Hy het ’n bra gemiddelde 1,85 m in sy sokkies gestaan, maar op die rugbyveld was hy ’n vreeslose reus wat menslike stoomrollers soos die All Blacks se Jonah Lomu kon stuit. Onder sy Springbokspanmaats was hy geliefd as ’n groothartige kwajong.

En met sy sproetgesig-sjarme was die 1995-Wêreldbekerheld ’n hartebreker. Weg van die rugbyveld was die man wie se onverwagse dood in ’n Johannesburgse klub “vir volwasse vermaak” op 10 Julie die land geruk het in stryd met homself.

’n Onstuimige jeug, dwelms en drank . . . en aantygings van aanranding deur twee ekse, die beeldskone modelle Christina Storm en Loui Fish. Op én weg van die rugbyveld het dié passievolle “stoutseun” van die Springbokke voluit en volgens sy eie reëls geleef.

Dit was dalk onvermydelik dat die enkellopende pa van Ruby (14) en Caleb (9) se dood so omstrede soos sy persoonlike lewe sou wees.

Waarom het James (50) ineengestort in The Harem, waar hy volgens die eienaar, Jerome Safi, ’n gereelde besoeker was?

Kort voor ons druktyd was dié raaisel nog deel van ’n polisieondersoek. James se familie sê hy is weens ’n hartaanval dood. Maar kapt. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, kon nie die oorsaak van sy dood aan Huisgenoot bevestig nie omdat die nadoodse ondersoek volgens hom nog nie afgehandel was nie.

Jerome het in ’n telefoniese onderhoud met Huisgenoot berigte ontken dat James kaal was toe hy in sy klub in Bedfordview ineengestort het en ook dat hy kaal na die Bedford Life Gardens-hospitaal geneem is.

Die noodlottige laaste aand

Maar Jerome vertel James het The Harem in die maand voor sy dood gereelder as ooit tevore besoek.

Een van The Harem se kamers.

“James het op die dag van sy dood direk van die O.R. Tambo- lughawe ’n Uber-rit bestel en na The Harem gekom,” sê Jerome.

“Hy was ’n week tevore (op 3 Julie) ook by die klub. Voor dit was hy twee weke tevore daar. Hy het nie vir ons gesê hoekom hy die klub in die laaste maand gereelder as ander maande besoek het nie.”

Hy het in die sitkamer gaan sit, ’n drankie bestel en op sy skootrekenaar gewerk.

Jerome beweer James het pas van Kaapstad teruggekeer waar hy vir sy familie gaan kuier het.

“Hy het alleen daar aangekom. Met sy aankoms is sy bagasie, wat steeds by hom was, by hom geneem en in ’n ander vertrek in die klub gebêre. Hy het in die sitkamer gaan sit, ’n drankie bestel en op sy skootrekenaar gewerk.”

Personeel het James glo goed geken omdat hy meer as twee jaar lank ’n gereelde kliënt van The Harem was.

“Die personeel sê dit het gelyk of hy besig was met werk. Hy het nie oormatig gedrink nie. Toe hulle hom vra of hy nog iets nodig het, het hy genoem hy wag vir iemand om op te daag.”

Jerome beweer James het dit daardie aand nooit tot by een van die kamers van die klub gemaak nie.

“Hy was stil en op sy eie. Een oomblik – laat daardie aand – het hy opgestaan. Hy het sy bors vasgegryp en toe inmekaargesak. Almal was geweldig geskok en paniekbevange.”

Die ontspanningsarea van The Harem, wat James gereeld besoek het.

Een van die vroue, wat glo kennis van kardiopulmonêre resussitasie het, het dié tegniek toe glo op James toegepas.

“Sy het ’n ligte hartklop gevoel en van die ander personeellede geroep om te kom help. James is ’n swaar man; hulle het gesukkel om hom op te tel. In die proses het sy broek effens geskeur en afgetrek, maar hy was nooit kaal nie – nooit nie. En dis nie regverdig om ’n legende se nalatenskap met so iets te verwoes nie.”

James was nooit goedkoop nie. Hy was ’n held.

Jerome sê een van sy drywers het James daardie aand na die Life Bedford Gardens-hospitaal geneem, maar hy ontken bewerings dat ’n onderonsie toe tussen sy personeellede en die hospitaalpersoneel ontstaan het.

Jerome vertel James het altyd sy eie gaste na die klub vergesel.

“James was nooit goedkoop nie. Hy was ’n held. Ek sal natuurlik nie die soort klub wat ons is, ontken nie; ek het geen rede om te lieg nie. Maar dit was nie James nie. Hy was ’n gentleman. Dis jammer dat hy dood is – en nog jammerder dat sy nalatenskap deur leuens vertroebel word.”

Die klub is welbekend onder inwoners van Bedford Gardens, vertel ’n bron van die plaaslike polisiëringsforum. Dit bestaan uit ’n dubbelverdiepinghuis met donker vensters en digte gordyne agter hoë grys mure, ’n elektriese heining, staalhekke en sekuriteitskameras.

Op die klub se webtuiste is daar foto’s van sowat 30 skraps geklede vroue wie se “dienste” bespreek kan word. Ander inwoners van die buurt het al by die polisie oor die klub gekla.

“Die saak is egter moeilik vir die polisie omdat hulle die kliënte op heterdaad moet betrap wanneer hulle die vroue betaal. Klopjagte loop op niks uit,” sê ’n bron.

Mavela sê die polisie is as deel van hulle ondersoek na James se dood in kontak met die hospitaal en die familie. Die aandeel van die drie mense wat James na die hospitaal gebring het, word ook ondersoek.

1995-Springbokspan

Drie oorlede Springbokke van die 1995 Wêreldbeker-
Drie oorlede Springbokke van die 1995 Wêreldbeker- span. Van links is James, Ruben Kruger en Joost van der Westhuizen.

James is die vierde lid van die 1995-Springbokspan wat oorlede is. Die afrigter Kitch Christie is in 1998 aan kanker oorlede; die flank Ruben Kruger in 2010 weens ’n breingewas; en sy legendariese spanmaat Joost van der Westhuizen in 2017 weens motorneuronsiekte.

James het reeds by die Risidale Primêre Skool in Johannesburg sy veelkantige karakter begin toon.

Hy was begeesterd en ondeund, vol selfvertroue, maar altyd ’n heer.

“Hy was baie intelligent,” vertel sy gr. 7-juffrou, Selma Dimitriou (76).

“Maar sy fokus was op sport. Ons het ’n baie spesiale band gehad. Hy was begeesterd en ondeund, vol selfvertroue, maar altyd ’n heer.”

Sy onthou hoe hy eendag op die speelgrond na haar gekom het.

“Uit die bloute het hy begin sing: If I say you have a beautiful body, would you hold it against me. Hy het soveel sjarme gehad en kon daarmee wegkom.”

James Small en die All Black Jonah Lomu.
James Small en die All Black Jonah Lomu.

Later is James en sy ouer suster, Kelly, na Johannesburg se Hoërskool Greenside. En dis hier waar sy wilder kant na vore gekom het. In 1993 het James aan Huisgenoot vertel hy het op 14 begin dagga rook en op 15 seks gehad.

Hy was ’n “moeilike kind” en “rebel” en het sy ouerhuis verlaat om by ouer vriende te gaan woon, waar hy voor en ná skool dagga gerook en deur die nag partytjie gehou het.

“Ek was buite beheer,” het James aan Huisgenoot erken.

“Ek was nooit ten volle ’n dwelmslaaf nie,” het James vertel.

“Maar dat ek deur ’n rowwe tyd in my lewe gegaan het en totaal die spoor byster geraak het, kan ek nie vandag ontken nie.”

In sy senior hoërskooljare het sport hom egter reggeruk. Hy het Transvaalse kleure in atletiek gekry en minder dagga gerook.

Maar dit was rugby wat hom ’n held sou maak. In 1987, op 18, het hy Transvaalse Cravenweek-rugby gespeel. Ná skool het hy vir die destydse Transvaal, Natal en die WP in Curriebeker-eindstryde gespeel.

James Small vroeg in sy rugbyloopbaan.
James Small vroeg in sy rugbyloopbaan. Foto: Duif du Toit/Gallo Images

As Springbokvleuel het James se vreeslose verdediging en opwindende aanvallende spel skares begeester. Hy het 20 toetsdrieë in 60 Bok-wedstryde gedruk voor hy in 1999 weens ’n liesbesering uitgetree het.

Bygelowe en vinnige vuiste

Hy was so bygelowig as wat hy emosioneel was.

Aan die begin van sy rugbyloopbaan het hy drie jaar lank dieselfde onderbroek in toetswedstryde gedra. Hy het ook altyd wit sportsokkies onder sy rugbykouse aangehad. Selfs die manier waarop hy sy enkels losgemaak het, was ’n ritueel.

“Terwyl ek hulle draai, sê ek die letters van die alfabet op. Ek stop by J, want my naam begin daarmee,” het hy destyds aan Huisgenoot vertel.

In 1994 was hy in die sop weens ’n vuisgeveg in ’n kuierplek in Port Elizabeth nadat die Bokke Argentinië geklop het.

Ek sal die oorlog binne-in my moet uitbaklei.

James het die Springbok-branderroeier Ian MacLeod se meisie, Adèle Hattingh, hardhandig eenkant toe getrek omdat hy glo gedink het sy het sy boud geknyp. Ian het James teen die agterkop geslaan. Buite die kuierplek het James hom met drie houe platgeslaan. Die Springbok-bestuur het hom toe vir ’n aantal toetswedstryde geskors.

“Ek sal die oorlog binne-in my moet uitbaklei,” het James later oor sy kort humeur aan Huisgenoot gesê. Maar dit was sy rol om die All Black-reus Jonah Lomu van die Springbokke se doellyn af weg te hou in die 1995-Wêreldbeker-eindstryd op Ellispark wat sy heldestatus verewig het.

James small and Mark Andrews tydens ’n oefensessie
James small and Mark Andrews tydens ’n oefensessie. Foto: Tertius Pickard/Gallo Images

Die Bokke was pas terug uit hul rugby-isolasie van die apartheidsjare en oudpres. Nelson Mandela het van die Wêreldbeker ’n versoeningsgeleentheid gemaak. Elke lid van daardie triomfantelike 1995-span het ’n held geword.

Maar die hartebreker James se passievolle spel, motorfiets en rockster-houding was in ’n klas van sy eie. Sy voormalige spanmaat Balie Swart vertel hoe die vroue altyd oor James geswymel het.

“Oor James, André Joubert en Joost van der Westhuizen . . . Die res van ons kon maar net sit en kyk hoe hulle met die mooiste girls praat.”

Sy eerste modelmeisie was Loui Fish.

“Hy was wonderlik,” het sy ná sy dood aan Huisgenoot vertel.

“Hy’t ’n amazing kreatiewe brein gehad; hy was ’n ontsettende diep mens. Almal het hom as die stoutseun beskryf. En hy was ’n ware rebel. Maar hy was passievol oor alles: rugby, sy familie, sy geliefdes. Hy’t passievol liefgehad.”

Hy en die model Loui Fish was twee jaar lank ’n pa
Hy en die model Loui Fish was twee jaar lank ’n paartjie. Loui beskryf hom as een van die groot liefdes van haar lewe.

James en Loui was van 1995 tot 1997 saam. Ná Loui was hy agt jaar saam met Christina Storm – en dis tydens sy verhouding met haar dat James begin nuus maak het weens sy donkerder en wilder kant.

Soos partytjies, dwelms – en die feit dat hy Christina geslaan het.

“Die lewe is nie die maklikste ding nie,” het James net verlede jaar in ’n onderhoud met die oudspeler John Robbie vir die webtuiste The Sport Exchange gesê. Hy het teenoor John erken hy het “reusefoute” gemaak en alkohol en kokaïen misbruik.

Dit was Junie 2001 toe James se persoonlike lewe begin intuimel het.

Koerante het in daardie maand berig Christina het ’n nuwe man in haar lewe: Arno Carstens, hoofsanger van die Springbok Nude Girls. En net die volgende dag is James by die Somerset-hospitaal in Kaapstad ingestoot met ’n bekommerde Christina langs hom.

In die onderhoud verlede jaar erken James sy selfmoordpoging van 2001 was ’n aandagsoekery.

“Ek het die liefde van my lewe verloor. Ek het baie kokaïen geneem en my polse gesny,” het hy vertel.

Hy is vir ’n tyd in die Valkenberg-psigiatriese hospitaal in Kaapstad behandel. Ná dié voorval het oudpres. Mandela hom geskakel en verseker hy het steeds die liefde van die mense.

Gelukkige dae saam met sy eksmeisie Christina Stor
Gelukkige dae saam met sy eksmeisie Christina Storm.

In 2004 het James en Christina weer bymekaargekom en Ruby gehad. Christina het destyds aan Huisgenoot vertel James is ’n betrokke pa: “Hy sus haar aan die slaap, vryf haar winde uit en dra haar rond.” 

Maar dinge tussen die glanspaartjie het teen 2005 weer uitmekaargeval. In daardie jaar is James (toe 37) gekiek waar hy koer met die 19-jarige Lindsay Duncan, wat opvallend na Christina lyk.

En in 2009 het James eindelik besluit om te reageer op gerugte dat hy Christina geslaan het. Sy bekentenis was ter wille van Ruby, het hy aan Huisgenoot gesê. Volgens hom het hy Christina twee keer in hul agt jaar saam geslaan.

“Ek is bitter jammer daaroor. Ek het hulp gesoek en reggemaak wat fout was in my lewe. Meer kan ek nie doen nie.” In dieselfde onderhoud het hy vertel hy is “in sy ouerhuis aan geweld blootgestel”.

