7DE LAAN

DIRK STOLTZ 

In die SABC 2-sepie 7de Laan is Dirk Stoltz (51) te sien as die sakeman DeWet Basson. Tuis is hy die pa van ’n 10-jarige dogtertjie, Rogue. 

akteur,7de laan
Dirk Stoltz en sy dogtertjie Rogue. Foto: Verskaf

“Die rol van pa is by verre die belangrikste een en ook die mees rewarding. Die onmiddellike liefde wat jy vir jou kind het die oomblik wat jy hulle vir die eerste keer sien, is onbeskryflik. Jy besef skielik jy sal alles prysgee vir daai mensie!” vertel Dirk. 

Al is daar baie lesse wat hy vir sy dogtertjie wil leer, is die belangrikste een: “Be kind to yourself and others.”

JACQUES BLIGNAUT

Jacques Blignaut (40), wat die rol van Vince Meintjies in 7de Laan vertolk, is pa vir Angelique (9), Emmanuelle (7) en Raphael (3). 

“Ek waardeer hoe die Here my geseën het met die verantwoordelikheid om die lewe van drie individue positief te beïnvloed,” sê Jacques. 

jacques blignaut,vadersdag
Jacques Blignaut en sy drie kinders. Foto: Verskaf

“Ek hou daarvan om te sien hoe hulle groei en die jongmense word wat God hulle geskep het om te wees. Ek word gedurig vermaak deur hul unieke persoonlikhede en hulle leer my baie oor die lewe en myself,” vertel die trotse pa. 

GETROUD MET RUGBY 

ALTUS THEART 

Altus Theart (40), oftewel Fafa Beltrame van Getroud met rugby, se driejarige seuntjie, Alexander, is uitgeknip sy akteurpa toe hy omtrent dieselfde ouderdom was. 

altus theart,getroud met rugby
Altus Theart en sy seuntjie Alexander. Foto: Verskaf

Vir die akteur en sanger is sy belangrikste rol om pa te wees vir sy en sy aktrise-vrou, Zetske van Pletzen, se eersteling, Alexander.

“Om die rol van pa te vertolk is 'kind of for life' en daar is ’n mensie wat 100% afhanklik is van my.” Hy wil sy kleinding leer om altyd nederig te wees. 

WERNER COETSER

Werner Coetser (32), wat te sien is as Blitz in dié kykNET-sepie, vier vanjaar sy eerste Vadersdag. 

Sedert Werner en sy vrou, Marijke van der Westhuizen, se 10 maande oue dogtertjie Layla se geboorte het sy lewe baie verander, sê Werner. Marijke speel Maryke in Getroud met Rugby.

“Ek het besef dat jy met bitter min slaap nog kan funksioneer. Die enigste een wie se tyd saak maak is hulle s’n, maar ek sal niks verruil vir my klein wonderwerk nie,” koer die akteur. 

“Sy is my oggend, aand en die rede dat alles in my lewe nou eers sin maak. Om elke oggend by haar kot te kom en daai groot glimlag op haar gesig te sien is alles.”

SUIDOOSTER

IRSHAAD ALLY

Suidooster se Rhafiek Samsodien is in die regte lewe die pa van twee dogtertjies, Rahmah (6) en Hanaa (17 maande). 

“Om ’n pa te wees beteken ’n oneindige liefde waarsonder jy nie kan leef nie,” sê Irshaad (42).

“Ek dink dat mens nooit ophou om ’n pa te wees nie. Ek het nie regtig met ’n pa grootgeword nie, maar wat ek by my vriende en hul pa’s gesien het, is dat hulle voortdurend die rol van pa speel. Selfs al is hul kinders ouer en getroud, is pa’s altyd daar om hulle te ondersteun en advies te gee.”

Hy wil graag vir sy kleingoed leer dat geluk van binne af kom. “As hulle dit kan regkry, lyk die meeste dinge makliker as wat hulle is.”

CEDWYN JOEL

Die akteur Cedwyn Joel (67) vertolk die rol van Rhafiek (Irshaad Ally) se pa in die Kaapse sepie Suidooster. 

In die werklikheid het hy ook die voorreg om ’n stel met sy dogter Portia Joel te deel. Portia (40) is te sien as die sakevrou en raadslid Lee-Ann Jacobs in Suidooster.  

cedwyn joel,portia joel
Cedwyn en Portia Joel. Foto: kykNET/Suidooster

“Ek het drie dogters en Portia is die middelste een. Ek geniet dit om saam met Portia te werk, maar ons hou dit so professioneel soos wat ons kan. As daar enige iets is waarmee ek haar kan help, doen ek dit met graagte,” sê Cedwyn.