In ’n nuwe boek, My Amy: The Life We Shared, skryf
In ’n nuwe boek, My Amy: The Life We Shared, skryf Tyler James, Amy Winehouse se beste vriend, dat hy sy bes gedoen het om haar met haar verslawing te help. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Dis ’n dag wat hy nooit sal vergeet nie. Tien jaar gelede het Tyler James teruggekeer na die huis wat hy gedeel het met Amy Winehouse, sy beste vriendin en huismaat van byna ’n dekade lank.

’n Ambulans het buite geparkeer gestaan. Op die boonste verdieping is sy dood in haar kamer aangetref.

Twee dae tevore is hy daar weg. Dit was sy jongste taktiek om haar te laat ophou drink. Dokters was oortuig dat alkohol tesame met die uitwerking van bulimie haar dood sou beteken.

“Ek het nie meer idees gehad nie,” onthou hy.

Soos gewoonlik het sy hom ’n dag later gebel: “Is jy oukei? T, kom asseblief huis toe.”

Toe hy op 23 Julie 2011 sy sleutel in die deur druk, was ’n paramedikus in die gang – niks ongewoons met dié dat sy gedurig in haar ou gewoontes verval het nie.

Maar toe daag nog ’n ambulans op en nog ’n paramedikus hardloop met die trap op. Dié keer was daar groot fout.

Amy was toe al drie jaar lank skoon van heroïen en crack.

“Sy kry nooit erkenning daarvoor nie,” sê Tyler (39).

Die paparazzi, wat permanent buite die huis in Camden Square in Londen kampeer het, soos by haar vorige woonplekke, het alles tot en met haar dood vasgevang: haar uitgeteerde lyf weens bulimie, haar heroïenverslawing, haar selftoegediende wonde, haar vernietigende en dikwels gewelddadige verhouding met Blake Fielder-Civil – haar gewese man en die inspirasie vir haar lirieke vir die ongelooflike album Back to Black van 2006.

Amy en haar eksman, Blake Fielder-Civil. Hy het ha
Amy en haar eksman, Blake Fielder-Civil. Hy het haar aan heroïen blootgestel. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Ook haar kenmerkende pienk balletskoene vol bloedspatsels is deur die alomteenwoordige fotograwe vasgevang – en hoe sy met haar wankelende byekorfhare en baldadige oogomlyner by karre in- en uitgetuimel het.

Vir buitestanders het ’n tragiese einde onvermydelik gelyk. Maar Tyler, die seun wat sy op 12 by die Sylvia Young-teaterskool ontmoet het en met wie sy haar hele volwasse lewe sou deel, het dit nooit so gesien nie.

Saam het hulle platekontrakte losgeslaan.

Amy se naaste vertroueling, Tyler James.
Amy se naaste vertroueling, Tyler James. Foto: Shutterstock/Greatstock.

Van die twee is voorspel dat Tyler die popster sou word met sy Leonardo DiCaprio-voorkoms – vandag nog sigbaar, maar ietwat afgetakel – en Justin Timberlake-stem.

Vir ’n gelukkige periode het hulle geld gehad en in ’n kar met ’n afslaandak in Miami rondgerits. Maar dit het nie lank gehou nie.Tyler se platemaatskappy, Island, het hom ná ’n wankelrige begin die trekpas gegee. Dit was die begin van sy eie verslawing aan drank en dwelms, waarvan hy later op Amy se onkoste gerehabiliteer is.

Sy het haar eerste album, Frank, op 20 uitgereik. Toe sy dit opvolg met Back to Black, het sy met die druk van wêreldroem en haar eie verslawings begin worstel.

Daarvandaan was dit ’n afdraande pad tot haar dood op 27.

Amy en Tyler
Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hul verhaal is dié van twee jong vriende wat deur roem vernietig is. Een het oorleef en die ander nie.

“Amy was my wêreld. Ek het nog nooit weer daardie band met iemand gehad nie en sal dit nooit weer hê nie. Ek het haar liefgehad. Ek het ’n doel gehad. Ek het ’n werk gehad (om haar gesond te maak) en dis al wat ek wou doen.”

Hy sê buitestanders het geen benul van die hel wat sy deurgemaak het nie.

“Amy was ’n meisie in haar 20’s wat sukkel met verslawing, en almal het toegekyk. Wanneer jy vir rehabilitasie gaan, moet jy die sterkste wees wat jy al ooit in jou lewe was, terwyl jy eintlik die swakste is wat jy al ooit was. En sy moes dit voor ander mense deurmaak. En ek wil hê mense moet verstaan hoe moeilik dit vir haar was; dat hulle moet weet hoe dit was en moet ophou om haar as hierdie gedoemde mens te sien.”

Kort voor die 10de herdenking van haar dood het hy ’n roerende boek oor sy lewe saam met sy beste vriendin geskryf.

My Amy: The Life We Shared is in Junie uitgereik. 

Tyler, wat in munisipale behuising in Canning Town in die ooste van Londen grootgeword het, vertel daarin alles van hoe hy en Amy mekaar op 13 by ’n teaterskool ontmoet het nadat hy ’n beurs losgeslaan het, tot die einde toe hy vir haar ’n liefdesbrief geskryf en dit langs haar as in die begraafplaas neergesit het. 

Back to Black was die no. 1-album in 19 lande. In die video vir die liedjie is Amy by ’n grafsteen en plaas sy ’n nota op ’n boks met as en neem afskeid van die minnaar wat haar “back to black” gestuur het.

Dis gegrond op haar verhouding met Blake Fielder-Civil, wat die heel eerste keer vir haar heroïen aangebied het.

Die video was profeties: Haar geliefdes sou op die ou end notas op die boks met haar as neersit.

“Mense dink hulle ken Amy se verhaal, en vanselfsprekend kan sy nie self haar storie vertel nie. Maar ek wou vertel hoe dit vir haar was om in daardie wêreld te leef. Met daardie vlak van roem, daardie vlak van indringing, daardie gebrek aan privaatheid. Ek dink nie mense besef regtig watter uitwerking dit op ’n mens het nie.

“Sy het na normaliteit gehunker. Die grootste ding wat vir Amy opgefoeter het, was om beroemd te wees.”

Tyler vertel afgryslike stories – hoe sy haarself met gebreekte spieëls gesny en borde kos opgebring het wat sy naarstiglik verslind het; “selfmedikasie” met eindelose middels; geld wat elke week in bruin papiersakke opdaag, niemand het geweet waarvandaan dit kom nie – of dalk wou niemand vra nie.

Wie het die dwelmhandelaars betaal wat in ál duurder pakke en ál luukser motors daar opgedaag het?

“Ek weet nie of dit een mens of meer as een was nie,” sê Tyler. “Natuurlik was dit Amy se geld.”

Sy het ná haar heroïenverslawing aan hom gesê: “T, ek het maklik ’n halfmiljoen op dwelms geblaas. Dis sinneloos. Ek kon ’n huis gekoop het. Ek kon vir jóú ’n huis gekoop het.”

Nie net die dwelmsmouse het ryk geword nie. ’n Musiekbaas se vrou het ten aanhore van ander opgemerk: “Ek gee nie ’n hel om of sy dood neerval nie – ek soek net daai verdomde villa in Frankryk.”

Amy en Tyler.
Foto: Gallo Images/Getty Images.

Dis ’n verhaal van privaat trauma, maar ook ’n ekonomiese storie: Die Winehouse-masjien was miljoene werd.

Dis ook ’n tragedie in die ware sin van die woord: die verhaal van ’n jong vrou wat met ’n ongelooflike stem geseën is, maar nie geestelik sterk genoeg was om die druk van roem te hanteer nie. Sy was skaam, in haarself gekeer en gekwel, selfs op 14 toe sy op antidepressante gesit is.

Amy en Tyler.
Foto: AAI Fotostock.

Selfs nadat sy drie jaar voor haar dood harde dwelms gelos het, was drank altyd daar, besig om haar van binne af te takel – saam met die bulimie waaraan sy jare lank gely het.

Dit het haar gehelp om die angs te hanteer omdat sy nie aan verwagtinge kon voldoen nie – omdat sy nie “Amy Winehouse” kon wees nie.

“Ek het altyd vir haar gesê: ‘Dis beter om net as Amy te leef as om dood te gaan omdat jy Amy Winehouse probeer wees. Die ware Amy was skaam en in haarself gekeer. Ek het nie van die ander Amy gehou nie.”

Wanneer Amy dronk was en oor haar drinkery gekonfronteer is, het sy op Tyler geskree, hom so beledig dat hy al in ’n kas weggekruip het of op die onderste verdieping agter ’n oefenfiets geslaap het sodat sy moet dink hy het gewaai.

“Ek was ál vriend wat sy toe oorgehad het; ál mens wat heeltyd by haar was en wat nie daarvoor betaal is nie.”

Amy en Tyler.
Amy en Tyler. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die res van die tyd was sy lieftallig en skaam en wou net wegkom – nie van die lewe self nie, maar van roem. Dit was hierdie weergawe van haar wat gemaak het dat hy bly.

Tyler huil terwyl ons praat, pleit selfs: “Asseblief, asseblief verstaan hoe moeilik dit vir haar was.”

By wie pleit hy? By my? Ek dink dis by almal, die wêreld. Dis ontstellend.

