Die duurste juweliersware, eksotiese blomme, ingevoerde sjokolade . . . Wanneer dit kom by ’n mooi vrou die hof maak, kon George Clooney (56) met al sy geld en roem omtrent vir haar die sterre uit die hemel gaan pluk.

Maar nee, sê sy vrou, Amal Clooney, hy het eerder sy stuitige humorsin ingespan . . . en dit het gewerk.

Onderhoude is nie iets wat dié beroemde menseregteprokureur graag toestaan nie, maar nou het sy in ’n seldsame onderhoud met die modetydskrif Vogue heerlike brokkies vertel oor hul feëverhaalromanse en hoe die akteur haar hart met die hulp van sy geliefde woef gesteel het.

Nadat George haar vir die eerste keer by ’n partytjie by sy huis langs die Como-meer in Italië ontmoet het, het hy haar met e-posse gebombardeer wat kamtig deur sy hond Einstein geskryf is.

Dit klink nie juis romanties nie, maar die Libanees-Britse skoonheid het daarvoor geval en George se uitnodiging na ’n eerste afspraak by ’n spoggerige Londense restaurant aanvaar.

Sy vertel aan Vogue dit het “na die natuurlikste ding onder die son” gevoel om ’n verhouding met die Hollywood-ster, wat vandag die pa van hul tweeling is, aan te knoop.

Die Vogue-voorblad. Foto: Vogue

“Ek het altyd gehoop daar wag ’n liefde wat my totaal oorrompel en wat geen besluitneming van my verg nie.”

Voor sy hom ontmoet het, het sy eintlik aanvaar sy sal nooit ’n man ontmoet wat die moeite werd is nie.

“Ek was 35 toe ek George ontmoet. Dit was nie voor die hand liggend dat die liefde met my sou gebeur nie,” het sy aan die modebybel gesê.

Ondanks sy reputasie as een van Hollywood se hubaarste oujongkêrels het George gesê hy het oombliklik sy hart op Amal verloor.

“Natuurlik is sy beeldskoon, maar ek het gedink sy is fassinerend en briljant. Haar lewe is ongelooflik opwindend – die kliënte wat sy het en die bomenslike werk wat sy doen,” het hy aan die tydskrif vertel.

En dis hier waar dit hom getref het – dis mos sy trouvrou dié

Hy verklap hulle het die aand van die partytjie by sy Como-huis “die hele nag deur” gesels.

“Ek het haar e-posadres gevra en ons het vir mekaar begin skryf. Maar ek het nie geweet of sy met my wou uitgaan nie,” het hy in Februarie aan die Amerikaanse geselsprogramaanbieder David Letterman gesê.

Danksy sy hondegrappies het dinge egter tot op die punt ontwikkel waar hy haar Afrika toe gebring het op ’n safari. En dis hier waar dit hom getref het – dis mos sy trouvrou dié.

Tot in daardie stadium was hy oortuig hy stap nooit weer kansel toe nie nadat sy huwelik met die Amerikaanse aktrise Talia Balsam in die vroeë 90’s ’n skamele drie jaar gehou het. Maar op safari het hy sy siening oor trou verander.

“ ’n Paar kameelperde het na Amal toe gestap. Sommerso uit die bloute. Ek het ’n foto van haar geneem en sy het geglimlag. Toe sê ek vir my pel Ben: ‘Jy weet, ek dink ek moet haar vra om te trou.’

"Toe sê Ben: ‘Ek dink dis ’n goeie idee.’ ” 

Getrou aan sy woord het die paartjie in September 2014 afgehaak. Drie jaar later het albei vir die eerste keer ’n ouer geword toe hul tweeling, Ella en Alexander, gebore is.

Die tweetjies, wat in Junie een word, het reeds hul eerste woorde gesê: “Daar was al ’n paar ‘mamas’ en ‘dadas’. George het seker gemaak ‘mama’ was die eerste woord,” het Amal, wat Frans, Arabies en Engels praat, gespot.

Die gesin woon in ’n herehuis met nege slaapkamers op die dorpie Sonning-on-Thames in Engeland. Hulle het ook ’n kleiner plekkie in Los Angeles asook George se vakansiehuis langs die Como-meer.

Soggens word uitgehou vir gehaltetyd saam met die kleintjies, wat lief is daarvoor om saam met hul ouers in die bed te lê, het Amal aan Vogue vertel.

“Toe ek geborsvoed het, was dinge moeiliker omdat daar twee is, en ek het allerhande kussings en masjiene en dinge op die bed gehad om my te help,” vertel sy.

Sy erken die paparazzi agtervolg hulle nou nog meer vandat die gesin uitgebrei het en hulle “doen beslis meer dinge tuis om ons privaatheid te verseker”.

George is duidelik nog meer versot op sy vrou vandat sy ma geword het.

“Sy is nogal ’n merkwaardige mens en nou ook ma, en wanneer jy dit voor jou sien, laat dit jou ongelooflik trots voel, maar ook baie klein,” het hy skaamteloos teenoor Letterman gespog.

Op ’n ete-afspraak vandeesmaand in New York. Foto: Gallo Images/Getty Images

In September verlede jaar op die Toronto-filmfees, waar hy sy fliek Suburbicon gaan bekendstel het, het hy vertel hoe dit is om pa te wees.

“Ek huil meer as hulle,” het hy spottend aan ’n joernalis gesê. ”Hulle huil nie. Ek huil vier maal per dag omdat ek so moeg is.”

Tog sal hy dit vir niks ter wêreld verruil nie. “Kyk, ek is 56 jaar oud. Ek het nie gedink dit gaan my ooit beskore wees nie en ek het dit op ’n manier aanvaar.

“En toe ontmoet ek Amal en ek dink: ‘Maar dis te wonderlik,' en toe skielik het ons hierdie twee rakkers wat my elke dag laat lag."

Al is hy en Amal so besig, maak hulle tyd vir net hulle twee saam. Vroeër vandeesmaand is hulle tydens ’n romantiese ete in New York gesien, waar Amal tans aan die Columbia-universiteit klas gee.

Die voormalige adviseur van Kofi Annan toe hy sektretaris-generaal van die Verenigde Nasies was, is ’n besoekende lektor aan die regsfakulteit se menseregte-instituut.

Sy en George het onlangs ’n halfmiljoen dollar (sowat R6 miljoen) aan die studenteprotesoptog March for Our Lives in Washington, D.C., geskenk. Dit was om voorspraak vir wapenbeheer te doen ná die slagting by die Hoërskool Marjory Stoneman Douglas in Florida, waar 17 leerders afgemaai is.

“Ek en Amal is so geïnspireer deur die moed van hierdie jong mans en vroue van Stoneman Douglas,” het George toe gesê.

In Oktober verlede jaar by die Los Angeles-première van Suburbicon. Foto: Gallo Images/Getty Images

“In die naam van ons kinders, Ella en Alexander, skenk ons $500 000 om vir hierdie baanbrekersgeleentheid te help betaal. Ons kinders se lewe hang hiervan af.”

George keer intussen eersdaags na die kassie terug. Die voormalige ER-ster gaan ’n minireeks, Catch-22, wat op Joseph Heller se gelyknamige roman gegrond is, maak. Hy gaan daarin speel en die regisseur én vervaardiger wees.

Dit speel in Italië tydens die Tweede Wêreldoorlog af en is die verhaal van ’n Amerikaanse lugmagbombardier (die ikoniese karakter Yossarian, gespeel deur Christopher Abbott) wat sy diensvereistes probeer vervul sodat hy kan huis toe gaan.

Die reeks is duidelik ’n passieprojek vir die ster wat in ’n onlangse onderhoud erken het hy het genoeg geld dat hy nooit weer hoef te werk nie. “Ek het met my toneelspel altyd die rekeninge betaal, maar verlede jaar het ek ’n tequilamaatskappy vir ’n miljard f****n dollar (R12 miljard) verkoop. Ek het nie geld nodig nie.”

Sy pragtige gesin is blykbaar nou vir hom oorgenoeg. 

Bronne: vogue, independent.co.uk, people.com, chicagotribune.com, dailymail.co.uk, wmagazine.com