Toe Sean-Marco Vorster kort voor die verfilming van die fliek Vergeet My Nie kaalbolyffoto’s van die jong Hugo Derks met sy spiere en blokkiesmaag sien, het die akteur besef harde werk lê voor – hy moes gewig afskud vir die tonele waarin hy nie ’n hemp dra nie.

“Ek was nervous toe ek sy lyf sien,” erken Sean-Marco, wat die rol van Hugo in Huisgenoot en kykNET se nuwe fliek vertolk.

Dit word volgende jaar uitgereik. Dié goedvoelfliek is deur die ware liefdesverhaal geïnspireer van Hugo en Mardaleen Derks van Gobabis in Namibië en die kronkelpaaie wat hul verhouding in die 1990’s gestap het.

Sean Marco, agter die skerms
Die akteur en Margue­rite van Eeden, wat Mardaleen Derks speel. Foto: Misha Jordaan

Om as’t ware in die jong Hugo se vel te klim, het Sean-Marco (27) in die twee maande voor die kameras begin draai het saam met ’n persoonlike afrigter geoefen.

“Ek het ook gesonder geëet – jy weet, soos hoender in water gebraai, sonder souse, en daai soort goed.”

Met ’n laggie erken hy: “Ek het voor die verfilming anders gelyk; dis ’n opwindende uitdaging om as deel van ’n rol in shape te kom.”

En dis nie net sy lyf wat deesdae anders lyk nie. Terwyl Nico, sy karakter in die nuwe kykNET-reeks Alles Malan, ’n skoon gesig het, spog Sean-Marco vandag met ’n stewige baard.

View this post on Instagram

#allesmalan vanaand op @kyknettv ??

A post shared by S e a n - M a r c o (@seanmarcov) on

Dit het hom twee maande gekos om die tamaai baard te kweek wat Hugo in sommige tonele van Vergeet My Nie het. Sean-Marco is pas terug in Suid-Afrika nadat hy die afgelope paar weke in Namibië en Engeland tonele vir die fliek geskiet het.

Vroeër vanjaar het die span ook tonele in Potchefstroom en Johannesburg verfilm. Al het Sean-Marco al ’n rits rolle vertolk – onder meer in die flieks Die Windpomp, Strikdas en Susters – verskyn hy in Vergeet My Nie in sy eerste hoofrol.

Dit is ook die eerste keer dat hy iemand uitbeeld wat regtig leef.

“Dis nogal senutergend, want die mens bestaan en kyk na jou spel,” verduidelik hy.

Gelukkig kon hy ’n paar ooreenkomste tussen hom en Hugo vind, en hy het Hugo, ’n boer, ontmoet toe die span in Namibië was.

Die twee het goed oor die weg gekom en lekker gesels. Nes Hugo skop Sean-Marco sy skoene graag uit.

“As ek kan kaalvoet loop, sal ek!”

Vir Sean-Marco was dit “prettig” om die rol van Nico in Alles Malan te vertolk. Sy karakter is die jongste Malan-seun, ’n loskop wat nie altyd seker is oor wat hy in die lewe wil hê nie.

Hugo is heeltemal anders, vertel Sean-Marco. “Hy is plat-op-die-aarde, rustig en weet wat hy wil hê. In daardie opsig verskil ons van mekaar, want ek is nogal all over the show en vat ’n ding soos dit kom.”

Dit was juis Hugo se karakter wat hom na die rol aangetrek het.

“Ek bewonder sy sin vir menswees en die manier hoe hy Mardaleen behandel het. Hugo en Mardaleen se storie strek verder as net die gewone ‘man en vrou wat by mekaar uitkom’. Dis ’n liefdesverhaal met diepte,” sê hy.

Sean Marco, agter die skerms
Sean-­Marco en die regisseur, André Velts. Foto: Misha Jordaan

Die rol van Mardaleen word deur Marguerite van Eeden vertolk. Sy was voorheen in onder meer die fliek Vaselinetjie te sien.

“Marguerite het soveel diepte aan haar rol gegee. Dit was fantasties om teenoor haar te speel,” vertel die akteur.

Toevallig was Marguerite, wat in 2015 aan die Hoër Meisieskool La Rochelle gematrikuleer het, en Sean-Marco albei in die Paarl op hoërskool.

Sy was nog op laerskool toe hy in matriek was. Hy was saam met haar neefs op skool, en die gemeenskaplike bande wat hulle deel, het gehelp om dadelik die gemak en vonk na die silwerdoek te bring, sê Sean-Marco.

Toneelspel is sy eerste liefde, maar Sean-Marco is ook uitvoerende direkteur van Afrique de Shoot, ’n onderneming wat advertensies in Afrikalande soos Nigerië, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Tanzanië vervaardig.

“Ek het besef om goed geld te maak uit toneelspel, moet jy dikwels ja sê vir elke rol wat oor jou pad kom. Ek wil graag rolle vertolk wat my regtig aantrek, vir die liefde vir die kuns, sonder die finansiële druk; daarom is dit vir my belangrik om my passie vir toneelspel en hoe ek ’n inkomste verdien van mekaar te skei,” sê hy.

Grootwordjare

Hy woon in Kaapstad, maar sy werk neem hom gedurig dwars-oor die vasteland heen. Hy het in Durbanville noord van die Moederstad grootgeword en was aan die Laerskool Eversdal en die Hoër Jongenskool Paarl op skool.

Sean Marco, agter die skerms
Sean-Marco en Marguerite by die regte Mardaleen en Hugo Derks van Gobabis in Namibië. Die Derkse se liefdesverhaal het die fliek Vergeet My Nie geïnspireer. Foto: Misha Jordaan

Sy kinderjare was vol fietsryavonture, kleilat, rugby en kriekettoere. Sean-Marco het kleintyd al persoonlikhede nageboots in die animasieprente waarna hy gekyk het.

Hy is dankbaar dat sy ma, Corine Rossouw, wat as IT-sakeontleder werk, hom en sy sibbes die kans gegee het om so lank moontlik kind te bly, vertel hy.

Sy broer, René (25), studeer rekenaarprogrammering in Kaapstad en hul 20-jarige suster, Chané, beplan om eersdaags kinderterapie in Duitsland te studeer.

“Ek was stout, maar dit was nooit ’n kwaad stout nie. Ons drie kinders het altyd boundaries ge-push en gekyk waar ons die werklikheid kan buig. Dit was hoe ons probeer uitpluis het waar ons onsself in die lewe plaas.”

Van jongs af was hy vasbeslote om iets merkwaardigs met sy lewe te doen.

“My pa het nou die dag vir my ’n verjaardagkaartjie gewys wat ek as kind vir hom geskryf het. Ek het my handtekening daarin gemaak en geskryf dat dit eendag nog baie gaan beteken,” onthou Sean-Marco.

Sy pa, Sarel Vorster, is ’n grasboer.

Die toneelgogga

Die toneelgogga het in sy hoërskooljare gebyt.

“Dit het my geboei om myself in te leef in ’n karakter wat ek nie eens ken nie.”

Nadat hy in 2009 gematrikuleer het, het hy aan die drama-en-filmskool AFDA se Kaapstad-kampus studeer, waar hy in regie en teksskryf gespesialiseer het.

Sy fliekrolle sou volg, en hy was ook aanbieder van die SABC3-reeks NAweek en die SABC2-leefstylprogram Pasella.

Met die verfilming van Vergeet My Nie in Londen kon Sean-Marco tyd deurbring saam met sy meisie, Jana-Skye Beukman (22), wat modelwerk in Engeland doen.

Vir Sean-Marco was dit die lekkerste om ná ’n dag se verfilming sy skoene uit te skop en kaalvoet iewers saam met Jana in een van Londen se mooi parke uit te span.

Hy was dadelik verlief toe hy haar twee jaar gelede op ’n partytjie gewaar, erken hy. Hy het met haar gesels en “toe volg ’n lang proses waarna sy eindelik vir my ’n kans gegee het”. 

Byna nes dit was met Hugo en Mardaleen . . .

Meer oor die fliek
  • Vergeet My Nie word op Valentynsdag 2020 uitgereik.
  • Die fliek is deur die ware liefdesverhaal van Hugo en Mardaleen Derks geïnspireer en vir die grootskerm verwerk met die samewerking van Huisgenoot en kykNET.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.