Hy is baie dierbaar en innemend. Jy sien hom nie juis in ’n wêreld van rock ’n’ roll-disfunksie nie.

‘T, roem is soos terminale kanker. Ek sou dit vir niemand toewens nie’

Hy rook die een sigaret ná die ander. Tien jaar ná haar dood is hy steeds verlore sonder sy vriendin. Hy het nooit herstel nie.

“Sy is die liefde van my lewe,” sê hy. “Amy was my sielsgenoot. Ons was twee helftes van dieselfde mens. Ek het my nooit die lewe sonder haar voorgestel nie. Sy was my beste vriend. Dit was nooit seksueel nie, maar dit was soos om my vrou te verloor. Eintlik erger: soos om my vrou aan ’n siekte te verloor.

“Ek het dit oorweeg om myself dood te maak. Maar my ma het vir my gesê: ‘Ek wil nie wees waar Mitch (Amy se pa) is nie. Jy moet sterk bly.’ Ek het vyf jaar lank nie geleef nie; ek het net oorleef.”

’n Week ná Amy se begrafnis het die twee mans wat die durendste teenwoordigheid in haar lewe was – Tyler en haar pa, Mitch – na die huis in Camden Square teruggegaan.

Hoewel Amy voor haar dood met Reg Traviss, ’n regisseur, uitgegaan het, was daar langs haar bed twee foto’s van Tyler, een van Mitch en een van haar oorlede ouma Cynthia.

Amy se as is langs haar ouma Cynthia begrawe in di
Amy se as is langs haar ouma Cynthia begrawe in die Edgwarebury-begraafplaas in Londen. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Mitch het die boonste kussing op haar bed vir hom geneem en Tyler die tweede een, ’n beige sykussing wat na aarbeisjampoe geruik het.

Hy het ook ander aandenkings gevat: een van die valse byekorwe wat sy gedra het, ’n paar pienk balletskoene, ’n serp, en briewe en notas wat sy deur die jare vir hom geskryf het om te sê hoe lief sy hom het, hoe talentvol hy is en hoe graag sy wil hê hy moet verlief raak.

Toe haar bestuurspan later haar boedel afhandel, het Tyler haar tromstokke, ’n hangertjie en ’n haartangetjie met twee klein hartjies gekry. “Ek is mal oor daai tangetjie,” sê hy. “Dis so eie aan haar.”

Tyler hou al dié memento’s in ’n swart gimsak. Hy haal soms die kussing uit en druk dit teen sy gesig om haar geur in te asem.

Van die besittings ruik ná 13 jaar steeds soos crack, sê hy. “Dis ’n reuk wat nie weggaan nie.” Dit kan ’n metafoor wees oor hoe blywend skade kan wees.

Sy het teen die einde dikwels in die bed gesit met ’n skoonheidsmasker en ’n nagrok aan. Die kombuiskaste was vol heilsame kos en aanvullings wat haar stadig help herstel het. Maar dit was nie genoeg nie.

Tyler woon deesdae by die familie van ’n vriend op ’n plaas ’n uur buite Galway in Ierland. Hy het sy droom van ’n sangloopbaan laat vaar ondanks ’n kortstondige terugkeer na die vermaakbedryf.

Hy het in 2012, ná Amy se dood, ingestem om in The Voice te verskyn, ’n besluit waaroor hy bitter spyt is. Die rapper will.i.am was sy mentor – hy het tweede gekom.

Sy toewyding aan Amy op so ’n belangrike ouderdom in sy eie lewe het gekom nadat hy sy platekontrak verloor het. Hy’t self skaars aan die gang gekom.

Amy se pa, Mitch Winehouse, en Tyler ná haar dood
Amy se pa, Mitch Winehouse, en Tyler ná haar dood in haar huis in Camden Square. Tyler vertel die paparazzi het permanent buite haar huis kampeer. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Nadat Amy feitlik oornag beroemd geword en Blake weer op die toneel verskyn het, het Tyler so te sê Amy se versorger geword.

Dit was ’n rol wat haar familie, insluitend Mitch, wat haar de facto-“tweede bestuurder” was, waardeer het.

Hy het Tyler van die begin af geken. Tyler het soms vir Amy gesê: “Het jy enige idee hoe gelukkig jy is?”

Maar sy sou antwoord: “T, roem is soos terminale kanker. Ek sou dit vir niemand toewens nie.”

Tyler het die afgelope 10 jaar verskeie betrekkings gehad, waarvan die laaste op ’n bouterrein in Londen was. Daar het hy die vriend ontmoet wat hom na die plaas in Ierland gelei het, waar hy ’n groot deel van die boek geskryf het.

