Die kulkunstenaar Wian van den Berg is met 11 milj
Die kulkunstenaar Wian van den Berg is met 11 miljoen-volgelinge die gewildste TikTokker in Suid-Afrika danksy sy kulkunsvideo’s op dié sosiale platform. Foto: Onkgopotse Kol

Kul jou hier, kul jou daar . . . en siedaar, jy en miljoene ander Suid-Afrikaners slaan nogmaals jul hande in verwondering saam.

Magiese en onverklaarbare dinge het die mensdom nog altyd aangegryp. G’n wonder kulkunstenaars met hul klaarblyklik bonatuurlike vermoëns word onder die grootste vermaaksterre gereken nie. En te oordeel na sy 11 miljoen TikTok-volgelinge is Wian van den Berg nou ons land se gewildste oëverblinderaar.

Hy het deesdae selfs sy eie televisiereeks, Wian, op VIA. In dié reeks vaar die boorling van die Vrystaatse dorp Frankfort die strate in waar hy omstanders voorkeer en met sy kulkunsies verstom. En elke keer wil die oorblufte “slagoffer” weet hoe op dees aarde hy dit regkry. 

Nes kykers wil Huisgenoot ook weet; dis dié dat ons hom vandag hier by ’n winkelsentrum in Edenvale, Gauteng, vergesel. Kom, stap saam . . . 

Noleen Badenhorst is verstom toe Wian die regte ka
Noleen Badenhorst is verstom toe Wian die regte kaart aan haar uitwys. Foto: Onkgopotse Koloti

By ’n opelugrestaurant stel die 25-jarige Wian hom aan Noleen Badenhorst voor. En nes kykers altyd op sy program sien, skommel hy sy pak speelkaarte, vra haar om een te kies, en kyk weg. 

Sy druk dit terug in die pak, Wian klap sy vingers, en dan verskyn haar kaart weer bo in die pak. Noleen kan nie anders as om verbaas te lag nie.

Die slegte nuus is dat Wian nog nie gereed is om die geheim van sy truuks te verklap nie. Nie omdat hy snoep is nie, maar omdat hy Suid-Afrikaners nog veel langer wil laat gons.

Alles begin as 15-jarige tiener

Wian se magiese reis het in 2010 danksy die televisiereeks The Ellen DeGeneres Show begin. Hy was tydens die uitsending van een van die episodes verstom deur haar kulkunstenaar-gas se bedrieglike handvaardighede.

Hy was toe net 15 jaar oud, maar het op die plek besluit hy wil sy eie towerhoed opsit. Maar hoe? Om die geheime van kulkuns te ontrafel wend hy hom toe tot Google en YouTube. 

“En daar kom ek agter daar is honderde training video’s oor kaartkunsies. Dit was sommer gou toe kan ek ’n hele paar doen. Dis nie dat ek vinnig leer nie; dis net dat ek baie tyd insit. Elke middag ná skool was ek voor die rekenaar om te kyk en te leer.”

Sy eerste gehoor was sy ouers, Willie en Teddy. Hulle het hom aangemoedig en ondersteun. 

In 2011, ’n jaar ná daardie Ellen DeGeneres-program, is daar ’n talentkompetisie by die Hoërskool Wilgerivier in Frankfort gehou.

Wian, ’n leerder, het besluit dis tyd om sy slag te wys. “Sjoe, maar het ek gestres,” vertel hy nou in die woonstel in Edenvale wat hy deesdae met sy broer, Willem, deel.

“Die hele dorp was daar. Gelukkig het niks verkeerd gegaan nie. Daarna is ek gereeld pouses gevra om kaartkunsies te doen.”

Wian vertel ’n mens kan dus maar sê sy fondasie as kulkunstenaar is destyds op die skoolterrein gelê.

'n Toneel uit Wian se TV-reeks op VIA.
'n Toneel uit Wian se TV-reeks op VIA. Foto: Verskaf.

Ná sy matriekjaar in 2013 het hy ’n aanlyn diplomakursus in webontwerp voltooi, “maar ek wou dit nie regtig as ’n loopbaan doen nie.”

In 2015 het hy aan die talentsoekreeks SA’s Got Talent deelgeneem en die halfeindronde gehaal.

“Dit was die eerste keer dat ek voor die kameras verskyn het. Terwyl ek daar my toertjies vir die gehoor gewys het, het ek gedink: As hulle dink ek is goed, kan ek dit enige plek doen.”

Onskuldige lede van die publiek word voorgekeer so
Onskuldige lede van die publiek word voorgekeer sodat Wian een van talle kulkunsies aan hulle kan wys. Elke keer wil hulle weet hoe op dees aarde hy dit regkry. Foto: Verskaf.

In Durban se strate

Maar 2018 was eintlik die jaar toe alles gebeur het.

“Ek het my laaste geld gevat, ek en my broer het buskaartjies Durban toe gekoop en daar vir ’n naweek in die goedkoopste gastehuis gebly. Dit terwyl ek toertjies op straat vir die mense wys en hy dit met sy selfoon afneem,” vertel hy. 

“Ek het die video’s op elke moontlike sosiale platform geplaas, maar dit was op TikTok waar dit begin groei het. Toe ek verlede jaar vyf miljoen slaan, toe dink ek: Wow, nou het ek eintlik fans! En nou staan ons op 11 miljoen. My droom om ’n ster te wees, het waar geword.”

Deesdae is dié TokTokker se dagboek druk besig met optredes by hoofsaaklik korporatiewe geleenthede reg oor die land. Hy het in 2018 ook vir die Springbokspan ’n vertoning gelewer, en ’n Suid-Afrikaanse sakeman wat in Doebai werk het hom al vir ’n geleentheid daar bespreek.

Wian sê hy weet hoe feitlik elke toertjie in die w
Wian sê hy weet hoe feitlik elke toertjie in die wêreld werk. Foto: Verskaf.

Gewildheid

Noudat Wian ’n bekende gesig in die sosiale media en op die kassie is, keer mense hom gereeld op straat voor.

“Dit is my gunstelinggevoel,” sê hy. “Dit is min dat hulle vra vir ’n toertjie; gewoonlik wil hulle net ’n foto saam met my neem.”

Maar hy dink nie die mense op sy grootworddorp, Frankfort, sien hom as ’n ster nie. 

“Nee wat, vir hulle is ek steeds maar net die outjie wat daar grootgeword het. Maar my ouers sê altyd hulle weet nie hoe ek ’n bestaan uit magic kan maak nie.”

Met 10 jaar se harde werk en optredes agter die rug glo Wian hy weet vandag hoe feitlik elke kulkunstoertjie in die wêreld gedoen word. Dis juis hierdie bestaande toertjies wat hy aanpas om sy eie te maak.

Uitgevang

En wat is sy gunstelingtoertjie? Dis moeilik, sê hy, “want elkeen het ’n eie look and feel.” Maar as hy dan een moet uitsonder, is dit waar hy ’n foto op ’n selfoon verander.

Hy gee my opdrag om ’n kaart uit ’n pak trek en voor my gesig te hou terwyl hy ’n foto met my selfoon daarvan neem. “Jy moet mooi glimlag, want dis ’n foto wat jy sal wil hou,” sê hy en wys dan die foto vir my. 

Die kaart gaan terug pak toe, wat dan eers geskommel word voor ek nog een moet trek en memoriseer voor ek dit terug druk. Ná nog ’n skommelsessie en nog ’n grappie wys hy weer die selfoonskerm vir my. 

My mond val oop. Die kaart op die foto het magies verander in die tweede kaart wat ek getrek het. En nee, ek kan julle nie vertel hoe hy dit gedoen het nie. Julle sal maar net moet aanhou kyk. 

  • Wian word op Vrydagaande om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.  
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe