Hy onthou die dag toe hy homself in ’n donker slaapkamer toegesluit het, verpletter deur die nuus dat hy aan ’n ongeneeslike siekte ly – een wat hom moontlik van alles kan stroop.

“Skielik was my liggaamlike broosheid ’n tasbare werklikheid. En dit het my vrek bang gemaak,” erken André Schwartz oor die diagnose in April 2018 dat hy motorneuronsiekte (MNS) het.

Daar in die donker kamer het die besef van sy eie verganklikheid hom tot stilstand geruk. Die lewe het hom by ’n kruispad gebring: Óf hy sou gaan lê óf hy moes terugbaklei.

Foto: Lubabalo Lesolle
André het vrede gemaak met sy diagnose en lewe nou ’n vol lewe. Foto: Lubabalo Lesolle

“Die werklikheid was wreed,” sê die bekende sanger in ’n openhartige onderhoud met Huisgenoot. “Niemand weet hoe vinnig ek sal verswak nie – of selfs hoe lank ek sal leef nie. Maar op daardie dag móés ek eenvoudig besluit: Hoeveel tyd ook al, ek gaan dit nié alleen en toegesluit in ’n kamer deurbring nie.”

Die afgelope byna twee jaar het hy woord gehou en voluit geleef, vertel hy.

“Ek hou lekkerder konsert as ooit. Nou is daar ’n groter doel – om my pad met ander te deel in die hoop dat dit iets vir iemand kan beteken,” sê André, wat nog net so gereeld optree as voorheen.

Sy diagnose het juis sy nuwe konsert en album, albei getiteld Die Pad, geïnspireer. Albei vertel van hoop.

Die treffer “Ek wil jou nooit weer sien” waarvoor hy destyds bekend geword het, is een van die liedjies wat eersdaags op die klankbaan van Huisgenoot, kykNET en The Film Factory se nuwe fliek, Vergeet my nie, opklink. Die fliek is van 14 Februarie landwyd op die silwerdoek te sien.

Waar ons in die koelte op die stoep van sy plaashuis by die Wieg van die Mensdom in Gauteng gesels, lyk André vandag blakend gesond.

En hy vóél gesond, sê hy. Al “opvallende teken van verswakking” is dat hy die gebruik van die linkerkant van sy tong verloor het. Dit bring mee dat trilklanke soos “r” nie meer so lekker van sy tong kan afrol nie, maar dit is geensins merkbaar in sy spraak en sang nie.

 Foto: Facebook/AndreSchwartzOfficial
André saam met die vermaakkunstenaar Coenie de Villiers tydens ’n gesamentlike musiekuitvoering. Foto: Facebook/AndreSchwartzOfficial

Hy het die eerste keer agtergekom iets haper met sy tong terwyl hy in 2018 in ’n verhoogproduksie van The Sound of Music die rol van kapt. Von Trapp vertolk het.

Eers het hy gedink dis net moegheid, maar later het hy tog besluit om ’n dokter te raadpleeg.

Twee neuroloë het bevestig hy het MNS, dieselfde verlammende toestand wat die Boklegende Joost van der Westhuizen se lewe in Februarie 2017 geëis het. “Ek het geen ander keuse gehad as om hierdie siekte te aanvaar nie,” sê André.

“Nou leef dit saam met my, maar op my eie voorwaardes.”

Hy het net ná die diagnose doelgerig op ’n plan besluit: Hy sou die ergste moontlike scenario navors en dan daarvan vergeet.

“Ek móés daarna gaan kyk. Ek wou weet wat die verswakking moontlik vir my kan inhou. Dis nie mooi nie . . . Maar ek het dit gevat en in ’n boks weggebêre. Ek wil dit nie herbesoek nie. Ek neem kennis daarvan en kies dan om op die hier en nou te fokus.

“Selfbejammering is vernietigend. Ek wou nooit by die Here weet hoekom ék nie. Want daai ‘hoekom’ vreet aan jou. En wanneer dít in jou psige is . . . Ek moes vir myself sê: Natuurlik is ek nie gelukkig hieroor nie. Natuurlik het ek nie vrede nie. Maar ek het geen ander keuse nie.”

En nou?

Sonder aarseling antwoord hy: “Vandag het ek vrede. Net ná my diagnose het ek self nie geweet wat ek hieruit behoort te leer nie. Ek het MNS. Maar moes almal daaroor huil? Nee. Die trane sou geen betekenis hê nie.

“Ek het myself een ding beloof: Ek gaan nie in vrees leef nie. Want vrees en geluk kan nie saambly nie; dis onmoontlik.”

