Slim skuif

Noah Centineo (22) is in Florida, Amerika, gebore en is van Italiaanse en Duitse afkoms. Op 16 het hy na Los Angeles verhuis om sy akteursdroom na te jaag. Vandag is hy te sien in amper al wat ’n romantiese tienerfliek is – natuurlik as die oulike hartebreker!

Disneyprins

Noah het al gesig gewys in talle Disney Channel-­reekse soos Austin & Ally, Shake It Up en Jessie.

Hy was ook die karakter Jaden Stark in How to Build a Better Boy, ’n fliek wat deur dié kanaal gemaak is.

Musiekvideoster

Sy aanhangers sal Noah onthou as die sangeres Camila Cabello (21) se liefdesbelangstelling in die musiek­video vir haar trefferliedjie Havana. “Ek is dol oor die liedjie. Ek is 100%  in,” was sy reaksie toe sy bestuurder hom bel om te vra of hy in Camila se video wil wees.

Kupido

Hy gee alte graag sy aanhangers in die sosiale media raad oor die liefde. Een wou juis onlangs weet wat jy moet doen as jou liefie jou gelos en jou hart gebreek het.

“Fokus op jou. Herontdek jouself en doen die dinge waarvan jy hou, wat jou gelukkig maak, jou bemagtig en inspireer.”

Daai litteken

Die tienerster se aanhangers is gaande oor sy litteken aan die linkerkant van sy mond. Hy het dié merk op ses gekry toe ’n hond hom gebyt het.

“‘Hy het ’n gat in my gesig geskeur sodat jy my tande, tand­vleis en regdeur my mond kon sien.”

Eina!

Netflix-koning

In Augustus vanjaar was hy te sien in twee gewilde Netflix-­tienerprente: To All the Boys I’ve Loved Before en Sierra Burgess Is a Loser.

Hy sal ook einde volgende jaar op die ?silwerdoek ’n draai maak in die nuwe Charlie’s Angels-fliek wat dan ver­skyn.