Die paartjie, wat tans saam in die fliek Skemerson te sien is, is onlangs met ’n bedrogspul ’n rat voor die oë gedraai toe hulle betalings begin maak het vir ’n golden retriever-hondjie wat hulle op die ou end nooit ontvang het nie.

Pietie het die nuus op Instagram bekendgemaak, maar het probeer om die ligte kant van die saak met sy aanhangers te deel. By ’n foto waar Anneke kruisbeen in ’n hok sit, spot hy hulle oefen solank vir hul "toekomstige dogter".

Pietie-hulle het ’n deeglike soektog op Google aangepak om ’n betroubare teler te soek, en toe op een van die topresultate met ’n geloofwaardige webwerf besluit. Ná talle gesprekke met die vermeende telers, asook foto's en ’n video van die hondjie wat veronderstel was om hul eie te raak, het die akteurspaar besluit hulle sal wel die hondjie koop.

"Ons het gevra of ons ’n video van die hondjie kan sien, want ons sou nie Oos-Kaap toe kon gaan om self na die hondjie te kyk nie. Hulle stuur toe ’n baie oulike video wat hulle heel moontlik net aanlyn gekry het, en ons begin toe ’n band met hierdie hondjie bou," vertel Pietie (30) aan Huisgenoot.

View this post on Instagram

Ek en my ponie ??

A post shared by Pietie Beyers (@pietiebeyers) on

"Ons opwinding het die gevaartekens ’n bietjie verblind," voeg hy by. 

Anneke is ’n mediese dokter en het die dag toe hulle die hondjie sou ontvang 27 geword, som Pietie die toeval op. In Skemerson, waarvan Pietie die draaiboekskrywer en medevervaardiger is, speel Anneke die meisie op wie hy verlief raak.

Die gevaarligte het behoorlik begin flikker toe ’n oproep van ’n sogenaamde veearts nog geld eis. Dit was reeds die derde betaling wat hulle moes maak voor die hondjie aan hulle gestuur sou word.

"Kort voor lank bel die bank ons en bevraagteken die vorige twee betalings, want die rekening is glo nuut en daar is nog geen transaksies daarmee gemaak nie," sê Pietie. Hy wil nie verklap hoeveel hulle altesaam vir die hondjie betaal het nie.

"Ons het nou ons les geleer, en gaan hierdie keer ’n teler in Gauteng soek, sodat ons eers die hondjie kan gaan sien en die mense ontmoet," vertel hy.

Pietie se ma, die aktrise Susanne Beyers, het ’n gesegde rondom honde, sê hy: "You die, I cry, I buy.

"Dit was ’n emosionele middag, maar die aand was ons al klaar weer besig om meer betroubare opsies na te vors," sê Pietie weer opgewonde.