Hy het net twee jaar voor die diagnose uit Johannesburg plaas toe getrek en hier in die huis met sy prentjiemooi uitsig en gesellige stoep kom nesskop. Voor ons strek berge en dale uit met lowergroen velde, kleurryke blomme en inheemse bome wat wild groei.

“Min het ek toe geweet hoe helend die natuurskoon net ’n jaar of wat later sou wees,” vertel hy oor sy pad met MNS.

“Ek het lank gewonder of ek my ma sal vertel. Ek was so ver van enige ooglopende probleme. Ek het haar vriendinne gebel. Elkeen se raad was: ’n Ma sal wil weet.” 

Net hier – op dieselfde bankie waar ons nou kuier – moes hy die nuus aan sy ma, Ina Schwartz (86) van Krugersdorp, oordra.

André saam met sy ma, Ina Schwartz. Hy beskryf haa
André saam met sy ma, Ina Schwartz. Hy beskryf haar as ’n steunpilaar. Foto: Facebook/AndreSchwartzOfficial

“Sy was sterk en wou dadelik weet: Wat doen ons nou? En dís waarvandaan my krag kom. Ek is nou hier, en jis, dis goor. Dis vrek aaklig. Maar ek gaan nie net terugsit nie.”

Hy aarsel. Skielik sukkel hy om die trane terug te dwing. “Ek word regop gebid,” sê hy dan in ’n stem wat breek.

“Ons het nie ’n idee hoe helend liefde is nie. Dis veral die onverwagte liefde van vreemdelinge – die liefde wat ons almal in ons het en eenvoudig te min met mekaar deel.

“So ’n siekte beroof ’n mens so dikwels van jou idee van ’n ‘doel op aarde’. Maar nie vir my nie. Ek het purpose gekry – juis oor my siekte. Jy leef meer bewustelik. Jy soek waarde in die dinge waaraan jy tyd gee. En dis bevrydend.

“Ek wens ek het vroeër dié perspektief gehad. Want ons almal het dit binne ons – die vermoë om te weet wanneer ons onnodig kwaad is of moet aangaan. Nou sien ek soveel duideliker.”

Dis danksy positiewe denke, glo hy, dat hy steeds elke dag kan aangaan.

Sedert die begin van 2018 ontvang André gereeld 10 opeenvolgende dae behandeling met ’n binneaarse middel in ’n poging om die geleidelike aftakeling van sy spiere te vertraag. Dan volg 14 rusdae voor die volgende behandelingsessies.

“Ek het sommer al geleer hoe om die drup self toe te dien sodat dit nie ontwrigtend vir ander mense raak nie. Ek het anderdag gereken ek moet ’n boek skryf oor al die plekke waar ek dit al gedoen het,” vertel hy laggend.

Soos hier op die stoep terwyl hy saam met vriende kuier, “met ’n gin in die een hand en ’n drup in die ander”.

Die medikasie is geen wondermiddel nie en kan newe-effekte hê, maar hy ervaar gelukkig weinig daarvan.

“Soms maak dit my lekker moeg. Maar van hoofpyne en dergelike dinge is daar nie sprake nie. Wanneer ek moeg raak, gaan slaap ek net ’n rukkie en dan gaan ek weer aan. Hoe bevoorreg is ek nie . . . “Ek móét glo God het ’n groter plan met my lewe. Anders begin ’n ou wonder hoekom vriende met MNS so drasties verswak. Dit breek jou hart. Jy weet die verswakking kom ook vir jou, maar ek bêre dit weg; ek dink nie daaraan nie.” Is hy bang vir die toekoms en wat dit alles kan inhou? Hy aarsel nie.

“Ek sien uit na die toekoms. Ek was nog nooit bang vir die dood nie. Dood is dood. Ons gaan tog almal sterf. Hoe ons gaan sterf – dís die eintlik vraag.”

Die liefde van geliefdes en aanhangers dra hom van dag tot dag.

Hy hou nou lekkerder konsert as ooit tevore, verte
Hy hou nou lekkerder konsert as ooit tevore, vertel André. Foto: Miemie Wolmarans

“Kort-kort kom iemand ná die vertoning en deel hul eie verhale van seer. Of hulle kom sê net hulle is lief vir my en bid vir my. En elke keer, sonder uitsondering, is ek gegooi. En al wat ek kan dink, is hoeveel goedheid daar nog werklik is.

“Ek dink nie meer die lewe is wreed nie. Ek is nie kwaad nie; ook nie verbitterd nie. Ek staan elke oggend op en juig oor nog ’n kans. Ek weet nou hoeveel kapasiteit ek het – en almal anders – om ’n betekenisvolle lewe in liefde te lei.”