Op die silwerdoek het hy geen einde nie; ’n aantreklike gryskopman met ’n sjarmante glimlag en vonkel in die oog wat enigiemand van 19 tot 90 se hart kan steel. Maar eintlik is die akteur George Clooney (59) net ’n mens van vlees en bloed, en net so sterflik soos die res.

Hy is amper verlede Julie in ’n padongeluk dood. Dit is dié dat sy prokureursvrou, Amal, haar voet neergesit en in haar eie huishouding ’n verbod ingestel het – op motorfietse. Kort daarna het foto’s opgeduik van George wat hinkepink loop en ietwat gehawend lyk, maar oor die ongeluk het die ster toe nie veel gesê nie. In ’n onderhoud met The Hollywood Reporter het hy nou vertel hoe naelskraap hy aan die dood ontkom het.

Dit het verlede jaar in Sardinië, Italië, gebeur terwyl hy gewerk het aan die TV-minireeks Catch-22, waarvan hy die medevervaardiger en -regisseur is. George het teen sowat 112 km/h met ’n bromponie op ’n hoofweg gery toe ’n Mercedes-Benz-motor skielik voor hom inswaai en teen hom bots. Die slag “het my helm middeldeur laat breek” en “my uit my skoene geruk”, vertel George. Hy is 6 m ver deur die lug geslinger voor hy hard op die teer te lande gekom het.

“Ek het geleer ek kan regtig nie eintlik vlieg nie,” het hy gespot.

“Ek het dié les baie goed geleer.”

Maar hy was ernstig toe hy vertel sy eerste gedagte was sy nek is gebreek. “Ek het net gewag dat die skakelaar afskakel, want ek het met my kop sy (die Mercedes-bestuurder se) voorruit gebreek en gedink: ‘Oukei, wel, dis my nek.’”

Maar die geluksgodin, en ’n vriend, was aan sy kant. George se mederegisseur en -vervaardiger, Grant Heslov, het agter hom gery en hom na die ongelukstoneel gehaas. Hy het George in sy arms vasgehou terwyl hulle op ’n ambulans gewag het.

Die gesin op pad uit Sar­dinië ná die ongeluk.
Amal en George Clooney.
Amal en George Clooney.
Amal in Desember saam met die tweeling, Alexander
Amal in Desember saam met die tweeling, Alexander en Ella.

“Ek het gedink as hy leef, sal ek nooit weer motorfiets ry nie,” vertel Grant. George is later die dag met geringe beserings uit die hospitaal ontslaan. Hy is huis toe, na Amal (41), waar sy hom laat verstaan het motorfietse is nou taboe.

Maar die ervaring was in elk geval genoeg om hom van motorfietse te laat afsien, erken George, al was motorfietsry die afgelope tyd sy gunstelingstokperdjie. “As ’n mens nege lewens kry, het ek al myne reeds opgebruik; daarom kan ek vir ’n ruk motorfietsry laat staan.”

Sy ongeluk het nie die verfilming van die reeks veel vertraag nie. George was net vier dae later terug op die stel van Catch-22. Die anti-oorlog-satire in ses dele is op die kultusroman van 1961 deur Joseph Heller gegrond.

Dit volg die Amerikaanse vlieënier John Yossarian terwyl hy tydens die Tweede Wêreldoorlog gevegte probeer ontwyk en in die hospitaal beland. George wys ook gesig daarin as die paradebehepte lt. Scheisskopf; volgens ’n resensent “kwyt hy hom met oordrewe spel goed van sy taak”.

Maar al laat dit kykers lag, dra die reeks ’n ernstige boodskap oor. “Dit is goed om onsself te herinner dat oorlog in die werklikheid die lewe van talle jong mense eis,” sê hy.

“Ou mense neem besluite en jong mense sterf.”

Met Catch-22 keer hy ná net meer as 20 jaar na die kassie terug. Hy het laas op TV verskyn as die begeerlike dr. Doug Ross in die treffer-mediese reeks ER, ’n rol wat daartoe bygedra het dat die tydskrif People hom in 1997 as die sexyste man ter wêreld aangewys het.

Sedertdien het hy meestal op rolprente gefokus, onder meer die gewilde Ocean’s-reeks. Hoe voel hy daaroor dat Catch-22 as sy groot terugkeer tot televisie beskryf word?

Op dié vraag in ’n onlangse onderhoud het George gespot: “Ek het gedink ek moes ’n tiara of iets hê.”

Op ’n vergadering van die Verenigde Nasies se Veil
Op ’n vergadering van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad saam met Nadia Murad, wat beweer sy was ’n Isis-­slagoffer.

In ’n ernstiger toon het hy bygevoeg: “Dis vreemd; ek dink nie so daaraan nie. Die tye het verander. Die medium maak nie vir my saak nie; die vermoë om dinge te kan vervaardig maak saak.”

Wat natuurlik ook saak maak, is sy rol as pa. Toe George, eens ’n geswore vrygesel, onlangs in The Ellen DeGeneres Show verskyn, kon hy nie uitgepraat raak oor sy en Amal se tweeling nie.

“Hulle het hul eie persoonlikhede,” het hy oor Alexander en Ella vertel wat op 7 Mei twee geword het.

“My seun gaan buitentoe en omhels my motor en dis erg wanneer ek ry. Hy wil reg by die stuurwiel sit. En dan is my dogter bo in my vrou se klerekas met handsakke besig en sê: ‘Myne.’ Ek kan sien my lewe gaan vol pret wees.”

Al het hulle nou die berugte terrible twos binnegegaan, spog hul pa dat hulle “baie soet” is en in hul eie kamer slaap. Een ding wat hy wil “regstel”, is sy seun se voorliefde om met ’n “baie Britse aksent” te praat nes sy ma wat in Libanon gebore en in Engeland grootgeword het.

Volgens hul pa is die twee slimkoppe en hy glo hulle het hul verstand gekry by hul ma, wat as menseregteprokureur naam gemaak het.

“Hulle is nog nie eens twee nie en kan in Engels en Italiaans tot 20 tel. Ek probeer nog die Engelse deel regkry,” het hy laggend gesê.

Maar die gesinslewe is nie net pret en speletjies nie, het George in ’n podsending teenoor Scott Feinberg van Hollywood Reporter erken. Veiligheid is altyd ’n kwessie as jy ’n openbare figuur is, en noudat Amal by die eerste hofsaak teen die militante groep Isis betrokke is, het hulle nog meer rede tot kommer.

Sy verteenwoordig Nadia Murad (26), ’n Jesidiese vrou (’n Koerdiese minderheidsgroep) uit Irak wat beweer die terreurgroep het haar in 2014 ontvoer en as seksslaaf verkoop.

“My vrou vat die eerste saak teen Isis hof toe. Ons het baie probleme. Werklike, behoorlike veiligheidsprobleme wat ons op ’n taamlik daaglikse grondslag moet hanteer,” sê George.

“Ons wil nie hê ons kinders moet teikens wees nie; daarom moet ons daaraan aandag gee. Maar ons lei ook ons lewe; ons kruip nie in hoekies weg nie.”

Amal het al tevore aan USA Today gesê sy het eers die saak aanvaar nadat sy dit met haar man bespreek het en dat hulle van die gevare bewus is.

“George het Nadia ook ontmoet, en ek dink hy was om dieselfde redes as ek geroer. Hy het verstaan dat dit my werk is.”

Die gesin verdeel hul tyd tussen hul huise in Amerika en Brittanje en hul villa aan die Comomeer in Italië. Al waardeer hulle die bevoorregte lewe wat hulle lei, het roem ook sy nadele, sê George.

“Ek en my vrou wou met die tweeling in Central Park in New York gaan stap het, en dit was bloot nie moontlik nie. Ons stap by die deur uit en word deur almal omring. Daar’s ’n prys op my kinders se kop vir ’n foto. Dit is iets waarvan ons bewus is,” sê hy.

“Alles verander wanneer jy kinders het. Jy moet hulle beskerm.”

Foto: Gallo Images/Getty Images, Backgrid/Greatstock, Splashnews/Greatstock, Mario Chironi/AP, Hulu

BRONNE: USATODAY.COM, HOLLYWOODREPORTER.COM, DAILYMAIL.CO.UK, STANDARD.CO.UK