James het sy dogter, Ruby, se naam en geboortedatum saam met fyn blomme op sy linkerarm laat tatoeëer.

James se ouers is geskei voor hy skool toe is en hy het by sy ma, Vourn, grootgeword.

“Vir baie lank kon ek nie in die spieël kyk nie,” het hy oor sy vergrype teen Christina gesê. “Maar ek is moeg jammer gesê. Wanneer het jy genoeg vir jou dade geboet?”

Daarna het hy sy verhoudingslewe uit die openbare oog gehou. In 2009 het hy aan Huisgenoot gesê hy is al “18 maande saam met ’n fantastiese vrou”.

Hierdie neus is nie so skeef gebore nie; James het dit so geslaan.

Maar in 2012 het Loui in haar biografiese boek, Loui Fish: Onsinkbaar, vertel sy en James het saam dwelms gebruik en hy het haar ook geslaan.

“Hierdie neus is nie so skeef gebore nie; James het dit so geslaan,” het sy toe aan Huisgenoot gesê. James het dit ontken en gesê: “Sy soek aandag.”

Rugby en mooi vroue was nie al belangstellings in James se lewe nie. Hy het in sy 20’s geld verdien deur modelwerk. Reeds in die middel 1990’s het hy aandele in agt Johannesburgse koffiewinkels gehad, en dit het later ook na Kaapstad en Knysna uitgebrei.

In 1998 het hy aandele in ’n koffiewinkel in die Tuine-sentrum gekoop sodat sy ma daar betrokke kon raak. Hy was toe ook ’n vennoot in ’n reklameagentskap in Johannesburg en het ’n onderklerereeks begin. Later het hy ook mede-eienaar van die gewilde Cafe Caprice in Kampsbaai geword. Maar rugby was altyd sy grootste passie.

James op sy 50ste verjaardag vroeër vanjaar. Foto:
James op sy 50ste verjaardag vroeër vanjaar. Foto: Facebook

“Ek is blootgestel aan reis, aan mededinging, nederlae en oorwinnings, aan verstommende ervarings en emosies,” het hy ná sy uittrede in 1998 aan Huisgenoot vertel.

“Dit alles het my as mens gevorm.”

In onlangse jare het James rugby afgerig: aan die Noordwes-universiteit, by die Luiperds, en tot in 2017 by Johannesburg se Pirates-klub.

“Ons het hom Bushy genoem,” vertel Non Welsford, die Pirates- bestuurder.

“Hy was geliefd deur almal . . . Hy’t sy seuntjie ’n paar keer hierheen gebring wanneer hy junior rugby afgerig het. Sy seuntjie het nie baie in rugby belanggestel nie, maar James het dit aanvaar.”

James het ’n sagte hartjie gehad en sou geld aan behoeftiges uitdeel. Ek was trots op die man wat James was.

James se Wêreldbeker-spanmaats praat met deernis en respek oor hom.

“James het die Springboktrui met groot respek gedra,” vertel Naka Drotské. Hy was die eerste ou wat my in 1993 in die span verwelkom het.”

Sy destydse vleuelmaat Chester Williams vertel: “James het ’n sagte hartjie gehad en sou geld aan behoeftiges uitdeel. Ek was trots op die man wat James was. Hy was ’n legende. ’n Mens het geweet presies waar jy met hom staan. Hy was ten minste eerlik; ’n spanmaat op wie jy kon staatmaak.”

Ook Francois Pienaar, James se 1995-Wêreldbekerkaptein, is bedroef. “Ons is almal geskok en hartseer. James was onverskrokke op die veld, maar het ’n diep deernis vir mense gehad.”

Francois Pienaar wens James geluk met een van sy 2
Francois Pienaar wens James geluk met een van sy 20 internasionale drieë. Foto: Gallo Images

Vir James se vriende is dit nie belangrik dat hy in ’n omstrede klub ineengestort het nie.

So what? En dis presies wat James sou sê,” vertel ’n Kaapse vriendin. “Hy het so ’n groot hart gehad.”

’n Hartseer Moses Mhlonge, kroegbestuurder van die Taphouse in die Johannesburgse buurt Parkhurst, waar James gereeld gekuier het, sê: “Hy was een van die nice-ste mense . . . Altyd vriendelik, altyd tyd vir ’n geselsie.”

“Hy het altyd Saterdae om 12:00 daar by die venster gaan sit en sy biere gedrink,” beduie hy. “Maar nooit later as so 17:00 nie. Behalwe natuurlik as daar ’n groot game was – dan het James gesít.”

Bykomede bronne: Sport24.co.za; Sowetanlive.co.za; Mg.co.za

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Verskaf, Gallo Images/Reuters, The Harem, ER Lombard, Beeld/Archives