So glo die Boer soek ’n vrou-deelnemer Anchen van Rensburg (27) vuur en vlam. Veral noudat sy liefde gevind het by nog ’n boer wat vir dié maatsoekprogram ingeskryf het.

Anchen het aanvanklik vir Boer Graham van Cradock ingeskryf. Sy was een van sy top vyf-pasmaats, maar is in die vierde episode sak en pak huistoe.

Aanhangers van die gewilde program is verlede week geskok met die nuus dat een van die gunstelingpaartjies van die 12de seisoen, boer Graham en Ilne se verhouding verbrokkel het.

Anchen van Rensburg
Anchen en Gerrit. Foto: Verskaf.

Deesdae is Anchen en boer Gerrit Genis (32), ’n sitrusboer van Citrusdal in die Wes-Kaap, ’n paartjie. Gerrit het vir dieselfde reeks ingeskryf, maar het nie genoeg briewe ontvang om verder in die reeks deel te neem nie.

Maar nou het Kupido sommer self ’n liefdesbriefie afgelewer en die tweetjies koer sedertdien behoorlik.

“Ons pas so goed bymekaar. Ek sê nog gereeld vir Gerrit dit voel of ek elke dag droom,” vertel Anchen opgewonde aan Huisgenoot.

Dat sy aanvanklik vir ’n ander boer geskryf het, sal ook nie die verhouding van stryk bring nie. “Ons grap daaroor. Daar is ’n rede hoekom ek vir Graham ingeskryf het en dat dit nie uitgewerk het nie. Ek is bly ek en Gerrit is nou bymekaar,” sê Anchen.

Anchen van Rensburg
Foto: Verskaf.

Anchen is tans ’n graad een-ondewyseres van Bredasdorp, maar sy verklap dat sy en Gerrit hard soek vir ’n werk in Citrusdal. “Die ryery is mal,” vertel Anchen oor die sowat 300 km tussen Bredasdorp en Citrusdal.

Anchen het in Desember weer na al die boere se inskrywings-video’s aanlyn gaan loer en boer Gerrit s’n het vir ’n tweede keer haar oog gevang.

“Dit klink dalk soos ’n cliché, maar my aanvanklike keuse was tussen Graham en Gerrit. Ek het gemeenskaplike vriende met Graham en hulle het vir my gesê hy is baie oulik, toe skryf ek vir hom in,” verduidelik Anchen.

Anchen van Rensburg
Foto: Verskaf.

Sy het vir Gerrit in die sosiale media gaan soek en vir hom op Facebook ’n uitnoding om vriende te raak gestuur. Hy het toe vir haar ’n boodskap gestuur. “Van toe af gaan daar nie ’n dag verby wat ons nie met mekaar praat nie,” sê Anchen. Op 2 Januarie vanjaar het die tweetjies ’n paartjie geword, en kan hulle nie gelukkiger wees nie.

“Ons is albei ’n bietjie ouer. Ons weet wat ons wil hê,” vertel Anchen. “As ons kon, sou ons môre verloof raak en trou. Ons weet ons wil bymekaar wees,” voeg sy by.