“Ek is gebore in Namibië, maar ek moet bieg: om ’n landsvlag-tatoe te kry was ’n redelike onlangse een,” vertel Je-ani aan Huisgenoot. 

Die aktrise het later ’n foto van haar jongste tatoe met haar 45 200 Instagram-volgelinge gedeel en geskryf: “Hierdie was bitter seer, maar absoluut die moeite werd.”

Je-ani spog nou met drie tatoes. “My tatoes beteken gewoonlik iets en simboliseer gedeeltes van my lewe wat vir my belangrik is. Ek wou wel lank terug ’n tatoe kry wat Afrika voorstel, maar moes eers ’n manier kry om Namibië daarin te laat uitbeeld,” vertel sy. 

Volgens die aktrise wil sy graag ’n tatoe hê vir elke 10 jaar wat sy op aarde is. “My eerste een was ’n klapbord wat my werk simboliseer en die tweede een was ’n African Grey stertveer om my geliefde papegaai, Jumangi, voor te stel,” sê sy. 

Je-ani probeer om gereeld na haar geboorteland terug te keer al laat haar werk dit nie altyd toe nie. Die aktrise sien veral uit daarna om Kersfees in Namibië te vier en sê dit verskil nie veel van ’n Kersfees in die res van Suider-Afrika nie. “Ons mense omring onsself ook met familie, sonskyn, die buitelug, braai, goeie geselskap en lekker feesvieringe,” sê sy. 

BINNELANDERS:  TROUE VAN DIE JAAR

Dis ook ’n opwindende tyd vir Je-ani se karakter, Naomi, in die hospitaaldramareeks Binnelanders wat eindelik met Louis Koster (Germandt Geldenhuys) trou. Die paartjie het in 2019 baie uitdagings in die gesig gestaar, soos toe hulle vroeër vanjaar uitgevind het dat hulle nooit sal kinders hê nie. 

Naomi en Louis gaan op Vrydag 13 Desember uiteindelik voor die kansel beland en ewige trou aan mekaar beloof, maar dinge gaan nie verloop soos wat dit moet nie. 

“Tussen die something borrowed, something blue is daar ook something old and something new,” sê Ernst Swart, Binnelanders se publisiteitsbestuurder. 

“Die broers Jonas (Jacques Gombault) en Esra (Francois Jacobs van Vir die voëls-faam) is weer terug in Pretoria, en hierdie keer het hulle ’n ou bekende speelmaat saam gebring. Dennis (Irvine van der Merwe) het ’n paar jaar terug vir Lexi (Kisha Skeï) gebruik as ’n dwelmmuil . . . en nou is hy kop in een mus met die broers om wraak te neem op At Koster (Hans Strydom).

“Dié nagmerrie-trio se plan is gemik op Louis Koster – en ons kan net hoop dat die voorbodes van Vrydag die dertiende nie bewaarheid sal word op die dag nie!”