Maar in werklikheid put Ilne al die vreugde in die wêreld uit haar eie kinders, Hugo (6) en Mila Gabriela (3).

“Enigiemand wat my ontmoet het voor ek kinders gehad het, sal getuig dat my kinders my ’n 110% verander het,” vertel Ilne. “Ek was baie selfbehep en ongeduldig. Ek het altyd die volgende doel, uitdaging of geleentheid nagejaag en was by elke sosiale geleentheid denkbaar. 

“My kinders het my geduld geleer en hoe om onvoorwaardelik lief te hê. Hulle leer my elke dag hoe om vir elke oomblik te lewe. Dit bring soveel vrede en genot na elke dag toe. Hulle is my alles en ek neem hulle met alles wat ek doen en elke besluit wat ek neem in ag. Solank my kinders gelukkig is, is ek gelukkig.”

View this post on Instagram

Indescribable love ?? #workingmombuthomenow #myne

A post shared by @ ilnenienaber on

Sy beskryf haar seuntjie as ’n hoofseun. “Pligsgetrou en baie gehoorsaam. Hy is superskaam en teruggetrokke, hou nie van nuwe situasies nie en geniet meer sy eie huis as dié van sy maatjies. Hy is vir seker ’n introvert en gaan eendag ’n ingenieur of iets word. Hy is saggeaard en empaties, met emmers vol liefde vir sy naastes.

“My dogtertjie is presies die teenoorgestelde. Borrel oor van vreugde en sal enige situasie in ’n konsert of grappie verander. Sy is gek oor haar maatjies, speel ure in haar eie verbeeldingswêreld en pas maklik aan. Sy is my ekstrovert-kind en het ’n hardekwas-geaardheid as sy nie iets wil doen nie. Haar vloermoere so groot soos vyf ander kleuters s’n saam, maar sy skyn lig in ons lewens soos geen ander.”

Sy sê om ’n loopbaan te hê en ma te wees is altyd uitdagend. “Daardie skuldgevoelens as ek laat aande werk en gereeld een of ander geleentheid misloop, gaan nooit weg nie. Ek mis hulle ontsettend baie gedurende die dag, maar gelukkig is ons naweke af en gereeld ’n week of wat saam met die kinders se skole met vakansie."

View this post on Instagram

Monkey bars....

A post shared by @ ilnenienaber on

“My raad aan ander werkende ma’s is: Happy wife, happy life. Doen wat jou gelukkig maak en moenie dat ander mense jou probeer voorsê dis reg of verkeerd nie – hetsy of jy die huis bly of voltyds werk. Jy weet wat is die beste vir jou en jou gesin, en dikwels kan families nie met net een inkomste oor die weg kom nie.”

Sy glo egter daarin dat haarfyn beplanning die antwoord is. “Ek reël my week vooruit tot elke laaste minuut. Die skoolkos, klere, aktiwiteite, vervoer en vermaak word met ’n plan B vergesel. Jou ondersteuningsnetwerk moet ook weet wat om te doen en wanneer om dit te doen. En jy moet jou kinders net liefhê.

“Ondersteun ander mammas en moenie oordeel nie, want ’n ma se lewe is klaar moeilik genoeg. It takes a village to raise a child. Ons moet saam lag en huil en saamstaan om gelukkige, gebalanseerde kinders groot te maak.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.