Kykers van die Netflix-reeks The Crown is geboei deur die onstuimige verhouding tussen koningin Elizabeth en haar jonger suster, prinses Margaret.

’n Nuwe boek werp lig op die koningin se suster en wys hoe haar koninklike titel en voorregte, ’n oormaat vrye tyd en weinig om haar mee besig te hou haar in ’n eiegeregtige snob verander het wat prikkelbaarheid in ’n kunsvorm omskep het.

In 1993 staan Margaret (toe 62) by ’n vullisblik met briewe en dokumente terwyl haar chauffeur dit met ’n vuurhoutjie aan die brand steek.

Geen geselsies

David Griffin het 26 jaar vir koningin Elizabeth se jonger suster gewerk. Hy het eenkeer uitgewerk hy het meer tyd saam met haar as sy eie ma deurgebring. Tog het hy selde met haar gepraat.

“Sy was deel van die ou skool en het van dag een af nooit verander nie. Sy was baie styf; daar was geen grappige geselsies nie. Sy het my Griffin genoem en ek haar U Koninklike Hoogheid,” vertel hy.

Tydens ’n tipiese rit sou sy net een woord geuiter het: “goeiemôre”.

“Dit was onnodig om meer te sê; sy het geweet ek ken die pad. Ek het myself as deel van die motor beskou; ’n verlengstuk van die stuurwiel. ’n Goeie konin­k­like dienskneg word nooit gesien en ­gehoor nie. Ons het verkies om in algehele stilte te werk, dan hoef ons nie vriendelik te wees nie.

“Ons het nooit geselsies probeer aanknoop nie.

“Hulle het altyd gesê prin­ses Margaret kan ’n madeliefie op ’n afstand van 4 voet (1,2 m) laat vries deur bloot daarna te kyk.”

Margaret, die piromaan

Die prinses het David deur die jare verskeie kere gevra om haar na Clarence House te neem (haar ma se Londense woning). Dan het sy ná ’n paar uur uit­gekom met ’n groot vullissak vol briewe en dit aan hom oorhandig.

Terug by Kensingtonpaleis het sy ’n paar geel rubberhandskoene aangetrek en hom die briewe, steeds in hul sakke, in ’n metaaltuinvullisblik in die motorhuis help prop. Daarna het sy hom aangesê om dit aan die brand te steek.

“Ons het dit verskeie kere oor ’n tydperk van ’n paar jaar gedoen,” vertel ­David.

“Baie daarvan was oud en is donkie­jare gelede geskryf, maar ek het onder hulle briewe van (prinses) Diana gesien. Ons het seker duisende briewe vernietig. Sy het dit baie duidelik gemaak dis hoogs vertroulike goed wat ons verbrand.”

Selfs William Shawcross, die koninginmoeder se stroperige biograaf, erken Margaret was ietwat van ’n piromaan wat haar ma se korrespondensie betref.

“Prinses Margaret het ongetwyfeld gevoel sy beskerm haar ma en ander ­familielede. Dit was verstaanbaar, maar ook betreurenswaardig uit ’n ­geskiedkundige oogpunt,” skryf hy.

Margaret by haar ma, Elizabeth (links) en haar suster, koningin Elizabeth II.

’n Hele paar van die briewe wat Mar­garet verbrand het, het sy waarskynlik self geskryf. Haar verhouding met haar ma was dikwels stormagtig, veral tussen 1952 en 1960, ná koning George VI (haar pa) se dood en haar suster se troon­bestyging.

Die onbeskofde prinses

Margaret, wat toe in haar 20’s was, en haar ma het in dié tyd in afsonderlike woonstelle in Clarence House gewoon, die een bo die ander.

Personeel was verstom oor hoe ongeskik die prinses met die koninginmoeder was.

“Hoekom dra jy sulke belaglike klere?” het sy eenkeer in die verbygaan vir haar gevra.

Wanneer haar ma na ’n televisie­program gekyk het waarvan Margaret nie hou nie, sou sy doodluiters van kanaal verander sonder om te vra.

Namate sy ouer geword het, het Margaret prikkelbaarheid in ’n kunsvorm omskep. Sy was veel meer geneig as haar suster om ander met haar gesagsposisie te probeer imponeer.

Sy het eenkeer haar kinders (lady Sarah Chatto en David Armstrong-Jones) daaraan herinner dat sy ’n koninklike is en hulle nie, en hul pa (Tony Armstrong-Jones, die eerste graaf van Snowdon) beslis ook nie.

Margaret by haar man, Tony Armstrong-Jones en kinders, David & Sarah.

Kruiperige gashere

“Ek is uniek,” sou sy soms by dinees laat hoor. “Ek is die dogter van ’n koning en die suster van ’n koningin.”

Dit was beslis geen ysbreker nie.

Wanneer sy klaar geëet het, moes die ander gaste ook ophou eet.

By sulke geleenthede het haar gashere geweet hulle moet haar eerste bedien. Die meer kruiperige soort sou enige gereg wat sy geweier het van die spyskaart onttrek, soos aartappels, sodat ander gaste ook nie daarvan kon eet nie.

Wanneer sy klaar geëet het, moes die ander gaste ook ophou eet.

Die prinses was geneig om die bietjie kos wat sy eet vinnig af te sluk. Die stadige eters moes dan, soos protokol vereis, hul mes en vurk neersit terwyl die helfte van hul kos nog onaange­raak op hul bord is.

Onsportiewe gedrag

Ek het by verskeie mense gehoor sy sou die onderwerp van kinders se eerste woorde aanroer en elk van haar medegaste vra wat hul kinders se eerste woorde was. Nadat sy na antwoorde soos “mamma” en “hondjie” geluister het, het sy dan vertel: “My seun se eerste woord was kandelaar.”

Maar haar sterk mededingende streep het nie altyd tred gehou met haar ver­moëns nie. ’n Gereelde medegas onthou een spesifieke voorval van swak sportmanskap tydens ’n Trivial Pursuit-spel.

“Die vraag was die naam van ’n kerrie­sop. Sy het gesê: ‘Dit word net kerriesop genoem. Daar is nie ’n ander naam daarvoor nie. Dis kerriesop!’

“Ons gasheer het gesê: ‘Nee, ma’am – die antwoord is Mulligatawny.’ En sy’t gesê: ‘Nee, dis kerrie­sop!’ Sy het so woedend geword dat sy die hele bord in die lug opgegooi het, met die stukke wat in alle rigtings spat.”

'Dit lyk soos braaksel'

Sy het ander dikwels afgejak. Die skrywer en fotograaf Christopher Simon Sykes onthou haar aankoms by sy ouerhuis vir tee. Baie opgewonde het die personeel ’n heerlike verskeidenheid koeke, skons en toebroodjies berei.

Die prinses het die keurige feesmaal een kyk gegee. Toe sê sy: “Ek haat tee!” en swiep verby.

In die 1980’s moes sy een oggend om tienuur ’n nuwe distriksraadskantoor in Matlock, Derbyshire, open.

Sy het koffie van die hand gewys en eerder jenewer-en-kinawater gevra. Nadat sy die kantoor geopen het, is sy na die noorde van die distrik om ’n behuisingsprojek vir bejaardes te open. Daar is ’n hoendergereg spesiaal vir haar berei.

“Dit lyk soos braaksel,” het sy laat hoor

Wrede aanmerkings

Haar bitsigheid was instinktief en onkeerbaar, soos ’n senutrekking.

“Ek hoor jy het my ma se ou huis heeltemal verwoes,” het sy aan die argitekman van ’n ou vriendin gesê wat toe aan die Glamis-­kasteel in Skotland gewerk het.

Sy het vir dieselfde man, wat sedert sy kinderjare gestrem was, gevra: “Het jy al na jouself in die spieël gekyk en gesien hoe jy loop?”

Haar simpatieker vriende het sulke wrede aanmerkings oorgesien en dit as onwillekeurig of minstens onbesonne af­gemaak.

“Ek dink sy het parmantig probeer wees. Sy het gedink sy probeer ’n mate van intimiteit bereik,” verduidelik een.

“Sy het met ’n ewige identiteitskrisis gesukkel. Sy het nooit geweet of sy formeel of pellie-pellie moet wees nie; daarom het sy tussen die twee gewissel en dit was ’n ramp.”

Dit was amper asof sy vroeg in haar lewe ’n eienaardige koninklike vorm van Tourette-sindroom opgedoen het wat die lyer ’n onkeerbare drang laat kry om die verkeerde ding te sê.

Twiggy

Toe die model Twiggy en Justin de Villeneuve, toe haar kêrel, in die 1960’s vir ete by die markies en markiesin van Dufferin genooi is, het hul gasvrou hulle gewaarsku prinses Margaret sou onder die gaste wees.

Voor haar aankoms het die markies hulle touwys gemaak in koninklike protokol.

“Ons is aangesê om te staan as sy staan en om haar ‘ma’am’ te noem,” vertel Justin.

Justin het naby die prinses gesit en was geskok toe hy sien sy rook sonder ophou.

“Toe ons begin eet, het sy ’n sigaret aan­gesteek, en sy het toe voortgegaan om te kettingrook en die een sigaret ná die ander regdeur die ete aangesteek. Watse protokol is dit?”

Die prinses het Twiggy, toe een van die beroemdste vroue in Engeland, tot die laaste oomblik geïgnoreer voor sy eindelik haar naam gevra het.

“Lesley, ma’m. Maar my vriende noem my Twiggy.”

“Hoe jammer,” het die prinses laat hoor en haar die rug toegekeer.

Tony, wat nooit die lojaalste man was nie, het toe na Justin oorgeleun.

“Jy sal dit by die hoër klasse kry,” het hy gesug.

'24 redes hoekom ek jou haat'

Margaret en Tony was ’n glansryke paartjie, maar hul huwelik was storm­agtig.

Alleen by die huis het hulle na mekaar gehap en gekibbel. Elkeen van hul vriende kon ’n storie oor hul bitsige rusies vertel.

Tony, ’n fotograaf, het homself in sy ateljee toegesluit en vir haar gesê: “Moet nooit hier inkom sonder om te klop nie!”

Eenkeer het die prinses geskree sy is nie bereid om sy vriende te onthaal nie en die deur so hard toegeklap dat ’n spieël gebreek het.

Hy sou te koop loop met sy flirtasies met ander vroue en sy sou woedend word. Selfs tydens vakansies saam het Tony sy bes gedoen om haar te vermy, dikwels op die grootdoenerigste manier moontlik: Hy het van ’n gehoor gehou.

Terwyl hulle by vriende in Rome oorgebly het, het hy deur ’n venster tot op die dak geklim.

“Dis al plek waar ek van haar kan wegkom,” het hy later verduidelik.

Voor ’n deftige partytjie of ’n openbare geleentheid sou hy sorg dat hy die prinses tot trane dryf sodat sy met ’n poffe­rige gesig en rooi oë daar sou opdaag.

Tuis sou hy nare notas op haar lessenaar los, soos een met die opskrif: “Vier-en-twintig redes waarom ek jou haat.”

Dit het haar veral ontstel.

’n Ander keer het hy ’n nota in haar paneelkissie gelos: “Jy lyk soos ’n Joodse manikuris.” En op nog ’n nota wat hy by ’n boek langs haar bed ingeskuif het, het bloot gestaan: “Ek haat jou.”

Voor ’n deftige partytjie of ’n openbare geleentheid sou hy sorg dat hy die prinses tot trane dryf sodat sy met ’n poffe­rige gesig en rooi oë daar sou opdaag.

'n Rits minnaars en 'n katelknapie

Albei het buite-egtelike verhoudings gehad.

Vroeg in 1969 kon die akteur Peter Sellers nie ophou by sy vriende spog dat hy by Margaret kuier nie. Sy het hom by Kensingtonpaleis in ’n rok met ’n baie lae hals ontvang, en van daar het dinge ontwikkel, of so het hy beweer.

Margaret het Peter gelos vir Roddy Llewellyn, ’n landskapsargitek wat 17 jaar jonger as sy was. In 1976 het foto’s van die prinses saam met haar katelknaap tydens ’n vakansie op die Karibiese eiland Mustique die voorblaaie gehaal.

Saam met haar katelknaap, Roddy Llewellyn, in 1978. Hy was 17 jaar jonger as sy.
Sy het 'n kortstondige verhouding met die akteur Peter Sellers gehad.

Die publikasie daarvan het haar egskeiding verhaas. Die prinses se privaat sekretaris, Nigel Napier, het haar met die nuus gebel dat haar man besig is om uit Kensingtonpaleis te trek.

“Dankie, Nigel. Ek dink dis die beste nuus wat jy my al ooit gegee het,” het sy gesê.

Teen 1980 het haar verhouding met Roddy doodgeloop. Hy het ’n reisskrywer, Tania Soskin, by ’n nagklub ontmoet en hulle was binne ses maande verloof.

Namate sy ouer geword het, het die koningin gehoor hoe eensaam en kwesbaar Margaret was.

Sy was 'n kettingroker en is deur sommige beskryf as die 'arm lid' van die gesin in voorkoms.

By Balmoral (die konin­k­like landgoed in Skotland) het die prinses volgens ’n lid van die huishouding “soos ’n arm familielid voorgekom. Die koningin het haar jammer gekry.”

Wat het in die stort gebeur?

Niemand weet presies nie. In Februarie 1999 was Margaret op Mustique.

