Blake het op Saterdag 26 Mei op Twitter nog ’n lokprent van haar eersdaagse fliek, A Simple Favour, gedeel. 

Dit gaan oor die skielike verdwyning van die hoofkarakter, Emily, wat deur die 30-jarige aktrise vertolk word. 

In die video word gevra “wat het met Emily gebeur” en Blake se man, Ryan Reynolds (41), het in sosiale media aangedring op ’n antwoord. 

Hy het nie net die spot gedryf met sy vrou nie, maar ook ’n vreemde detail oor die geboorte van een van hul twee dogters gedeel. 

“Jy kan vir my sê. Ons is getroud. Jy het my een keer hospitaal toe geneem toe jy in kraam was. So . . . wat de f** het met Emily gebeur?” het hy op Twitter geskryf. 

Die voormalige Gossip Girl-aktrise het teruggekap met ’n gevatte antwoord: “My skat, van al die geheime wat ek van jou weghou, moet hierdie die minste van jou bekommernisse wees . . . glo my.”

Blake het vroeër vandeesmaand opgehou om haar man op Instagram te volg nadat sy haar blad skoongevee het om voorbrand vir die fliek te maak, berig US Weekly

Die Deadpool-akteur het in ’n onderhoud daaroor geskerts. “Dit maak beslis seer. Dis ’n aaklige manier om uit te vind ek is uit die huis geskop. Dis absoluut aaklig. Ek weet nie waar kom woede soos dié vandaan nie.”

Bronne: usmagazine.com, harpersbazaar.com, glamour.com