Dit is nie die eerste keer dat die groot K sy skadu oor haar lewe kom gooi nie. Tog erken die aktrise Shannen Doherty nou: “Ek is vreesbevange.”

Borskanker is die eerste keer in 2015 by die ster van die TV-reekse Beverly Hills, 90210 en Charmed gediagnoseer, maar twee jaar later kon sy tot groot verligting verklaar dit is in remissie en sy is kankervry. Maar nou veg sy opnuut teen borskanker – en dié keer is die stryd nog hewiger.

“Ek is in fase 4,” het die 48-jarige aktrise onlangs in ’n onderhoud met die Amerikaanse nuuskanaal ABC News onthul. Dit beteken die siekte het reeds na ander liggaamsdele versprei. “Ek dink nie ek het dit al verwerk nie,” het sy na aan trane gesê.

“Dit is in verskeie opsigte ’n bitter pil om te sluk. Ek het beslis dae waarop ek vra: ‘Hoekom ek?’ En dan dink ek, wel: ‘Hoekom nie ek nie? Wie anders? Wie anders behalwe ek verdien dit? Niemand.’ ” 

Sy leef al ’n paar maande met die skoknuus saam, maar het eers onlangs besluit om dit bekend te maak omdat dit “binne ’n kwessie van dae of ’n week” aan die lig sou kom, het sy verduidelik.

Die besonderhede oor haar gesondheidstryd word in hofdokumente verstrek wat deel is van ’n voortslepende regstryd tussen haar en ’n versekeraar nadat haar huis in Kalifornië in 2018 weens die rook van ’n veldbrand beskadig is.

Sedertdien is meer as R15 miljoen aan haar uitbetaal, maar sy eis bykomende skadevergoeding. Noudat die saak gereed is om aangehoor te word, het Shannen se regsadviseurs haar gewaarsku sy kan haar jongste kankerdiagnose nie langer geheim hou nie.

“Ek wil liewer hê mense moet dit by my hoor,” het sy gesê. “Ek wil nie hê dit moet verdraai word nie. En ek wil nie hê dit moet in ’n hofdokument wees nie. Ek wil hê dit moet eg en geloofwaardig wees, en ek wil die narratief beheer.”

Ná haar kankerdiagnose in 2015 het Shannen oop kaarte oor haar gesondheid gespeel. Sy het toe ’n enkelmastektomie ondergaan en chemoterapie en bestraling ontvang. Met foto’s, boodskappe en video’s van haar met die hutswoord #cancerslayer het sy haar aanhangers op die hoogte gehou van haar vordering.

Maar met die terugkeer van die kanker het dit maande lank ’n dig bewaarde geheim gebly. En toe die donkerkopaktrise eindelik die sluier daaroor lig, het sy niks verklap oor hoe – en of – dit behandel word nie.

Die skielike dood van Luke Perry, haar Beverly Hills-medester en goeie vriend, in Maart verlede jaar het ’n groot rol gespeel in haar besluit om haar hernude kankerstryd eers geheim te hou.

Hy was 52 toe ’n beroerte sy lewe geëis het. “Dit was so vreemd dat ek siek is en dan sterf iemand wat skynbaar gesond is,” het sy in trane aan ABC News gesê. “Dit was regtig skokkend.”

Vir Shannen, wat jare lank as Brenda Walsh teenoor Luke in die rol van Dylan McKay in die trefferreeks van die 1990’s gespeel het, was sy dood ’n groot slag.

“Luke was ’n slim, stil, nederige en komplekse man met ’n hart van goud en ’n nimmereindigende bron van integriteit en liefde,” het sy aan People gesê.

‘Ek het beslis dae waarop ek vra: Hoekom ek?’

“Hy het tydens my kankerreis na my uitgereik, en ons het dadelik weer gekliek – wel ouer en wyser – maar die band tussen ons het behoue gebly.” Sy dood het ook die deurslag gegee vir haar besluit om wel in die televisiereeks BH90210, ’n nuwe weergawe met ’n kinkel van die oorspronklike Beverly Hills, 90210, te speel. Dit is verlede jaar in Amerika uitgesaai en was tot vandeesmaand by ons op M-Net te sien.

