André Schwartz
Die sanger André Schwartz vertel hy moes opnuut leer dankbaar wees om net asem te haal nadat hy vier weke lank weens covid-19 gehospitaliseer was. Foto: Willem Botha

Kies jy vrees of kies jy genesing? 

Dít was die vraag waarmee die sanger gekonfronteer is toe hy – in ’n verbete stryd teen covid-19 – meer as vier weke lank gehospitaliseer was en by die dood omgedraai het.

Vandag – net ses maande later – praat hy oor sy enkelsnit, “Ek haal asem”, wat juis gebore is uit dié vreesaanjaende dans met die dood.

André, by wie die ongeneeslike toestand motorneuronsiekte in 2018 gediagnoseer is, vertel hy was met vakansie in Kaapstad toe hy op 18 Desember hoor hy het covid-19 opgedoen. 

André Schwartz
André het op 18 Desember gehoor hy het covid-19 opgedoen en in sy stryd met dié virussiekte by die dood omgedraai. Foto: Willem Botha

“Ek het by pelle in Clifton gebly en die oggend van 18 Desember seker eers 10:30 wakker geword,” onthou André. “Ek slaap nooit so laat nie en het dadelik vermoed iets skort. Ek is later dieselfde dag hospitaal toe en is onmiddellik opgeneem.” 

Tóé het hy nog nie geweet dat hy in die komende weke om sy lewe sal moet baklei nie, vertel André. 

“Ek was regdeur Kersfees in die hospitaal, maar dit het my nie getraak nie. Hierdie ding trek jou so plat dat die dae by jou verbyvlieg sonder dat jy dit agterkom,” sê hy.

Op 23 Desember het dokters die nuus gebring: Hulle het alles moontlik gedoen om hom in hierdie siektestryd te help – nou sou hy moes terugbaklei soos nog nooit vantevore nie.

“Laat ek met jou eerlik wees vandag,” sê André reguit. “Dis deur die genade van die Here dat ek hier is vandag, ja. Daaroor is daar nie by my twyfel nie. Maar jy moet self verskriklik hard teen hierdie ding baklei – jy mag nie toelaat dat dit jou geestelik en emosioneel aftakel nie. Dís wanneer covid-19 sy kloue net dieper inslaan.” 

André is vol lof vir ’n hospitaalverpleegster, Claudette Lotz, wat hom op die vooraand van Kersfees na die intensiewesorgeenheid van die hospitaal laat skuif het. “Sy het gesê sy gee nie om wie wat sê nie, sy skuif my na daardie saal. En dit het ook ’n enorme rol in my herstel gespeel.” 

Dis híér waar hy besef het hy moet ’n keuse maak tussen vrees en genesing, vertel André.

“Ek het daar in die hospitaalbed gelê en dinge visualiseer wat vir my rustigheid en vreugde gebring het. Soos ek wat in my huis op die bank voor die televisie lê. ’n Mens ervaar maar baie angs en jou emosies is konstant op hol. Dis belangrik om jou gedagtes gefokus te probeer hou – en om na dokters uit te reik wanneer jy voel jy kan die angs nie hanteer nie.” 

André Schwartz
André se jongste enkelsnit, “Ek haal asem”, is op 9 Julie uitgereik. Foto: Verskaf/Willem Botha

André is ontslaan, maar terug in Gauteng het hy weer siek geword. Hy is vir ’n tweede keer opgeneem – hierdie keer in ’n Johannesburgse hospitaal – en weer ontslaan. Ná sy tweede ontslag uit die hospitaal moes hy nog vir twee weke lank van ’n suurstofmasker gebruik maak.

“Dit was . . . sjoe, wild. Erg. Ek onthou ek was eendag by die huis toe ek skielik gevoel het iets was anders. Dit was nes ’n epiphany toe ek besef: Ek haal self asem. En dit was ’n wonderwerk,” vertel André.

Sy liedjie “Ek haal asem” is uit hierdie ervaring gebore. Hy het dit geskryf met insette van die musikant Loki Rothman. Loki het ook die verwerking van die enkelsnit behartig.

Die lirieke van die liedjie lui: Geweet ek kan nie gaan nie / geweet ek wou nie los nie / was nog nie reg vir groet nie / was nog nie reg vir koebaai nie / ek haal asem.

Vir hóm is dit ’n soort oorwinning- én ’n dankbaarheidsliedjie, sê André. “Wanneer ’n mens deur so iets gaan of so ’n gebeurtenis beleef, besef jy: Dis net genade om asem te haal – dis al.” 

Die liedjie is al op 9 Julie op digitale platforms beskikbaar gestel en die musiekvideo word vandeesweek verfilm. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe