Met oe’s en aa’s wat wêreldwyd opklink, het die prinses voor die flitsende kameras uit die bruidsmotor geklim.

Dis altyd ’n groot geleentheid wanneer ’n prinses trou, maar dié spesifieke een het ’n geskiedenis van gruwelike modeflaters – so wat sou Eugenie op haar mooiste dag dra?

En daar verras koningin Elizabeth se kleindogter almal toe in ’n trourok wat so asemrowend was dat dit selfs kon kers opsteek by dié van vanjaar se ander beroemde bruid, die beeldskone Meghan Markle, wat in Mei vanjaar met prins Harry getroud is.

Die lieflike, swaar materiaal wat spesiaal vir Eugenie (28) se trourok geweef is, het vleiend om haar gevou en in ’n waterval agter haar aangesleep en sy het – moontlik vir die eerste keer– nes ’n ware prinses uit ’n storieboek gelyk.

Jack en Eugenie het voor 850 gaste ewige trou aan mekaar beloof. Foto: Gallo Images/Getty Images

Al wat haar oorstelpte bruidegom kon uitkry toe hy haar in die paadjie na die kansel sien afstap, was: “O, my hart! O, breek my hart.”

Die sakeman Jack Brooksbank (32) het vooraf reeds ’n paar trane onder sy bril afgevee waar hy voor die kansel langs sy strooijonker en broer, Tom, op sy prinses staan en wag het.

Toe sy bruid langs hom kom staan en hy haar weer verwonderd aankyk, het hy die woorde beaam van die toeskouers buite die kerk en kykers en mode-ontwerpers oor die wêreld heen: “Jy lyk volmaak.”

Dit was die eerste keer ooit dat twee koninklike troues binne een jaar in die St. George-kapel plaasgevind het. Kritici het vooraf beswaar gemaak toe dit aan die lig kom prinses Eugenie se troue sal ’n uithanggeleentheid wees – sy is net die negende aanspraakmaker op die troon en nie ’n “werkende” koninklike wat as deel van haar pligte amptelike geleenthede hoef by te woon nie.

Rob van Helden, wat vir die blomme by wyle prinses Margaret se 70ste verjaardag sowel as Elton John se troue verantwoordelik was, het blare en blomtakke uit Windsorpark gebruik en dit in die ruikers en rangskikkings gemeng met rose, da­hlias, bessies en krismisrose. Foto; Gallo Images/Getty Images

Eugenie werk by ’n kunsgalery in Londen en Jack vir ’n tequilamaatskappy wat voorheen aan die akteur George Clooney behoort het – hoe sou dié tweetjies tog self die groot uitgawes vir hul spogtroue bekostig?

Die sekuriteit alleen sou sowat R38 miljoen kos, is gegis. Maar die paleis het aangedui die grootste gedeelte van die koste vir die viering van twee dae sal uit prins Andrew, Eugenie se pa, se privaat inkomste gedek word.

Prins Andrew saam met sy dogter. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Rubriekskrywer van die Britse koerant The Independent, Holly Baxter, meen: “As sy regtig vir die Britse publiek omgegee het, sou sy nie op ’n oordadige troue besluit het nie. “Miskien sou sy daardie geld dan in die staatskoffers gehou het.”

Prins Andrew wou niks van die kritiek weet nie. Volgens die Britse Sunday Times het hy daarop aangedring dat sy dogter ’n troue kry wat gepas is vir die kleindogter van die koningin.

Die pasgetroudes wuif vir die skare. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy het sy sin gekry en Eugenie het eindelik 250 meer gaste as Harry en Meghan na die seremonie in die kapel genooi. Nog ’n Britse rubriekskrywer, Amanda Platell, het ná die tyd gekla oor die Hollywoodsterre wat teenwoordig was: “Party is beroemder vir hul drank- en dwelmgewoontes as enigiets anders.”

Maar ondanks die gemor van kritici was die pragtroue soos iets uit ’n sprokie, en nie eens die sterk wind buite die kapel kon die gees van liefde en geluk demp nie.

En toe Eugenie en Jack deur die strate van Windsor ry in ’n koets byna soos die een wat Meghan en prins Harry op hul groot dag gebruik het, het die toeskouers langs die strate vrolik vir die bruidegom en prinses gewuif. Dié keer het die prinses haar held én haar sin gekry.

Die ring, rok en tiara

Jack het ’n troupand van Walliese goud aan Eugenie se vinger geglip. Koningin Elizabeth het die tradisie begin toe sy in 1923 Walliese goud gekies het. Nes prins William het Jack gekies om nie ’n trouring te dra nie. Prins Harry dra wel een.

Die paartjie het smoorverlief gelyk op hul groot dag. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die rok wat eindelik aan Eugenie stylpunte besorg het, was ’n skepping deur die Londense ontwerpspan Peter Pilotto en Christopher de Vos.

Dit het ’n diep V agter waarmee Eugenie haar operasiemerk wou wys om te “bewys daar is geen stigma of skande” aan ’n litteken nie.

Sy is op 12 vir skoliose geopereer en vandag is sy ’n beskermvrou van die Royal National Orthopaedic-hospitaal in Londen waar die operasie destyds uitgevoer is.

Haar rok, deur Peter Pilotto en Christo­pher de Vos, het haar litteteken vertoon. Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Reuters

Die rok se materiaal het motiewe ingesluit wat vir die egpaar betekenisvol is, onder meer ’n Skotse dissel, ’n Ierse klawer, ’n Engelse roos en ’n klimop wat hul huis, die Ivy Cottage, by die Kensingtonpaleis verteenwoordig.

Die Greville Emerald Kokoshnik-tiara is deur die koningin aan haar geleen. Dit bestaan uit diamante en smaragde wat in platinum geset is. Die diamant-en-smarag-oorbelle was ’n geskenk van Jack.

Die egpaar se eerste soen. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die trougevolg

AGTER: Van links is Thomas, Nicola, George en Jack Brooksbank, prinses Eugenie, prinses Beatrice, Sarah, die hertogin van York, en prins Andrew. VOOR: Van links is Theodora Williams, Mia Tindall, prins George, prinses Charlotte, koningin Elizabeth, prins Philip, Maud Windsor, Isla Phillips, Louis de Givenchy en Savannah Phillips. Buckingham Palace/Alex Bramall

Die bruidsmeisie

Prinses Beatrice Foto: Gallo Images/Getty Images

Niemand was verras dat Eugenie haar enigste suster gekies het nie.

“Sy’s my ousus – ek sien al my hele lewe op na haar,” het Eugenie vroeër aan ITV gesê en bygevoeg dat dit vir haar ’n groot eer is dat sy ingestem het “om die taak te verrig”.

Wat wel verrassend was, is hoe min takies prinses Beatrice toe op die groot dag uitgevoer het.

Pa Andrew moes voor en ná die seremonie sy dogter se bruidsleep regtrek en die arme 14-jarige lady Louise Mountbatten-Windsor moes die kleintjies by die kerktrap op help en hand bysit toe een struikel en val.

Dalk was dit Beatrice se taak om ma Fergie te beskerm teen ander lede van die koninklike familie wat glo steeds nie veel ooghare vir haar het nie...

Die blommemeisies en hofknapies

Foto: Gallo Images/Getty Images

Die kleingoed het harte vermurwe met hul oulike streke. Prins George (5) en kleinsus prinses Charlotte (3) was weer deel van die gevolg.

Hul kleinniggie Savannah Phillips (7), dogter van prinses Anne se seun, Peter Phillips, en sy vrou, Autumn, het ’n ogie oor hulle gehou.

