Weens die covid-19-pandemie en die inperking wat daarop gevolg het, moes hulle hul tyd in Suid-Afrika verleng. Anel het in Februarie vanjaar teruggekeer na Suid-Afrika om aan die dramareeks Inconceivable te begin skiet.

“Ek het begin Maart in die land aangekom en my vlug terug Los Angeles toe was reeds bespreek vir 25 Mei. Toe word die inperking op 27 Maart afgekondig en James was in daardie stadium in Los Angeles. Ons was drie maande apart voor hy ’n repatriasievlug na Suid-Afrika kon kry,” vertel Anel. 

En nou is sy baie bly om weer terug te wees in hul huis in Los Angeles. 

Sy het onlangs op Instagram onthul sy was “234 dae” weg van haar huis in Amerika voor sy eindelik kon terugkeer. “Ek was 234 dae laas by die huis,” het Anel geskryf by ’n foto van haar en James in ’n vliegtuig. “Ek hoop my honde gaan ons nog onthou,” het sy laat hoor.

“Die vlug was baie vreemd,” vertel sy aan Huisgenoot. “Daar was net 40 mense op die vliegtuig, die personeel ingesluit. Dit het die verskriklike lang vlug na die ander kant van die wêreld ’n bietjie beter gemaak,” laat sy hoor. 

“Ons het via Heathrow-lughawe (in Londen) gevlieg en dit was stil en skoon. Die lughawens is soos spookdorpe. Ek en James reis baie en hierdie keer was daar geen gejaag met paspoortbeheer soos ander tye nie.”

Haar tyd in Suid-Afrika is van die beplande twee maande na meer as sewe en ’n half maande verleng, maar sy is dankbaar vir die tyd wat sy tydens die inperking saam met haar familie en vriende kon deurbring. 

“Dit was spesiaal, want jy kon op ’n ander manier tyd saam met mense deurbring, want niemand kon êrens heen gaan nie. Die ander ding wat natuurlik lekker was, is dat ek weer kon werk. En dié keer net voor die kameras.”

In die dramareeks Inconceivable, wat nou op M-Net te sien is, vertolk Anel die rol van die ginekoloog Marieke Meye, wie se vriendin Rachel (Carine Rous) uit desperaatheid ’n ander vrou se baba steel nadat haar eie dogter doodgebore is. Rachel betrek dan Marieke by haar web van leuens. 

“Dit was lekker om saam met ’n klomp vriende te werk. Ek het in Inconceivable saam met ou vriende gewerk en ook wonderlike nuwe, interessante akteurs ontmoet. Dit was ook ’n baie emosionele ervaring, sowel die storielyn as die konteks waarin ons dit geskiet het,” sê Anel. 

Benewens haar rol in Inconceivable het Anel ook weer in die skoene van Sophie Ferreira geklim in die fliek Klein Karoo 2. Verfilming daarvan is in Oktober voltooi. 

“Dit was soveel pret. Dit was ook lekker om weer in die Swartberge te gaan skiet,” vertel sy. Die rolprent speel in die Matjiesrivier-vallei buite Oudtshoorn af. “Dit is regtig my gunstelingplek in Suid-Afrika.

 “Ek het so lekker gekuier saam met Leandie du Randt, Pierre Breytenbach, Tim Theron en Hykie Berg, wat almal in die eerste fliek was. En natuurlik ook saam met Sisanda Henna wat saam met my in Inconceivable ook is,” vertel Anel. Sy beskryf Klein Karoo 2 as “ ’n projek wat jy aanpak om net weer saam met vriende te kan kuier”. 

Terug in Los Angeles was Anel en James se hondekinders, Jozi en Oscar, vreeslik opgewonde om weer met hul eienaars herenig te word. 

“Een van ons grootste probleme in LA is altyd om iemand te kry om na ons honde te kyk. Ons ken ’n klomp mense hier, maar die lewe is anders as wat ons in Suid-Afrika ken. Eers het goeie vriende van ons, die regisseur Michael Matthews van Five Fingers for Marseilles-faam en Chloe Williams, na die honde omgesien terwyl hulle hier aan ’n fliek gewerk het.

“Daarna het ’n vriend van ’n vriend vier of vyf maande in ons huis gebly en na die honde omgesien. Hy was fantasties en in tipiese LA-mode was hy (die countrysangeres) Dolly Parton se ontwikkelingsassistent,” verklap Anel. 

“Die honde was baie bly om ons te sien; dis altyd ’n gelukkige reünie. Dis net spoeg en lek en als,” voeg sy by. 

Vir eers het Anel en James geen projekte wat hulle in die nabye toekoms in Amerika gaan aanpak nie, maar sy is baie opgewonde daaroor om die teks vir die fliek Semi-soet 2 te voltooi saam met Sandra Vaughn.  

“Covid het natuurlik al ons planne so ’n bietjie in die wiele gery, maar ons hoop regtig om vroeg volgende jaar te kan skiet. Ek en Sandra is amper klaar geskryf en ons is verskriklik opgewonde. Ek het reeds gaan kyk na plekke om te skiet terwyl ek in Suid-Afrika was.”