Aktrise Aamlia Uys en haar watertegnoloog-man, Sha
Aktrise Aamlia Uys en haar watertegnoloog-man, Shaun Golding, het in die inperking opnuut besef dis die moeite werd om vir mekaar te baklei. Foto: Verskaf

Sy beskryf haarself as ’n “old soul” wat al baie beleef het. “Ek is nie meer nat agter die ore nie,” sê Amalia Uys.

Die covid-19-pandemie haar tot stilstand geruk, maar ook vir haar nuwe lesse oor die lewe en liefde geleer.

“In die eerste weke van die lockdown het ek gecrash,” erken die 36-jarige aktrise uit haar en haar man, Shaun Golding (37), se tuiste in Tamboerskloof, Kaapstad.

In dié tyd moes sy die bitter teleurstelling verwerk dat die buitelugproduksie Mirre en aalwyn weens die inperking onbepaald uitgestel moes word, nadat sy spesiaal vir haar droomrol daarin leer perdry en paaldans het.

Al het haar moed destyds in haar skoene gesak, kan sy vandag, meer as ’n jaar later, sê: “Ironies genoeg het dit baie goed gegaan met my loopbaan. Die lockdown was interessant en moeilik en ek het baie groei beleef.”

Amalia Uys het die inperking gebruik om die rolpre
Amalia Uys het die inperking gebruik om die rolprente en TV-reekse in te ryg. Foto: SJ van Zyl

Nie net het sy tydens die inperking die rolle voor die TV- en rolprentkameras ingeryg nie; sy het ook nuwe insigte gekry.

“Ek is van nature ’n positiewe mens en beskou die lewe as ryk en mooi. Verhoudings is geskenke, maar alles was nie net goed en mooi nie,” sê Amalia, wat nou in die fliek Relatief jonk op DStv se Box Office te sien is.

Gerugte van onweerswolke in haar en Shaun se huwelik het aan die begin van die jaar uitgeslaan toe sy ses weke lank in haar geliefde Noord-Kaap was om aan ’n M-Net- dramareeks te werk.

Daar op die wye vlaktes het Amalia, ’n boorling van Springbok, opnuut besef hoe belangrik dit is om hard te werk aan ’n verhouding en daarvoor te veg.

“Ons is soos enige langtermyn-paartjie deur ’n moeilike tyd, maar met goeie kommunikasie en die geleentheid van ruimte wat my tyd weg in die Noord-Kaap ons gebied het, het ons weer besef dat ons vir mekaar wil veg,” vertel sy oor haar en Shaun, ’n watertegnoloog, se verhouding.

Hulle is in 2017 ná ’n verhouding van vier jaar getroud.

“Dit het my ’n dieper begrip vir die liefde gegee, my laat groei en mature. Die liefde leer jou harde lesse.

“Die inperking was seker vir elke paartjie ’n uitdagende tyd,” voeg sy by. “Die mense wat dit wel gemaak het, is ’n storie van hoop.”

Haar kenmerkende rooi hare is op die ysige Kaapse winterdag losweg onder ’n rooibruin gebreide mus ingedruk.

“Ek sit onder ’n duvet en met ’n warmwatersak op my skoot,” vertel sy op die Zoom-skermpie op die skootrekenaar. Dis vlak 4 van die huidige inperking en ons gesels maar eerder oor die kubergolwe.

Die twaalfjarige mannetjieskat, Yoyo, lyk soos ’n sneeuluiperd waar hy in die sonnetjie in die slaapkamer lê. Hy kom uit Hartbeespoortdam se geweste waar Amalia hom uit ’n werpsel by ’n winkel gered het. En nou tydens die inperking help hy haar van mismoedigheid red.

Amalia en Yo-yo. Foto: Facebook
Amalia en Yo-yo. Foto: Facebook

“Ons het ’n telepatiese band. As ek nie lekker voel nie, kom lê hy op my bors,” vertel Amalia. “Katte is nogal magiese diere. Hulle kanselleer negatiewe energie uit.”

Dan erken sy: “Nou met hierdie derde vlaag van die virus voel ek nogal die swarigheid aan my. Ons bly in die middel van Kaapstad, met dakloses se tente oral rondom ons. Nou die dag het ek gaan stap en ’n ou uit ’n asblik sien eet en in trane uitgebars.”

Sy en haar man het self nog die “kwaai trauma” weens die pandemie gespaar gebly.

“Shaun het die virus gehad, maar hy was nie erg siek nie. Hy het sy smaak en reuk verloor en was baie moeg.”

Sy verkies om hul privaat lewe uit die sosiale media te hou.

“Ek doen nie wat ek doen vir roem nie, maar om ’n kunstenaar te wees,” verduidelik Amalia wat vanjaar al 16 jaar in die vermaakbedryf is.

Nadat sy aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria matrikuleer het, het sy in 2006 haar BA.-dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Kort daarna het sy bekendheid verwerf in 7de Laan as San-Mari van Graan.

Sy het juis weer onlangs as dié karakter die Laan besoek.

Dit is nou afgesien van al die ander rolle wat tydens die inperking bly instroom het. Sy het in vyf nuwe Afrikaanse TV-rolprente gespeel.

Ná die teleurstelling toe Nicola Hanekom se plekspesifieke toneelstuk Mirre en aalwyn op die lange baan geskuif moes word, het hulle saamgewerk aan een van kykNET se 50 minute-storieflieks, Op straat. Dit gaan oor ’n alkoholis wat ’n slagoffer van ’n gesinsmoord was.

In 7de Laan. Foto: Argief
In 7de Laan. Foto: Argief

Amalia het byna weer ’n sepiekontrak onderteken, maar toe kry sy die kans om ’n “gritty” rol in die vierde seisoen van die kykNET-speurreeks Die Byl te speel. “Dit raak lekker donker en gross,” verklap sy.

Tussen alles deur was sy ook lid van die aanbiederspan van die joernaalprogram Pasella. “Ek was happy om net myself daarin te wees,” gesels sy.

Die M-Net-dramareeks is van middel Februarie vanjaar ses weke lank op Kamieskroon in die Noord-Kaap geskiet.

“Ek was mal daaroor en dit het my baie heling gebied,” vertel Amalia. In ’n koffiekroeg op die dorpie naby haar geboortedorp het sy selfs haar oupa, Theunis Uys, se boek Eenkantland met Namakwalandstories op ’n rak aangetref.

Agter haar op die Zoom-skerm is rye en rye boeke. “Ek het gelukkig op die boek The Artist’s Way afgekom.”

Dit het haar begeester om daagliks dagboek te hou, te dig en haar met fotografie ook op ’n ander vlak as kunstenaar uit te druk.

“Op die langtermyn sou ek graag iets in memoires-formaat wou skryf en publiseer, maar ek het nog nie gedink aan waaroor ek sou skryf nie.” Sy weet wel dit sal iets vir ander moet beteken.

Op haar ouderdom vra sy haarself af hoekom sy regtig hier is, sê Amalia. “As jy jonk, dronk en simpel is, dink jy nie hieraan nie.”

Dit is nou vir haar belangrik om haar eie stempel op haar werk af te druk. “Dit wat ek doen, moet ook iets vir die gemeenskap beteken.”

In Meisies wat fluit. Foto: Verskaf
In Meisies wat fluit. Foto: Verskaf

Sy was tydens die inperking ook aanlyn betrokke as mentor vir deelnemers aan die ATKV Tienertoneel.

Met drie storieflieks wat einde vandeesmaand en in Augustus geskiet word, bly sy bedrywig.

Tussen alles deur verdryf sy en haar man die winterkoue met kerriekos, lamsbredies en beesstert. Hulle bak ook pasteie en koeke en maak killer slaaie saam.

“Shaun maak ook die wêreld se lekkerste spagbol (spaghetti bolognese),” spog Amalia.

Hulle geniet dit om op paadjies deur die woude aan die voet van Tafelberg te hardloop en gaan weekliks in getypoele in die bitterkoue Atlantiese Oseaan swem.

“Dit laat ’n mens so awake voel,” sê sy. Dis soos om die lewe te vier.

Saam met Viljee Maritz en Hendrik Cronjé in Relati
Saam met Viljee Maritz en Hendrik Cronjé in Relatief jonk. Foto: Verskaf

Wat is haar raad aan pare wat veral nou tydens die inperking met verhoudingsprobleme worstel? “Om te kommunikeer en eerlik te wees – dit is baie belangrik. Hou aan praat.”

Amalia praat van eie ondervinding wanneer sy byvoeg: “Dit is die moeite werd om te baklei vir ’n verhouding. Wees outentiek in die wêreld en moenie ’n moordkuil van jou hart maak nie.”

VYF GROOT LESSE UIT DIE INPERKING

1. Uithou en aanhou. Tough times do not last, but tough people do.
2. Moenie oordeel nie. ’n Mens kan nie iemand se situasie verstaan tot jy nie self in hul skoene staan nie.
3. Vergewe en moenie griewe koester nie. Mense groei en kom tot insigte in die lewe.
4. Vergewe jouself. Selfhaat, skuld en spyt is negatiewe emosies wat jou lewe kan vernietig.
5. Bly teenwoordig en sorg dat jy ’n goeie verhouding met jouself het. Afhanklikheid van mense, objekte, middels en dies meer om jou lewendig te laat voel, is gevaarlik.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe