As ’n mens nou by die akteurspaar sou gaan kuier, sal twee honde jou met die intrapslag al blaffend en stertswaaiend by die voordeur groet – behoorlik uitgehonger vir gaste tydens die coronavirus-inperking.

“Hulle dink gewoonlik enige gaste kom kuier eintlik vir hulle,” vertel hul “ma” oor Twiggy, ’n kruising tussen ’n yorkie en ’n Maltese poedel, en Cash, ’n hond met spanjoelbloed in sy are. Dan sou jy uit die sitkamer stap met ’n houttrap na ’n soldervertrek waar boeke opgestapel staan.

Elders in die huis is nog boekrakke – propvol boeke – en teen die mure pryk fliekplakkate, skilderye en geraamde foto’s van Twiggy, Cash en hul “ma en pa” – die aktrise Lara Lourens (27) en akteur Kaz McFadden (35).

Hoewel Lara tans as die assistent en deeltydse paaldanseres Koekie de Kok in die kykNET-komediereeks Huis Lelieveld te sien is, is dié reeks al in Februarie klaar verfilm en bring sy en Kaz die inperking hier by hul huis in La Montagne in die ooste van Pretoria deur.

Kaz en Lana
Lara is tans in die kykNET-komediereeks Huis Lelieveld te sien. Foto: Verskaf

Die pandemie het die vermaakbedryf, die bedryf waarin die paartjie hul brood en botter verdien, soos handomkeer verander. Albei is nou aldag tuis saam met hul honde. “Ek is selfs onseker oor die onsekerhede. Ek weet nie eens meer waaroor om onseker te wees nie,” erken Kaz met ’n laggie.

Hy het ’n rits rolle agter die blad: onder meer in die reekse Ouboet & Wors, Erfsondes en Swartwater en die flieks ’n Pawpaw vir my darling, Strikdas en Knysna. Lara knik.

“As akteur is jy daaraan gewoond om vir jouself geleenthede te skep. Ja, omstandighede het verander, maar nou moet jy nog op ander maniere geleenthede soek.”

Maar die afstel van kunstefeeste en ander gekanselleerde projekte beteken nie dié talentvolle paartjie sit en tone tel nie. Benewens hul werk vir die produksiemaatskappy Third Law Productions, wat hulle saam met die akteur Zack Mtombeni besit, werk hulle ook albei by die Perfoming Arts Lifestyle Institute (PALI) in Pretoria wat tydens die inperking aanlyn toneelspelklasse aanbied.

“Dit raak partykeer nogal mal hier bo, want ons het verskillende aanlyn sessies op dieselfde tyd met die studente,” verduidelik Kaz en beduie na die solderkamer wat hulle as kantoor gebruik.

Kaz en Lana
Albei bied aanlyn sessies aan vir die Performing Arts Lifestyle Institute, waarvan Kaz die uitvoerende hoof is en Lara die bemarking en jeugafdeling behartig. Foto: Sharon Seretlo

Hulle het mekaar by PALI ontmoet en is nou al sewe jaar in ’n verhouding. Aan die begin het hulle jare lank ’n huis met ander kunstenaars gedeel, maar hulle bly sedert 2018 saam hier – en sê om tydens die inperking heeltyd saam tuis te wees is nie vir hulle ’n groot uitdaging nie.

“Ons bly eintlik al vandat ons mekaar ken half saam, selfs nog voor ons uitgegaan het. So ons is nou al taamlik gewoond daaraan,” sê Kaz.

Tog het hulle tydens die pandemie ’n nuwe roetine gevestig.

“Ons bring meer gehaltetyd saam deur. Ons sou gewoonlik in die aand by die huis kom en net saam TV kyk, maar nou speel ons skaak of gesels,” vertel Lara.

‘Om te hoor wat jy doen, is nie nood-saaklik nie, was pynlik’

As “kluisenaar” is Kaz mal daaroor om tuis te bly, terwyl sy weer daarvan hou om saam met haar vriende te kuier.

“Die inperking het ons geleer om meer aandag te gee aan waar die ander mens emosioneel is en werklik daar te wees vir mekaar,” sê Kaz.

“Ons dinamika werk soos ’n bom.” Maar dit verg moeite vir die twee selferkende werkslawe om nie heeltyd oor werk te praat nie, bieg hy. “Ons kry dit nooit reg nie, maar ons probeer.”

Die twee gryp elk boeke as rekwisiete vir Huisgenoot se foto’s. “Fight Club, ’n goeie keuse,” sê Kaz toe hy sien watter boek Lara in haar hande het. Dié gedeelde liefde vir boeke het ’n groot rol gespeel in haar aanvanklike aangetrokkenheid tot Kaz, vertel Lara.