Haar gaste by haar villa, Les Jolies Eaux, het ’n ontspanne ontbyt geniet toe die kok inhardloop. Stoom borrel onder die badkamerdeur uit! het sy gesê. Die prinses is seker binne vasgekeer. Toe hulle geen antwoord uit die badkamer kry nie, het Margaret se persoonlike speurder die deur afgebreek.

Hy het haar uitgedra. Dit het gelyk of die ongeluk gebeur het weens ’n maklike fout wat Margaret begaan het – om deurmekaar te raak met die handkontroles vir koue en vir warm water. Of dalk was die termostaat foutief en het die water tot kookpunt verhit.

Die prinses wou ’n louwarm stort neem, maar het die verkeerde knoppe op die verkeerde tyd gedraai; strale vuurwarm water het toe reguit op haar voete gespuit. Sy kon nie beweeg tot sy sowat vyf tot 10 minute later gered is nie.

Al het haar voete erg verbrand, het sy volgehou niks ernstigs skort nie. Sy het ’n paar weke op Mustique aangesukkel en wou nie na ’n hospitaal vlieg nie.

Haar hofdame, Anne Tennant, het die paleis gebel en hulp gevra. Die koningin het vir haar ’n vlug op ’n Concorde terug Brittanje toe gereël. Margaret het maande lank op Balmoral aangesterk, maar geweier om veloorplantings te ondergaan.

Sy het ses maande lank nie in die openbaar verskyn nie. Sy het geleidelik herstel, maar aan­gehou om ’n rolstoel te gebruik.

Op haar oudag was Margaret aan 'n rolstoel gekluister.

Toe Margaret en haar ma saam Buckingham-paleis besoek, het ’n onbetaamlike rolstoel-oorlogstoneeltjie afgespeel. Die koningin het gereël dat ’n huiskneg ’n rolstoel gereed hou vir haar ma, maar toe die hysbakdeure op die eerste verdieping oopgaan, het Margaret daarop afgepyl.

“Genugtig, Margaret, klim uit! Dis vir ma bedoel,” het die koningin geroep.

Beroertes en depressie

Die prinses se gesondheid het vroeg in Januarie 2001 vinnig verswak. ’n Tweede beroerte is deur nog beroertes gevolg. Sy het die sig in een oog verloor en aan haar linkerkant was die grootste deel van haar lyf verlam. Sy was kort voor lank aan ’n rolstoel gekluister en het in ’n depressie verval.

Margaret het dikwels geweier om enig­een, haar ma inkluis, te sien en het die meeste van die tyd in die bed, met toe­getrekte gordyne, deurgebring.

Net meer as ’n jaar later is sy in die hospitaal oorlede ná ’n derde groot beroerte op 71. By haar begrafnis in die St. George-­kapel in Windsor was 450 rouklaers.

“Dis interessant dat as sy in die middel van die 1960’s sou gesterf het, dit ’n soortgelyke reaksie sou ontlok as met Diana se dood,” het sir Roy Strong, ’n gas by talle van haar dinees oor drie dekades, in sy dagboek geskryf.

Ten tyde van haar dood het Roy se vriendskap met die prinses reeds af­gekoel, want hy was toe al keelvol vir haar ongeskikte en eiegeregtige gedrag.

Die eerbare en die bose

“Dié prinses het blykbaar nooit aan enigiets anders gedink as hoe almal haar geringste gier kan vervul nie. Dit was so hartseer, want sy was pragtig toe sy jonk was, lewenslustig en by tye skerpsinnig.

“Maar die slegte kant het gewen en dit is wat die publiek op die ou end raakgesien het. Sy kon nie by gewone mense aanklank vind nie, en baie van die mense wat sy na haar kring aangetrek het, was smerige glansmense wat skynbaar net geleef het om aan haar genot te verskaf.

“Die einde was so tragies, ’n half­verlamde, opgeblase figuur in ’n rolstoel, maar ek veronderstel 50 jaar se sigarette en whisky het ’n vernietigende uit­werking op haar liggaam gehad,” het hy geskryf.

Maar die skrywer Gore Vidal, ’n jare lange vriend van haar, was meer simpatiek.

Hy het gemeen die prinses was “te intelligent vir haar posisie in die lewe”.

Hy beweer sy het eenkeer vir hom gesê waarom sy so ongewild is: “Dit was onvermydelik; as daar twee susters is en die een is koningin en moet eerbaar wees en alles wat goed is, moet die ander een die fokus wees van die kreatiefste kwaad­willigheid; die bose suster.” 

'n Vertaalde en geredigeerde uittreksel uit Ma'am Darling: 99 Glimpses of Princess Margaret deur Craig Brown (Fourth Estate).

Beskikbaar by takealot.com vir R509. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES