Tydens die operasie is daar ook gekyk of daar enige weefselskade is ná André Vrydagaand weens septiese skok in die hospitaal opgeneem is, sê Corné Oosthuizen van CO Produksies.

Volgens Corné voel André “stukke beter”.

View this post on Instagram

GO BOKKE! #rugby #springboks #bokke #southafrica

A post shared by Andre Schwartz (@andreschwartzsa) on

Corné sê dít wat André in die hospitaal laat beland het, hou nie regstreeks met sy MNS verband waarmee hy in April 2018 gediagnoseer is nie. 

“Die vermoede is dat ’n kiem sy liggaam binne gegaan het deur die port wat in sy bors ingeplant is. Hy kry sy MNS drup-behandelings deur dié port. Daar word nou gewag vir die kulture om te ontwikkel om die kiem te identifiseer,” sê Corné aan Huisgenoot.  

“Sodra die gogga geïdentifiseer en behandel is, sal hulle ’n nuwe port inplant,” sê Corné. 

André se aanhangers was Saterdagoggend geskok toe die sanger ’n foto van homself in ’n hospitaalbed in die sosiale media deel. “Interessante manier om Valentynsdag te eindig! In die ICU ná skeptiese skok. Dit gaan nou baie beter,” skryf hy.

“André voel baie beter en is in goeie luim. Hy kan nie wag om terug op die verhoog te wees nie,” sê Corné. 

André het onlangs aan Huisgenoot vertel dat ten spyte van die uitdagings van motorneuronsiekte het hy vrede en wil hy ’n hê die pad wat hy stap moet vir ander iets beteken. 

Sy diagnose het juis sy nuwe konsert en album, albei getiteld Die pad geïnspireer. Albei vertel van hoop. 

Behalwe vir die moegheid wat hy ervaar weens die medikasie wat hy neem is daar geen sprake van hoofpyne en dergelike dinge nie. 

Al “opvallende teken van verswakking” is ook dat hy die gebruik van die linkerkant van sy tong verloor het. Dit bring mee dat trilklanke soos “r” nie meer so lekker van sy tong afrol nie, maar dit geensins merkbaar in sy spraak en sang is nie. 

“Ek móét glo God het ’n groter plan het met my lewe. Anders begin ’n ou wonder hoekom vriende met MNS so drasties verswak. Dit breek jou hart. Jy weet die verswakking kom ook vir jou, maar ek berê dit weg; ek dink nie daaraan nie,” het André vertel. 

In hierdie stadium is dit nog onduidelik wanneer die Ek sal wag-sanger ontslaan sal word.