Sandi en Laszlo was al byna 16 jaar saam. Hulle he
Sandi en Laszlo was al byna 16 jaar saam. Hulle het mekaar in Amerika ontmoet. Foto: Instagram/@cyber.sass.

En om hom te gedenk het sy vriende ’n witgeverfde fiets op sy gunstelingplek gaan sit om sy nalatenskap te eer.

“Twee maande gelede het dit waarskynlik beter gegaan as nou,” erken die gewilde aktrise. “Dit is nou ses maande. Ons moes sy roomysonderneming prysgee, die kombuis toemaak. Dit was maar erg die afgelope paar weke.”

Laszlo wat oorspronklik van Hongarye is, is op 26 Mei dood, nadat hy nege dae tevore tydens ’n fietsrit saam met twee vriende ’n hartaanval gekry het.

Sandi en Laszlo. Foto: Instagram/@cyber.sass
Sandi en Laszlo. Foto: Instagram/@cyber.sass

Hy het lank in die filmbedryf gewerk, maar 18 maande voor sy dood het hy ’n roomysonderneming saam met ’n vriend begin.

Sy groep fietsryvriende het besluit om ’n witgeverfde ou fiets te gaan sit by die uitkykpunt naby Melville in Johannesburg waar Laszlo graag ’n selfie geneem het tydens hul ritte. Hulle het ook van sy as daar gestrooi.

“Dit was ongelooflik roerend, maar ook emosioneel,” vertel Sandi. “Dit is ook net ’n bewys van die soort mens wat hy was.

"Dat hy vriende gehad het wat so iets vir hom sal doen. Dit was beautiful, maar emosioneel.”

Sandi is veral bekend vir haar rol as Binnelanders se dr. Jennifer Adams, wat sy van 2005 tot 2013 in dié kykNET-sepie vertolk het. Sy was onlangs ook te sien as brig. Rosa Scheffers in Die spreeus, ’n kykNET-rillerreeks en in Trackers op M-Net as Janina Mentz.

Sy pak die rouproses op haar eie manier aan, vertel Sandi. “Een van my vriendinne het vir my die onderhoud van die skrywer Elizabeth Gilbert aangestuur waarin sy praat oor toe sy haar maat verloor het.

"Dit kom daarop neer dat sy sê: You need to let grief have her way with you

“Dit is wat ek besluit het om te doen. Ek gaan nie teen die hartseer baklei nie, ek gaan nie maak of ek beter voel as wat ek voel nie. As ek nie oukei is nie, is ek nie.

"I need to let grief have her way with me. Sodat ek eindelik met my lewe kan aangaan.”

Sandi het pas in Kaapstad aangekom vir ’n nuwe projek waaraan sy werk, en volgende jaar is daar nog werkgeleenthede in die pyplyn, maar sy kan in dié stadium nie meer verklap nie. 

“Dis die ironie, die lewe gaan aan. Dit voel miskien of dit eindig, maar die lewe gaan aan.

"Soms is ek fine en ander keer is ek nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe