Dit lyk vandag kompleet asof Amalia Uys die wêreld aan haar voete het. Ver ondertoe lê die blou see van Tafelbaai na die een kant; anderkant toe lê die woelige middestad van Kaapstad uitgestrek tot aan die voet van Tafelberg.

Ons neem foto’s op ’n kantoorgebou se dak 26 verdiepings bo die grond hier in die hartjie van die Moederstad, en die dolle gejaag doer onder is in skrille kontras met die stiltes en uitgestrekte vlaktes van Namibië waar Amalia vroeër vanjaar was vir die verfilming van Huisgenoot, kykNET en The Film Factory se nuwe fliek, Vergeet my nie.

Dié buurland is ’n plek wat die rooikop-aktrise nog altyd na aan die hart gelê het; sy sê die herinnerings aan die wye ooptes is vir haar nou so helder soos ’n Namibiese sonsondergang.

Haar karakter in die fliek, Thea, is ’n vrygees wat op skepe werk en die wêreld vol reis, maar eindelik in haar geboorteland, Namibië, sielsrus vind.

“Ek identifiseer met haar omdat ek ook gek oor reis is. Ek geniet die energie van verskillende lande en kulture, maar het ook ’n waardering vir stiltes, vir plekke waar daar meestal niks gebeur nie,” vertel Amalia (35) later tydens ons onderhoud by haar en haar man, Shaun Golding (36), se huis in Tamboerskloof, aan die voet van Leeukop.

“Dalk is dit omdat ek op die Noord-Kaapse dorpie Springbok gebore is. Dis in my DNS, daardie liefde om tussen niks en nêrens te wees.”

Sy onthou die gesinsvakansies in Namibië tydens haar kinderjare. Twee van haar pa se broers het plase buite die hoofstad, Windhoek.

“Dit was gelukkige, sorgelose tye van perdry en met ’n foefieslaaid van boom tot boom swaai. My pa is lief vir 4x4-toere en ons het dikwels Namibië se agterpaaie verken.”

Amalia Uys. Foto: Jacques Stander
Amalia Uys. Foto: Jacques Stander

Wanneer die gesin nie die langpad na Namibië geneem het nie, het hulle tydens vakansies koers gekies na die Noord-Kaap.

“Somervakansies het ons gereeld op McDougallsbaai, ’n klein plekkie aan die Noord-Kaapse kus, deurgebring. My oupa en ouma aan vaderskant het ’n asbeshuisie langs die see gehad. Voor teen die muur het gestaan ‘Tuys Huys’, vir Theunis en Hester Uys. Ons was altyd ’n klomp niggies en nefies wat ure lank op die duine gespeel en met ons emmertjies en grafies sandkastele gebou het. In die baai se poele het ons geswem en op rotse geklouter.

“Ek het iewers gelees gelukkige kinderjare is die hartklop van die res van ’n mens se lewe. Vir my is dit beslis waar.”

Haar karakter in Vergeet my nie is vir ’n deel van die fliek swanger.

Amalia tydens Vergeet my nie se verfilming. Foto:
Amalia tydens Vergeet my nie se verfilming. Foto: Misha Jordaan

“In daardie opsig is ons nog nie op dieselfde plek nie. Ek is nog nie reg vir ’n kind nie, maar ek kan sien hoe die tyd sal kom,” sê Amalia. “Ek het drie keer vanjaar ’n swanger karakter gespeel,” voeg sy terloops by en spot: “Dis amper asof die heelal vir my iets probeer sê.”

Haar karakter in die stuk Be(troudag), wat by Innibos in Mbombela op die planke was, en die een in die rolprent Meisies wat fluit, wat aanstaande jaar uitgereik word, was ook swanger. Amalia het tydens haar voorbereiding vir die karakters nagelees oor hoe ’n vrou in elke trimester van haar swangerskap voel.

“Ek het baie vriendinne wat al swanger was, en dit het ook gehelp.

“’n Pluspunt van ’n karakter met ’n magie was dat ek kon eet wat ek wou. Ek het nie omgegee as my maag ná ete ’n bietjie staan nie,” lag sy.

Benewens die asemrowende tonele in Namibië is Vergeet my nie ook in Londen, Johannesburg, Potchefstroom en Kaapstad verfilm. Dit was harde werk, maar tussen die verfilming van die Londense tonele deur het Amalia ook tyd gehad om die Britse Museum te besoek, ’n kunsuitstalling van die Noorweegse skilder Edvard Munch by te woon en die Tennessee Williams-toneelstuk The Night of the Iguana te gaan kyk.

Amalia saam met Marguerite van Eeden en Sean-Marco
Amalia saam met Marguerite van Eeden en Sean-Marco Vorster vir Vergeet my nie se verfilming in Namibië. Amalia speel Thea, terwyl Marguerite en Sean-Marco die skoene van Mardaleen en Hugo Derks vol staan. Foto: Misha Jordaan

Die lewe in die Kaap behandel haar die afgelope vier jaar baie goed, sê die aktrise wat voorheen in Gauteng gebly het en eers te sien was as San-Mari in 7de Laan en toe as Margot in Binnelanders. In 2016 het sy Kaap toe getrek.

“Alles het vir my oneindig nuut geword. In Johannesburg het ek nie noodwendig mooi na myself gekyk nie en was ek in ’n paar liefdesverhoudings wat skeefgeloop het. Dis ’n vinnige omgewing waar jy voortdurend van die een geselligheid na die volgende beweeg. Dit was pret, maar nie volhoubaar nie.

“Ek het myself hier in die Kaap gevind: die mens wat ek is en dit wat vir my belangrik is. Ek doen weer klein goedjies wat my gegrond laat voel, soos om my geliefkoosde vlugtige olie met room te meng en dit oor my hele lyf te smeer, joga te doen, wierook te brand en kaalvoet te loop.”

Hier is sy nie net naby aan Tafelberg en die see nie, maar ook aan haar ouers, Celia en Abé (albei 69), wat op Port Owen aan die Weskus afgetree het.

Sy en Shaun, ’n watertegnoloog, is nou twee jaar getroud.

“Ek het begrip as mense sê die eerste twee jaar van ’n huwelik is die moeilikste. Dis anders as daardie verliefdheidsfase. Nadat die troue verby is, bevind jy jouself in die regte wêreld.”

Amalia verduidelik hulle moes onder meer leer om die uitdaging te hanteer van haar werk wat haar dikwels weg van die huis af neem. Kommunikasie en ondersteuning is twee belangrike bestanddele in hul huwelik.

View this post on Instagram

Ek het jou lief @shaungolding ????

A post shared by Amalia Uys (@amaliauys) on

“Ek is baie trots daarop dat ons so goed kan praat en mekaar met soveel respek hanteer.”

Hulle doen moeite om hul verskillende wêrelde bymekaar te bring.

“Hulle sê nie verniet dis harde werk nie, maar terselfdertyd hou ’n huwelik baie belonings in.

“Voor Shaun my leer ken het, was die Bakgat!-flieks die enigste Afrikaanse vermaak wat hy geken het,” lag sy oor haar Engelssprekende man.

“Hy het nie ’n vooropgestelde idee oor my gehad nie. Hy gee glad nie om of ek bekend is of nie. Hy vind dit baie amusant as mense my op straat herken.”

Sy het hom aan die wêreld van teater en kunsuitstallings bekendgestel. Hy is weer sportief en het by haar ’n liefde vir stap en draf in die berge gekweek.

Al is hy ’n wetenskaplike denker wat met wiskundige formules werk, is hy ’n baie kreatiewe mens, vertel Amalia.

“Hy geniet dit om in die tuin te werk, hou van bak, en ons pak saam projekte aan.”

Hulle eksperimenteer graag met kos en het al saam ’n kookkursus gedoen.

“Ons fokus op dit wat ons geniet om saam te doen.”

Hulle is veral lief vir reis. In 2015 het hulle die suide van Frankryk verken; verlede jaar het hulle saam met Amalia se beste vriendin, die Getroud met rugby-aktrise Christel van den Bergh, en haar man, JP van der Merwe, in Italië en Griekeland uitgespan, en vanjaar was hulle in Israel.

Benewens haar werk as aktrise geniet sy ook die aanbiedingswerk wat sy vir die SABC2-leefstylprogram Pasella doen. En van 15 Januarie is sy saam met die KFM-omroeper Zoë Brown te sien as medeaanbieder van die splinternuwe reeks Trap! Dis my huis op VIA.

In dié reeks gaan 50 deelnemers ’n tweeslaapkamerhuis deel wat toegerus is met net genoeg kos, toiletpapier en beddegoed vir twee mense.

“Die groot uitdaging is dat die huismaats drie weke in die huis van 80 vierkante meter moet deurbring sonder om dit te verlaat. Sommige mense besluit die ervaring is nie vir hulle nie en verlaat die huis vrywillig.”

Maar daar is ’n geldprys op die spel vir die deelnemer wat laaste oorbly, en dis vir baie deelnemers aanloklik om te probeer uithou . . .

“Kykers kan uitsien na trane, drama, ’n stryery en ’n bietjie romanse,” verklap Amalia oor die reeks wat vir haar groot pret was om aan te bied.

Sy skiet tans aan die kykNET-drama Bertie se plek, waarin sy die hoofkarakter, Bertie, gespeel deur Wilhelm van der Walt, se eks, Inge, speel. Die reeks word volgende jaar uitgesaai.

Wanneer dit klaar is, gaan sy weer ’n stokperdjie van lank gelede afstof en begin perdry ter voorbereiding vir haar rol in ’n Nicola Hanekom-toneelstuk, Mirre en aalwyn, wat volgende jaar op die planke gaan wees.

Haar oë blink, opgewonde om nog ’n herinnering uit haar sorgelose kinderdae te herleef. Want al is sy tuis hier in die stad met sy gewoel, bly iets in haar daardie kaalvoet meisie van die Noord-Kaap en die Namibiese vlaktes.

  • Vergeet my nie is deur die liefdesverhaal van Mardaleen en Hugo Derks van Gobabis, Namibië, geïnspireer en word volgende jaar op Valentynsdag, 14 Februarie, landwyd op die silwerdoek uitgereik.

Stilering: Wagheeba January; Grimering: Efraine van Heerden; Wit rok en serp: Witchery