Die meeste van die oorspronklike akteurs in die reeks oor tieners in Beverly Hills het ingestem om daarin te verskyn as ’n fiktiewe weergawe van hulself. Aanvanklik het Shannen daarteen besluit. 

“Ek het niks teen die program nie. Ek het geweet dit sou goed vaar sonder my. Hulle het my nie nodig gehad nie. Op daardie oomblik was dit net nie wat ek wou doen nie,” het sy verduidelik. Maar Luke se dood het haar tot ander insigte gebring.

“Toe hy sterf, het dinge drasties vir my verander, en ek het gevoel dit sou ’n goeie kans wees om hulde aan hom te bring. Ons het op ’n wonderlike reis gegaan waar ons die kans gekry het om te genees nadat ons iemand verloor het wat vir ons almal belangrik was,” sê sy.

Om na die stel terug te keer het vir Shannen ook ’n geleentheid gebied om te wys sy kan ten spyte van haar gesondheidsprobleme aanhou werk. In 2018 het sy haar kommer oor haar loopbaan in die sosiale media gedeel.

“Dit was ’n rowwe twee jaar. Veg teen kanker,” het sy op Facebook geskryf.

“As ’n aktrise sit mense jou op die krukkelys. Hulle neem aan jy is te swak en nie in staat om te werk nie. Tog is dit iets soos werk wat jou nuwe krag gee om die onbegryplike monster te oorwin.”

In die ABC-onderhoud het sy verduidelik: “Een van die redes, afgesien van Luke, waarom ek BH90210 gedoen het en niemand vertel het (van die kanker) nie, was dat ek bekommerd was hulle sou my op die krukkelys sit.” Mense met fase 4-kanker kan ook werk, voeg sy by.

“Ons lewe eindig nie die oomblik dat ons die diagnose kry nie.”

Die donker wolk van haar kankerstryd het ’n onverwagte silwer randjie opgelewer. In Augustus het Shannen vertel dit het haar huwelik met die fotograaf Kurt Iswarienko ten goede verander. Hulle is in 2011 getroud. “Kanker het ons versterk,” het sy aan People gesê.

“Ek en Kurt het nou ’n veel dieper waardering vir mekaar. Dis nie dat ons huwelik nie voorheen goed was nie. Maar ons het beslis groeipyne gehad. Ons sou koppe stamp oor dinge, en pleks daarvan dat ons dit uitstryk, het ons ’n paar dae nie met mekaar gepraat nie.”

Sedert haar diagnose het hulle nog nie kwaad vir mekaar gaan slaap nie. Met so ’n siekte is dit nie net die pasiënt wat swaarkry nie, benadruk sy. “Enigiemand wat dink ál mens wat deur kanker verander word, is die een met kanker, is verkeerd,” sê sy.

“Kanker verander die mense in jou lewe. En dit het ons albei gevorm.”

Dit was vir haar moeilik om haar lyf ná kanker en ’n mastektomie te aanvaar, maar Kurt het haar daarmee gehelp. “Hy het my laat besef ek hoef nie ’n sekskatjie te wees nie. Hoe Kurt my sien, help my regtig om ’n beter mens te wees.

View this post on Instagram

I love my husband. @kurtiswarienko

A post shared by ShannenDoherty (@theshando) on

“Hy het altyd gesê: ‘Ek het nog nooit iemand iets so moeiliks met soveel grasie sien hanteer nie. Jy is sterk.’ Ek het uitgepluis dit is ’n stille krag. En dis veel sexier en aanlokliker as wat ek voorheen was.”

Shannen is daarvan bewus dat haar kankerstryd veel feller is noudat sy in fase 4 is. Tydens die ABC-onderhoud het sy haar man as ’n “ongelooflik sterk, dapper mens” beskryf. Toe sy byvoeg: “Maar ek bekommer my oor hom,” kon sy nie die trane keer nie.

Tog het sy al gesê haar kankerdiagnose het haar ’n nuwe soort krag help vind.

“Ek het vrouliker en kwesbaarder gevoel as wat ek in my hele lewe gevoel het. Ek het ook meer tyd gehad om na myself te kyk en te sê: ‘Ek is ’n taamlik oukei mens’ en myself nie so streng te beoordeel nie. Dis oukei om te struikel.”

Bronne: people.com, bbc.com, health.com, abcnews.go.com