Al wat Amy ooit vir hom wou gehad het, sê hy, was om liefde te vind. Sy het dit vir hom tydens die telefoonoproep kort voor haar dood gesê.

Hy het dit nooit op ’n blywende manier gevind nie, afgesien van sy verhouding met haar. En dit was platonies, behalwe een soen in ’n nagklub toe hulle tieners was.

“Sy was soos my suster,” sê hy. “Amy was my familie. Amy was my wêreld. Dis so ’n seldsame ding, en ek is baie dankbaar daarvoor.”

Hy skryf in sy boek: “Ek het skaars ander vriende gehad omdat Amy altyd eerste gekom het.”

Maar die tol wat dit geëis het – die trauma waarvan hy getuie was saam met die hartseer oor sy verlies – is sowat vier jaar gelede tot ’n spits gedryf.

Hy het toe nog in Londen gewoon.

“Ek het wakker geword en briesend kwaad gevoel. Ek het goed gebreek en gehuil . . . Dit was ’n verskriklike dag. Maar ek het al dié dinge begin neerskryf, net as notas op my foon. Die volgende dag het ek beter gevoel. Toe skryf ek meer, en dit was soos ’n uitlaatklep. Dit was ’n katarsis, soos om alles vir ’n terapeut te vertel – iets wat ek nooit gedoen het nie. Ek het besef ek is die naaste mens aan Amy wat sy het om haar stem te laat hoor.”

Sedert Amy se dood is daar baie oor haar geskryf. Die bekendste was haar pa se uitstekende boek, Amy, My Daughter (2013), daarna Loving Amy: A Mother’s Story (2015) deur Janis Winehouse.

In daardie selfde jaar is Amy, die bekroonde dokumentêre rolprent deur Asif Kapadia, uitgereik.

Mitch het sy steun daarvoor onttrek toe hy sien daarin word gevra in watter mate sý lewe om sy dogter se sukses gedraai het.

Daar was ook die vraag oor hoeveel van haar vroeë depressie – lank voor haar roem – deur sy affair veroorsaak is.

Daar is ook altyd die onderliggende vraag: Kon daar meer gedoen geword om Amy teen die musiekbedryf en haarself te beskerm?

Amy se laaste optrede voor haar dood op 23 Julie 2
Amy se laaste optrede voor haar dood op 23 Julie 2011 was in Junie daardie jaar in Belgrado, Serwië. Dit was ’n rampspoedige vertoning met Amy wat dronk geraak het net voor sy op die verhoog moes klim. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Op die laaste rampspoedige Europese toer – wat eindelik gekanselleer is – is sy in ’n kar gestop en toe op ’n vliegtuig gesit vir ’n vlug na Belgrado, Serwië, om daar op te tree sonder dat sy ’n benul gehad het van waar sy was.

Tog was daar talle ingrypings, baie daarvan op aandrang van die familie, soos Tyler dit duidelik stel.

“Mitch het ’n baie slegte reputasie gekry. Ek sê nie hy het nie foute gemaak nie. Ek het foute gemaak. Ek kan my nie indink om die dinge te verwerk wat hy deurgemaak het nie. Om iemand met ’n verslawing te hanteer is moeilik. Mense beskou hom as iemand wat net in die geld belanggestel het, maar dis glad nie hoe ek hom sien nie.

“Ek dink nie Mitch het sy dogter uitgebuit nie. Mitch het Amy lief – liefgehad, liefgehad. En sy het hom aanbid en verafgod. Hy was ’n liefdevolle pa. Ek blameer niemand nie – nie die musiekbedryf nie, nie Mitch nie, nie Amy se bestuurspan nie. Ek blameer verslawing. Dis waaraan ek my vriendin verloor het.”

Tyler het nie op die begrafnis op die sitplek vir haar wederhelf gesit nie. Dit is deur Reg Traviss ingeneem. Hy het langs Reg gesit.

“Tot vandag toe sal iemand my op straat voorkeer en sê: ‘O, jy’s Amy Winehouse se beste vriend.’ Hulle ken dalk nie eens my naam nie. Maar dit pla my nie, want ek is trots daarop. Ek voel: Ja! Ek was gelukkig om daardie vrou te ken.

“Ek is nie spyt dat my lewe moes wag nie. Sy sou dit vir my ook gedoen het. As jy iemand liefhet, is dít wat jy doen. Jy vlug nie net nie.”

My Amy: The Life We Shared deur Tyler James.
My Amy: The Life We Shared deur Tyler James. Foto: Verskaf.
  • My Amy: The Life We Shared deur Tyler James, uitgegee deur Macmillan, R292 (aanbevole prys).
© THE TIMES MAGAZINE/NEWS LICENSING
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.