Hoewel die skrik groot was, is André weer op die been en aan die werk. Van stilsit is daar nie sprake sedert hy ’n week gelede uit die hospitaal ontslaan is nie.

Die sanger het alreeds vroeër die week weer begin repeteer vir sy konsert Die Pad, wat by vanjaar se Woordfees op Stellenbosch te sien sal wees is. 

View this post on Instagram

Doing what I love most! Lekker week almal en dankie @lightlounge_studio_sa vir die foto. #singer #singersofinstagram #singersongwriter #pop #musicals #afrikaans

A post shared by Andre Schwartz (@andreschwartzsa) on

“Dit gaan baie goed met André, en die personeel by die hospitaal was ongelooflik. Hy sien uit daarna om sy produksie met ’n vierstuk-orkes met sy aanhangers te deel,” sê Corné Oosthuizen van CO Produksies.  

André was vir ’n week in die hospitaal. Corné het voorheen aan Huisgenoot vertel die septiese skok waarvoor André behandel is, hou nie verband met die motorneuronsiekte wat in April 2008 by die sanger gediagnoseer is nie. 

“Die vermoede is dat ’n kiem sy liggaam binnegegaan het deur die port wat in sy bors ingeplant is. Hy kry sy MNS-drupbehandelings deur die port.” 

Die sanger het ’n operasie ondergaan om die verbinding waardeur hy binneaarse behandelings vir MNS ontvang, te verwyder, en ’n nuwe port sal in ’n latere stadium ingeplant word. 

Die sanger het onlangs in die sosiale media sy dankbaarheid teenoor sy aanhangers uitgespreek vir hul ondersteuning: “Ek is tuis en dit voel wonderlik. Ek het deur my boodskappe gelees en ek is besonder diep geraak deur al die liefde, omgee en gebede. 

“Ek het beslis die heel beste Facebook-vriende ooit. Daar is selfs hondjies wat liefde stuur! Dit was nou regtig nie ’n storie wat ek weer sou wil herhaal nie, maar met dank kan ek sê dat hierdie ervaring maar slegs nog ’n klippie op my pad is.

“Ek is dankbaar die insident is nie MNS-verwant nie. Wanneer jy ’n port in jou lyf het, is daar ’n risiko. 

“Die hospitaalsorg was voortreflik. Ek moet bieg, ek kon doen sonder al daai klokkies in intensief en die aaklige tannie wat elke oggend om vier-uur bloed kom trek het! Maar nou is ek tuis en ek doen goed en is sommer blitsvinnig aan die werk vir vertonings in Maart. 

“Baie baie dankie nogmaals vir al die gebede en liefde. Dit genees.”