Hulle is een van die beroemdste egpare ter wêreld, ’n goue glanspaar geseën met die soort ­sjarme en invloed wat oral deure oopmaak – ook dié van die konink­like kringe wat ander sterre nie beskore is nie.

George en Amal Clooney is trouens so knus in die binnekring van die Huis van Windsor dat hulle deesdae meer hoofopskrifte oor hul verbintenis met die ­koninklike familie haal as oor dinge wat met Hollywood of menseregte ­verband hou.

Die eerste teken dat die Clooneys die koninklikes se guns geniet, was toe hulle verlede jaar Harry en Meghan se troue bygewoon het. Dié uitnodiging het baie mense verbaas, want dit was nie voorheen bekend dat hulle vriende met die Windsors is nie.

Amal en ­George by Harry en ­Meghan se troue in Me
Amal en ­George by Harry en ­Meghan se troue in Mei 2018.

Deesdae is George (57) en Amal (41) gereelde rolspelers in die lewe van die hertog en hertogin van Sussex asook dié van ander lede van die familie. Ons kyk na die Clooneys se koninklike opgang.

Die samekoms van die kragpare

Hoe hulle ontmoet het

George en Meghan is dalk albei akteurs, maar hul gedeelde liefde vir toneelspel was nie die saadjie wat die vriendskap tussen die twee egpare laat ontkiem het nie.

’n Kensingtonpaleisbron onthul George en Harry het jare gelede op ’n privaat liefdadigheidsgeleentheid in Brittanje ontmoet, en die prins het Meghan aan George voorgestel toe die vriendskap tussen hulle ernstig begin raak. Die paartjies het kort daarna gereeld begin saam kuier, voeg die bron by.

“Die vriendskap het van dag een af natuurlik ontvou,” verklap nog ’n bron.

Vinnig vriende

Meghan en Harry vandeesmaand op ’n Statebondgeleen
Meghan en Harry vandeesmaand op ’n Statebondgeleentheid.

Dis geensins verrassend dat Meghan en Amal by mekaar aanklank gevind het nie – dié twee donkerkoppe het baie gemeen.

Die voormalige Suits-ster en die mense­regteprokureur is albei trotse feministe wat boonop verder in die kollig gewerp is toe hulle op beroemde mans verlief geraak en met hulle getrou het.

Hulle deel ook ’n passie vir Pilates: Meghan is ’n aanhanger van Megaformerklasse en Amal doen blykbaar daagliks 30 minute van soortgelyke krag-en-kondisie-oefeninge.

Hulle deel ook ’n liefde vir Italiaanse kos en wyn. Amal se voorkeur is die vonkelwyn Franciacorta, terwyl Meghan op haar leefstylblog – voor sy en Harry amptelik ’n paartjie geword het – liries geraak het oor haar guns­telingrooiwyn, Tignanello Sangiovese.

Amal hou van risotto, terwyl Meghan van bolognese met murgpampoennoedels hou.

En toe Meghan ter willle van die liefde oorsee verhuis, was dit Amal – ’n Libanese boorling wat in Brittanje grootgeword het – wat haar by die lewe in Londen help aanpas het. Sy het die hertogin ook aan haar haarstilis, Miguel Martin-Perez, voorgestel.

Gesamentlike afsprake en vakansies

Die vierstuks geniet dit om saam uit te eet wanneer hul volgepropte roosters dit toelaat, sê bronne.

Hulle het ook verlede jaar vier dae saam by George se villa aan die Como-meer in Italië uitgespan.

“Clooney het hulle eintlik op sy privaat straler van Londen na Como toe gevlieg en hulle toe in ’n ongemerkte motorstoet van die vliegveld na die huis karwei,” het die koninklike korrespondent Omid Scobie aan die nuuskanaal ABC gesê.

“Amal en Meghan het meestal langs die swembad uitgehang en met die Clooney-­tweeling gespeel.”

George tot die redding

George het ’n bietjie soos ’n ridder vir Meghan geword toe hy haar al op meer as een geleentheid verdedig het.

Toe Thomas Markle, die hertogin se pa, vroeër vanjaar weer mond uit­spoel en ’n privaat brief openbaar maak wat Meghan kort ná haar troue vir hom geskryf het, het George nie geskroom om sy mening te lug nie.

“Jy neem ’n brief van ’n dogter aan haar pa en versprei dit oral,” het hy gesê.

“Dit is onregverdig teenoor Meghan en onverantwoordelik. Dit verbaas my nogal.”

Meghan se brief aan haar pa waarna George in die p
Meghan se brief aan haar pa waarna George in die program verwys het.

Hy het die manier waarop Meghan in die openbaar behandel word met die benarde posisie van haar wyle skoonma, prinses Diana, vergelyk.

“ ’n Vrou is (teen dié tyd) sewe maande swanger en sy word gevolg, beswadder en agternagesit net soos met Diana – die geskiedenis herhaal homself. En ons weet almal hoe dit toe geëindig het.”

In ’n onlangse onderhoud op ITV se Good Morning Britain het George gesê hy het genoop gevoel om in die bres te tree vir “ ’n baie goedhartige, slim en intelligente jong vrou.

 George het in ITV se Good Morning Britain vir ­Me
George het in ITV se Good Morning Britain vir ­Meghan opgekom.

“Ek dink dis by tye ’n bietjie onregverdig. Ek het al gesien hoe mense vir byna niks teen jou kan draai nie en dit het vir my ’n bietjie onregverdig gelyk aangesien Meghan niks anders doen as om bloot haar lewe te lei nie.”

Pelle met Charles

George en Amal was onder ’n handjievol glansmense wat na ’n gala vir prins Charles se liefdadigheidsorganisasie, Prince’s Trust International, genooi is – en dit nogal as eregaste.

Die Clooneys is gekiek terwyl hulle opgewek met Charles gesels. George het veral die toekomstige koning se gesel­skap geniet.

“Charles het die geleentheid gate uit geniet en selfs op die tafels begin dans . . . Ek was verbaas om dit te sien,” het die aantreklike gryskop geskerts.

“Hy het sulke goeie danspassies gehad. Sir Tom Jones het gesing; dit was pret. Dit was regtig ’n baie lekker aand.”

Amal, George en prins Charles by die gala.
Amal en George Clooney is deel van die Huis van Wi
Amal en George Clooney is deel van die Huis van Windsor se binnekring.

Kort ná die gala het die prins se trust laat blyk Charles het vir Amal ’n ambassadeursrol in sy liefdadigheidsorganisasie aangebied, en die organisasie gaan na verwagting ook die Amal Clooney-prys van stapel stuur om “jong inspirerende vroue te vereer” .

Die prys sal toegeken word aan vroue tussen 11 en 30 jaar wat ’n verskil in hul gemeenskap maak.

“Die aankondiging van die ambassadeurskap sal die Clooneys se verhouding met die koninklike familie net verder versterk,” het ’n paleisbron agterna gesê.

Platjie van ’n pa

Tuis in die Clooney-woning is George en Amal toegewyde ouers vir hul 21 maande oue tweeling­dogter en -seun, Ella en Alexander. Klein Ella is blykbaar die ewebeeld van haar ma (“Dank vader,” het George laas jaar in ’n onderhoud met Vogue gesê), terwyl Alexander meer soos sy pa lyk.

George is duidelik nog net so ’n platjie soos altyd. Volgens ’n vriend put hy amper net soveel genot daaruit om die tweeling se oppassers se siele te versondig as om pa te wees. En wanneer ’n mens George hoor praat oor die poets wat hy hul huishoudster gebak het, is dit nie moeilik om te glo nie.

Die gesin het verlede jaar almal in Italië gebly terwyl George sy nuwe minireeks, Catch 22, verfilm het. Die akteur vertel hy het “ ’n doek gevat en Nutella daarin gesit. Ek het dit in die vullisblik gegooi en toe kom ek ’n uur later in,” vertel hy met smaak.

“Daar was ’n Italiaanse huishoudster in die plek waarin ons gebly het en ek het gesê: ‘Amal wil weet of Alexander gepoefie of gepiepie het.’ Sy het gevra: ‘Wat?’

“Ek maak toe die vullisblik oop, haal die doek met die Nutella uit, maak dit oop, en ruik en proe daaraan. Sy’t geskree en uit die vertrek gehardloop.

“Ek gaan vir my kinders baie goeie truuks leer. Die lewe is vervelig daarsonder.”

BRONNE: DAILY MAIL, VANITY FAIR, HARPER’S BAZAAR, HELLO, THE INDEPENDENT, EVENING STANDARD, VOGUE
FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GREAT STOCK/SPLASH NEWS
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.