Haar kleinsus, Isla (6), was ook by asook Maud Windsor (5), Eugenie se peetdogter, Theodora Williams (6), Robbie Williams se dogter, en Louis de Givenchy (6), die seun van ’n Franse bankier.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Prins Edward se kinders, die 14-jarige lady Louise en burggraaf James (10), het ook hand bygesit. Die een wat egter weer die kollig gesteel het, was kleinnig Mia Tindall (4), dogter van prinses Anne se dogter, Zara Tindall, en haar man, die oudrugbyspeler Mike Tindall.

Dié onnut het dikmond en verveeld tussen al die ander kindertjies gesit en aan haar speelding bly vasklou.

Die onthaal

Die koningin het die middagonthaal in die Windsorkasteel aangebied en daarna het die aand se deftige ete by die Royal Lodge in Windsor gevolg. Die volgende dag het die gaste weer toegesak op die Royal Lodge, prins Andrew se amptelike woning.

Hier kon hulle soos kinders op mallemeulens baljaar en ander pretparklekkertes geniet.

Die aandrok

Amper nog mooier as haar trourok was die aandrok wat Eugenie na die aandonthaal gedra het.

Die skepping deur die Amerikaanse ontwerper Zac Posen was van bloospienk sy en het kompleet gelyk soos iets wat ’n Hollywoodgodin uit die 1930’s sou dra.

Jack en prinses Eugenie op pad na die aandonthaal by die Royal Lodge. Prinses Eugenie se tweede rok deur die ontwerper Zac Posen was amper selfs mooier as haar trourok. Foto: Buckingham Palace/Alex Bramall

Fergie is terug!

Die hertogin van York (59) is sedert haar egskeiding van prins Andrew 22 jaar gelede nie eintlik op die koninklike gastelys nie.

Sy het darem net te veel skandes gemaak, van die bostuklose gelê in die son tot haar destydse minnaar, John Bryan, wat haar toon gesuig het – en dit alles voor die gekliek van steelfotograwe se kameras.

Die hertogin van York. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar Fergie en Andrew leef deesdae in vrede saam met mekaar en deel selfs hul woonplek in Royal Lodge sowel as ’n luukse chalet in Verbier, Switserland.

Die koningin en prins Philip het glo nie dieselfde toegeneentheid as hul seun teenoor sy rooikop-eks nie, maar toe Fergie in ’n groen tabberd en hoed opdaag en haar plek in die voorste gestoeltes inneem, het hulle dit uitdrukkingloos aanskou.

Prinses Beatrice en haar ma. Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe Fergie in die kerk in- en uitstap, het sy vrolik vir die toeskouers gewaai – nes enige ander ma van die bruid. Want met Eugenie se groot dag, kon ook sy weer die oomblik in die kollig kry waarop sy al so lank wag.

Die beroemde gaste

Lank laas was so baie modelle, akteurs, sangers en koninklikes onder een dak, oftewel katedraalkoepel, bymekaar.

Die aktrises Demi Moore en Liv Tyler, die modelle Naomi Campbell, Kate Moss en Cara en sus Poppy Delevingne, die sangers Ricky Martin, James Blunt en Robbie Williams . . . noem maar op.

Robbie Williams en Ayda Field Foto: Gallo Images/Getty Images
Sofia Wellesley en James Blunt Foto: Gallo Images/Getty Images
Liv Tyler, Dave Gardner, Kate Moss en haar dogter, Lila Moss Foto: Gallo Images/Getty Images
Cressida Bonas Foto: Gallo Images/Getty Images
Chelsy Davy Foto: Gallo Images/Getty Images
Pippa Middleton Foto: Gallo Images/Getty Images

Laasgenoemde het glo op die onthaal spontaan weggetrek met sy trefferliedjie Angels.

Twee van prins Harry se eksmeisies, Chelsy Davy en Cressida Bonas, was daar asook die hoogswanger Pippa Middleton, suster van Kate.

Bronne: Express.co.uk, Cosmopolitan.com, DailyMail.co.uk, TownAndCountry, Vogue.co.uk, HelloMagazine.com, Telegraph.co.ukPeople.com