“Ons het soveel gehad om oor te gesels omdat hy so baie lees. Ek het nie voorheen baie ouens geken met wie ek oor Bram Stoker se oorspronklike Dracula of Charles Dickens of Wuthering Heights kon gesels nie.”

Voor hulle in ’n verhouding was, het hulle gereeld saam aan PALI-produksies gewerk en dikwels tot vieruur soggens aan ’n stel gebou.

“Ek het baie respek vir iemand wat so hard werk, en sy is baie intelligent. Dit het dit maklik vir my gemaak om oor haar om te gee,” onthou Kaz.

Kaz en Lana
Hulle geniet dit om nou meer gehaltetyd saam deur te bring. Foto: Sharon Seretlo

“En wanneer jy al daardie dinge saamgooi, word jy een oggend wakker en besef dit is die elemente wat liefde is.”

Hy was destyds besig om die SABC2-reeks Pandjieswinkelstories te verfilm toe hulle begin uitgaan het, en hy moes vir sy rol daarin sy hare bles skeer en ’n snor kweek.

“Ek het wel nie daaraan gedink dat jy my ouers toe ook so sou moes ontmoet nie,” vertel Lara laggend. “So toe hoor my ouers ek gaan uit met hierdie ouer man en ek daag op met ’n ou met ’n bles en ’n vreemde snor.” Kaz glimlag.

“Dis hoe jy weet dis ware liefde. Dit was eintlik ’n slim plan.”

Sewe jaar later geniet hulle dit steeds om saam agter die skerms aan produksies te werk. Vir die kortfliek Hoe om ’n perd te teken, wat verlede jaar in vier afdelings by die jaarlikse kykNET Silwerskermfees vir ’n prys benoem is, het Kaz in die regisseurstoel gesit en Lara as produksiebestuurder gewerk.

“As ek regie doen, werk ek saam met niemand anders as Lara as produksiebestuurder nie,” vertel hy.

Kaz en Lana
Kaz het die rol van Hendrikkie in die reeks Ouboet & Wors vertolk. Foto: Verskaf

Lara skryf tans saam met hul vennoot, Zack, aan die finale weergawe van hul draaiboek vir die kortfliek Pheletso (die Sothowoord vir “nagevolge”).

Third Law Productions het finansiering van die Nasionale Film- en Videostigting hiervoor ontvang, en die gesoute akteur Sechaba Morojele mentor hulle in dié proses. Tussen alles deur hou die PALI-werk hulle besig.

Toe die stigter van die instituut, die aktrise Shareen Swart, in Oktober 2018 haar stryd teen kanker verloor het, het Kaz as uitvoerende hoof oorgeneem.

Lara behartig die instituut se bemarking en jeugafdeling. Hulle kon tot dusver tydens die inperking die meeste van die klasse en werksessies aanlyn voortsit om seker te maak dat die studente nie agterraak nie, maar hulle hoop om binnekort weer in lewende lywe by die studente te kan uitkom.

Die uitwerking wat die inperking op die vermaakbedryf het, weeg swaar op hul gemoed, erken Kaz.

“Die regering in ons land en oor die wêreld het feitlik kuns as nienoodsaaklik bestempel. Om te hoor dit wat jy doen, is nie noodsaaklik nie, het eers ’n bietjie seergemaak en aan my geruk.”

Omdat hy al lank as vryskut in die bedryf werk, is die impak op hom nie so groot nie, voeg hy by. ’n Mens leer finansieel beplan, en boonop is hy al gevestig in die bedryf.

“Wat my wel bekommer, is die jong kunstenaars, soos die studente wat verlede jaar by ons klaargemaak het en nou sonder werk en geleenthede tuis sit.”

Al is hulle dankbaar om steeds projekte te hê waaraan hulle werk, dink Kaz dis eintlik maar “bitter onregverdig”: “Daar is mense wat duisend keer talentvoller as ek is wat nie die kans het wat ek nou het nie; dit is een ding wat COVID-19 gedoen het, om dit vir ons te wys.”

Wat hulle wel moed gee, is die optimisme waarmee hul jong studente tydens video-oproepe inskakel; gretig om nog oor toneelspel te leer. “Hulle is so passievol,” sê Lara.

“Dit maak nie saak wat gebeur nie, die studente gaan aan, want vir hulle is dit ’n kwessie van: ‘The show will go on.’ En dit gee my hoop vir ’n nuwe geslag akteurs.”