n vrou.”

Hulle kyk ook graag kortflieks saam wat hulle dan ná die tyd ontleed en bespreek, vertel Lida.

Sy het in Oktober die eerste keer sedert die begin van die inperking weer begin werk met die verfilming van die fliek A Boere-Krismis. Dit is in Desember op kykNET en Showmax uitgesaai.

Oor die mylpaal-huweliksherdenking wat wink, antwoord Lida laggend: “ ’n Mens kan dit nie glo nie! Kyk hierso, geniet die lewe, want as jy jou oë uitvee, dan is dit verby. En as jy oud is, gaan die tyd selfs nog vinniger verby. As ek my oë uitvee, is dit weer Sondag!”

Dan raak sy ernstig: “Deur die jare moes een soms weggaan stel toe terwyl die ander een tuis moes bly. Omdat ons albei vryskut is, het ons verstaan dit is wat die werk behels. Hulle sê mos jy eet sewe sakke sout, en dit is nogal waar. Niks in die lewe is perfek nie en niks is altyd net sleg nie; daar is altyd iets goeds.”

Hulle stem saam dat respek vir mekaar een van die sleutels tot ’n lang en suksesvolle huwelik is. “Toe ons heelwat jonger was, was ons iewers saam met vakansie by die see. En sy het vir my gesê sy het respek vir my,” onthou Johan.

“Skielik het dit vir my nuwe betekenis gekry. Ek het geweet wat respek is, maar dat ék respekwaardig is? Dit is amper meer as liefde,” sê hy.

“Nou die dag toe gesels ek weer met ’n plaaswerker wat vertel hy gaan trou. Toe vra ek hom: ‘Maar is jy lief vir haar?’ En deurgaans kry ek altyd dieselfde antwoord – ’n mens raak gewoond.

“En ek is haar nou al so gewoond, ek kan nie sonder Lida asemhaal nie.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe