Die verhoog is pikdonker. Dan gaan ’n kollig aan en ’n vrou verskyn – met ’n gebalde vuis in die lug.

“Strydom Amandla!” roep sy uit en kondig haarself dan aan: “Bipolêr. Sluit haar liewer op. Dié wêreld is my woning nie. Totius sou verstaan.”

Die ge­balde vuis.
Die ge­balde vuis.

Amanda Strydom se konsert in die Stellenbosch-stadsaal by vanjaar se US Woordfees was ’n reis na binne, een waar sy haar lewensverhaal met die gehoor deel. En oudergewoonte draai die veelsydige sangeres, aktrise, kabaret- en woordkunstenaar nie doekies om nie.

Sy erken prontuit sy het ’n “chemiese wanbalans, gehoortoestelle, ’n linkerheup van titaan en plastiekknie links” en spot: “So dans jy op 63.”

Al het sy net 30% gehoor in haar regter­oor, skort niks met haar onmiskenbare stem vol rou emosie nie. Sy word deur die pianis Coenraad Rall begelei en sing liedjies uit haar groot repertoire. Sy verweef stories en poësie met die musiek.

Sy eindig met Edith Piaf se Non, Je Ne Regrette Rien (geen verwyte nie) en die gehoor juig haar staande toe.

’n Dag ná die optrede kry sy kans om te gesels. Sy is gedaan, maar sprankelend.

“Ek het ’n paar blase aan my voete en moeë stembande. Maar dit gaan nie lank hou nie. Die lewe is kort. Môre vee die wind ons spore dood. Wees nóú.”

Vier dekades

Amanda vier vanjaar vier dekades in die bedryf en het in dié tyd volksbesit geword. Sy is ook in Nederland gewild, waar sy sedert 2007 jaarliks optree.

Benewens haar stadsaalkonsert was sy op die Woordfees ook in twee ander produksies, die nuwe Suid-Afrikaanse mis deur Antjie Krog, MI(SA), en Toe Ek 20 Was, die sangvertoning ter herdenking van die Woordfees se twee dekades.

En op die Klein Karoo Nasionale Kuns­te­fees (KKNK) in Maart op Oudtshoorn sou sy feesgangers trakteer op haar kabaret Miss Mandy. Die titel is die bynaam wat haar vriend Johannes Kerk­orrel haar destyds gegee het.

Sedert die ontstaan van die KKNK ’n kwarteeu gelede tree Amanda elke jaar op die fees op en sy sou vanjaar daar vereer word met Kunste Onbeperk se prys vir ’n lewensbydrae tot musiek.

Die sangeres het haar loopbaan eintlik as verhoogaktrise begin. Sy was 22 toe sy in 1979 ná ’n dramagraad aan Tukkies by die toneel­geselskap van die Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste aansluit in die destydse Nico Malan-teater, nou die Kunstekaap.

Nadat sy later daardie jaar die hoofrol in die Franz Marx-­rolprent Pasgetroud aangebied is, het sy vryskut begin werk. Dis ook die jaar waarin sy haar eerste liedjie, Ek Loop die Pad, geskryf en begin sing het.

'Ek is wie ek is'

“Woorde praat deur my,” vertel sy.

“Mense na aan my het altyd gesê ek moet sing, maar ek het geen sangopleiding nie. Ek is wie ek is. Ek wil vir mense genesing bring en wil hê my werk moet hulle lekker laat lag en huil. Hulle moet uit die ?teater stap met ’n gevoel dat hulle totaal en al vermaak is,” vertel sy.

Het sy dit die vorige aand in die Eikestad reggekry?

“Dit was nie ’n ligtelike konsertjie nie; daar was diepte. Daarom voel ek beter. Jy moenie prekerig wees nie. En jy moet vir jouself kan lag. Jy moet die masker afhaal.”

In die 1980’s was Amanda saam met mense soos Laurika Rauch, Anton Goosen, Jannie du Toit en Koos du Plessis deel van die musiek-en-­liriekbeweging.

Dié groep Afrikaanse sangers het hul eie liedjies begin skryf eerder as om oorsese treffers te ­vertaal.

Strydom Amandla

Sy kyk terug op dié tyd en vertel meer oor die oorsprong van die nou bekende “Strydom Amandla”-kreet en gebalde vuis.

“My loopbaan was mooi en lieflik en hunky-dory. Maar in 1986 het iets in my wakker geword. Een aand was daar ’n insetsel in die TV-nuus oor die eerste mens wat deur die halssnoermetode, waar ’n brandende motorband om die slagoffer gesit is, vermoor is.

“Die land was in ’n noodtoestand; ons het nie eintlik geweet wat in die townships aangaan nie. Daardie aand het ek besef dis afgryslik.”

Sy het daarna ’n liedjie oor die pas­wette, Die Pas, geskryf. Op die verhoog eindig sy altyd dié lied met die swartmagsaluut en roep “Amandla!” Van die lirieke lui: My madame noem my An. ?My mama noem my Ntombi. Ek dra ’n pas in my stukkende jas. En ek wag, en ek wag . . . Nkosi Sikelel’ iAfrika, en ek wag.

Amanda het dit die eerste keer in 1986 in die Oude Libertas-teater op Stellenbosch gesing, waar een deel van die ?gehoor haar toegejuig en die ander deel haar uitgejou het.  

'Afrikaans is vry,' sê Madiba

“Die mense na aan my het nie geweet of ek die kluts kwyt is nie. Maar ek kon nie terug nie,” vertel sy oor haar po­litieke bewus­wording.

Sy het ’n ikoniese foto uit 2001 van haar wat Madiba ’n klapsoen gee. Dit was net ná die KKNK, waar sy saam met ander kunstenaars vir oudpres. Nelson Mandela gesing het.

“Hy het die mooiste toespraak in Afrikaans op die fees ge­lewer. Hy het die Groot Verseboek op­gelig en aangekondig Afrikaans is vry.”

’n Soen vir Madiba.
’n Soen vir Madiba.

Toe sy kort daarna by ’n gastehuis in Kaapstad deur rottweilers aangeval word, het ’n besorgde Madiba dit in die koerant gelees en vir haar gaan kuier.

“Dis waar die klapsoenfoto geneem is.”

Daarna het Amanda en haar man, Tony de Beer (72), twee keer by Madiba gaan eet.

“Dit was soos om by jou oupa te kuier; altyd hoender en soetwyn.”

Sy sê Tony “is die beste ding wat in my lewe met my gebeur het”.

Toe hulle mekaar in 1991 in Johannesburg ontmoet, het hy ’n fabriek gehad wat koffietafels maak. Hy het later leer klank doen. Hulle is al 26 jaar getroud en hy behartig die klank tydens haar vertonings.

Sy en Tony de Beer is al 26 jaar getroud.
Sy en Tony de Beer is al 26 jaar getroud.

Dit was so hittete of Amanda was vir ons musiekbedryf verlore nadat bipolêre gemoedsteuring in 1989 by haar gediagnoseer is. Sy kry sedertdien behandeling en gebruik daagliks medikasie om die siekte te bestuur, maar dit het haar loopbaan vir ’n anderhalfjaar onderbreek.

Toe sy ná ’n paar weke uit ’n psigia­triese inrigting ontslaan word, was mense in die vermaakwêreld eers lugtig om vir haar werk te gee. Haar psigiater het haar aangeraai om iets te doen wat haar roetine gee.

“As jy wil genees, kry vir jou ’n werk van agt tot vyf,” was sy raad.

Sy het ’n betrekking by ’n versekeringsmaatskappy gekry. Daar het sy eers polisse verkoop en later bemarkers in tele­foonkommunikasie opgelei.

Die agt-tot-vyf-werk was die regte medisyne, maar sy was bly toe Johannes Kerk­orrel haar 18 maande later, in 1991, daar kom “uitsleep” vir sy Bloudruk-album.

“Jy gaan backing vocals doen,” het hy aangekondig. Dit was die begin van haar terugkeer en sy het weer begin sing, TV-rolle gekry en haar eerste eenvrouvertoning, State of the Heart, geskryf.

“Ek het nie geweet iets is fout met my nie, tot ’n dokter my vertel het. ’n Klad, ’n stigma, kleef nog aan geestesongesteldheid. Daarom praat ek openlik daaroor,” sê sy.

Sy het in 1997 die toneelstuk In Full Flight geskryf wat geïnspireer is deur haar pad met bipolariteit.

“Psigiaters het gekom met hul pasiënte; dominees het kom luister saam met lidmate wat aan depressie ly of met bipolêr saamleef.

I came out en dis die beste ding wat ek vir myself kon doen. Mense praat agter jou rug. Vertel hulle: ‘Kyk na my. Ek staan nog hier en doen wat ek doen. En ek doen dit beter as ooit tevore. Want ek weet wie ek is.’

“Ek het minder geword. Dan kan die talent wat jy ontvang het beter deur jou skyn.” 

Amanda deur die jare

Die Sonskynsusters (1982) met Pieter-Dirk Uys, Laurika Rauch en Wilna Snyman


Skielik is jy vry: Theater Diligentia in Den Haag, 18 Desember 2010


Pelgrimsgebed opgeneem tydens klanktoets in die Carré-teater in Amsterdam, 25 September 2008.


Opname vir kykNET se Trippe Trappe Tone-reeks in 2013


Stellenbosch-woordfees 2018

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.