As jy in die spieël kyk en die gesig wat na jou terugkyk, is opgeswel en effens rooi, is dit genoeg om jou in koue sweet te laat uitslaan. Nog soveel te meer as jy ’n aktrise is wat binne ’n paar uur op die stel moet wees om tonele vir ’n dramareeks te verfilm. 

Dít is presies wat onlangs met die aktrise Dorette Potgieter gebeur het. 

Dorette, wat verlede week besig was met die verfilming van Swartwater 3 in Johannesburg, het ’n nuwe gesigroom beproef voor sy Woensdagaand bed toe is. 

“My gesigroom was op en my velsorgkliniek in die Kaap het geen van die spesifieke gesigroom in voorraad gehad voor ons Johannesburg toe moes vlieg nie,” vertel sy oor die voorval. 

“Ek was van plan om my gesigroom in Johannesburg te vervang. Ons (sy en haar dogter, Lia Luna Li) kuier by vriende se huis. In die badkamer was ’n geseëlde gesigroom met die woorde ‘smoothing day cream’ van ’n bekende internasionale handelsmerk,” vertel Dorette. 

Dorette se gesig Woensdagmiddag. Foto: Verskaf
Dorette Potgieter se gesig Woensdagmiddag. Foto: Verskaf

Sy het toe besluit om maar vir eers dié gesigroom te beproef. 

“Niksvermoedend is ek Woensdagaand bed toe met ’n bietjie van dié gesigroom as lafenis in die droë hitte van Johannesburg,” vertel sy. 

Dorette het boonop vroeg gaan inkruip omdat sy Donderdagoggend om 04:30 reeds moes opstaan sodat sy gereed kon wees om 05:00 na die stel te vertrek. 

“Toe my wekker 04:30 afgaan en ek in die badkamer instap, besef ek iets skort . . . My hele gesig was opgeswel. Ek kon skaars sien! 

“As ons besig was met Monster 2, sou dit seker help, maar vir Annalien Steyn in Swartwater 3 sou dit nie deug nie,” sê sy oor die gesig wat haar vroegoggend in die spieël begroet het. 

Sy meen sy het ’n sensitiewe vel en het voorheen ’n reaksie gehad op gesigrome wat sekere aktiewe bestanddele bevat.

“Maar dis gewoonlik ’n onmiddellike reaksie of tintelende sensasie as waarskuwing,” sê sy. 

Dorette het dadelik die reeks se produksiebestuurder wakker gebel en foto’s van haar opgeswelde gesig gestuur. 

Teen Donderdagoggend was haar gesig geswel en effe
Teen Donderdagoggend was haar gesig geswel en effens rooi. Foto: Verskaf

“Om op die ouderdom van 47 dié klas van les te leer is ’n verleentheid, maar in die vermaakwêreld sê ons altyd ‘the show must go on’,” sê Dorette verder. 

So is sy toe steeds eindelik stel toe, waar paramedici haar bygestaan het. 

“Ek het my dermatoloog wakker gebel om te bevestig dat ek ’n geskeduleerde antihistamien kon gebruik saam met ’n room,” vertel Dorette.

Teen 08:00 het die medikasie begin werk. Die produksiespan het tonele vir die dag rondgeskuif sodat Dorette huis toe kon gaan om te rus. 

Teen Vrydagoggend het sy aansienlik beter gelyk.

Dorette Potgieter het Vrydagmiddag aansienlik bete
Dorette het Vrydagmiddag aansienlik beter gelyk en kon voortgaan met verfilming van die dramareeks Swartwater 3. Foto: Verskaf

“Ons kon al my geskeduleerde tonele klaar skiet al was my gesig nog geswel. Ek is dankbaar vir hoe almal gehelp het om die onvoorsiene omstandighede te verwerk,” sê Dorette. 

“Om so in die gesig gevat te word deur jou eie toedoen is nie maklik om te verwerk nie, maar wat ons nie doodmaak nie ,maak ons sterker,” voeg sy by.

En ja, sy het sommer dadelik die volgende dag haar gewone gesigroom in 'n winkelsentrum gaan soek.

Dorette is tans ook die stem van Begum in die oorgeklankte Turkse televisiereeks Deur dik en dun asook Ayse in Elif, wat albei op e.tv uitgesaai word.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe