Dit was ’n naweek gevul met glinster en glans by die Val de Vie-landgoed buite Paarl tydens vanjaar se Cintron Pink Polo-geleentheid. Die sterbelaaide geleentheid, wat vanjaar vir die negende keer gehou is, word gedoen om bewusmaking oor borskanker te bevorder.

Plaaslike bekendes was behoorlik opgetof vir die geleentheid en tussen die vonkelwyn en kos, was daar natuurlik ook ’n polo-toernooi om te kyk.

’n Deel van die geld wat ingesamel word met kaartjieverkope word geskenk vir organisasies wat werk met mense wie se lewens deur kanker geraak word, maar die byeenkoms word ook gebruik om groter bewusmaking oor borskanker te bevorder.

Vanjaar se gasvrou was niemand anders nie as ons voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss. Sy het die verhoog met die Expresso-aanbieder Katlego Maboe gedeel. 

Ons het by stylkonsultant Aletté-Johanni Winckler gaan hoor wat sy van van die bekendes se uitrustings gedink het. 

Rolene Strauss (voormalige Mej. Wêreld):

"Kyk, Rolene het die koppe laat draai met haar elegante, tydlose, indrukwekkende, asemrowende, Elrico Zarr uitrusting," sê Aletté-Johanni. "Polkadot is só in die mode op die oomblik en swart en wit sal altyd klassiek wees. Sy het van kop tot toon eksieperfeksie gelyk."

Minki van der Westhuizen (televisieaanbieder en glanspersoonlikheid):

Minki se eenstuk van die ontwerper Lena Lisa was snak-na-jou-asem mooi, sê Aletté-Johanni. "Natuurlik help dit dat sy die perfekte lyf het om in daardie pakkie te sit. Ek hou van die feit dat sy die tema (en kleurskema) van die geleentheid in gedagte gehou het met 'pienk, smaraggroen en goud'. Sy kry volpunte by my."


Donnalee Roberts (aktrise en vervaardiger):

"Met haar pragtige perdebylyf in daardie Lena Lisa uitrusting kon sy maar weer en weer ‘best dressed’ gewen het," meen Aletté-Johanni. "Donnalee se broekpak het haar lyf soos ’n handskoen gepas. Dit het die goud in die tema verteenwoordig en dit was stylvol dog gemaklik en het amper daardie strandtroue gevoel gegee."

Marciel Hopkins (model):

Volgens Aletté-Johanni het Marciel behoorlik geskitter in haar helder pink Lena Lisa rok. "Ek dink dit was baie vroulik, sexy, vlyend en lekker koel vir die warm dag. Die gaasmateriaal aan die bostuk gee die illusie dat daar nie eintlik lap is nie en dit lyk baie sensueel."

Christi Panagio (televisieaanbieder en aktrise):

"Ek is so dol oor Christi se vermoë om haarself uit te druk, wonderlik te lyk én terselfdertyd gemaklik te wees," sê Aletté-Johanni. "Sy hoef nooit hard te probeer nie. Gooi net daai mooi lang bene in ’n kort rokkie of broek met ’n plat skoen en sy lyk modieus, speels, sexy en pragtig."

Elana Afrika-Bredenkamp (aktrise en radio-omroeper):

"Ek is mal oor Elana! Met elke kind wat sy kry word sy vir my net mooier en mooier," vertel Aletté-Johanni. "Ek dink Elana se uitrusting met die gepaardgaande hoed was baie gepas vir die geleentheid. Jy kon haar van kop tot tone deur ’n ring trek, maar as jy met haar praat is dit asof sy die uitrusting in minute aanmekaar gesit het. Sy is ’n gebore ster en gemaak om uit te staan."