As jou pa en ma albei hul brood en botter voor die TV-kameras verdien en gereeld op die rooitapyt verskyn, kan jy maar weet dis jou voorland om uit alle hoeke afgeneem te word – selfs nog voor jy jou eerste skree gegee het.

Vra maar vir klein Leonard Ludik. Toe hy besluit om op 30 Oktober, byna twee weke voor sy verwagte geboortedatum, sy opwagting te maak, het pa Stefan (37) die operasiesaal “amper soos ’n teaterstel ingerig”, vertel sy ma, Anelle (33), wat Suna Bosman in 7de Laan speel.

Hy het sommer ’n paar selfone opgestel om sy seun se geboorte met ’n keisersnee “van alle kante af te verfilm sodat ons elke oomblik sal kan onthou”, verduidelik die sanger-akteur.

’n Afstandbeheerde luidspreker het sagte klassieke musiek op die agtergrond gespeel, kompleet soos ’n klankbaan vir die grootste produksie van hul lewe.

Skuins voor elfuur daardie Dinsdagoggend was die nuwe Ludik daar – 49 cm lank; ’n bondeltjie mens van 2,87 kg.

Stefan glimlag verleë toe hy terugdink aan die oomblik toe hy sy seun die eerste keer vashou. Dis nou minder as drie weke later, en hy verwelkom ons by die gesin se huis in Randburg, Johannesburg.

Baba Leonard Foto: ER Lombard

Hy is as die sanger Elvis Se Seun gewoonlik gemaklik in die kollig, maar daar is geen manier hoe hy hierdie gevoel in woorde kan uitdruk nie, sê hy. Dis ’n groter oomblik as op enige verhoog.

’n Bietjie later som hy dit tog kragtig op: “Van opwinding tot verligting.”

Waar ons kort ná klein Leonard se geboorte op die stoep sit en gesels, is die oggend stil en kalm. Die klassieke klanke van ’n Mozartkomposisie klink uit die klankstelsel in die sitkamer op.

Al wat verklap daar lê êrens in die huis ’n baba en slaap, is die opgevoude stootwaentjie in die sitkamer. Leonard is nie iemand wat kerm nie; hy is eintlik rustig, vertel Stefan met ’n groot glimlag.

“Solank hy net elke drie uur gevoer word, is hy gelukkig en stil.” Hy het die voorreg gehad om hul pienkvoet se naam te kies.

“Dis nie ’n familienaam nie, maar net ’n naam wat lekker sterk in Afrikaans en Engels gesê kan word,” verduidelik hy.

“Anelle kan die volgende een se naam kies.”

Die nuwe pa se oë straal van trots toe sy donkerkopvrou oomblikke later met hul eersteling toegedraai in ’n kombersie in haar arms uitgestap kom. “Ons is so bevoorreg, man!” sê Stefan terwyl Anelle liefdevol na hom kyk.

‘Ek kon nie wag om ons seuntjie te sien en vas te hou nie’

Die kleinding het die jong egpaar, wat in April vanjaar getroud is, eintlik heeltemal kom verras, vertel sy. “Ons het hom mos eers op 12 November verwag.”

Die eerste teken dat Leonard ander planne gehad het, was toe sy ma twee dae voor sy geboorte moeër as gewoonlik gevoel het.

Dit was die Sondagmiddag nadat vriende by hulle kom braai en swem het. Anelle het gedink dis maar die dag wat haar uitgeput het.

Net voor middernag het sy krampe begin kry en besluit om die volgende dag na haar ginekoloog te gaan.

“Net ingeval, al was ons datum eers 15 dae later,” vertel sy.

Toe sy die volgende oggend in haar motor klim, het sy op die ingewing van die oomblik vir Stefan gevra om “maar mamma se tas in die kar te laai”.

Die Ludiks het self die pragtige babakamer in sagte grys en blou skakerings versier. Foto: ER Lombard

Die Ludiks is albei perfeksionisties, en haar hospitaaltas was teen daardie tyd al kant en klaar gepak. Sy onthou toe sy by die huis weg is, het sy nog vir die baba gesê: “Boeta, as jy nou al wil kom, is ons reg vir jou.”

Die ginekoloog het besluit om haar dadelik in die Fourways Life-hospitaal in Johannesburg te laat opneem en die operasiesaal is vir ’n keisersnee die volgende oggend bespreek.

“Daar was niks fout met die baba of met die swangerskap nie. Leonard het maar net besluit hy kom vroeër as wat ons verwag het,” verduidelik Stefan.

Dit was die langste 24 uur van die hele swangerskap, voeg hy by. “Ek was so opgewonde. Ek kon nie wag om ons seuntjie te sien en vas te hou nie.”

Daar was geen komplikasies met die geboorte nie en ma en seun is blakend gesond. Kykers van 7de Laan het ’n hoogswanger Anelle nog tot vroeg in November op die kassie in die rol van Suna Bosman gesien, maar dié tonele is al in September verfilm.

“Die hele TV-span was so besorg oor my. Hulle het my behoorlik op die hande gedra,” onthou sy.

Suna sal wel terugkeer na die Laan, “want daar is mos die bespiegeling oor wie se kind sy dra . . . ”, laat sy die aap effens uit die mou. Anelle werk ook as ’n agent by die talentagentskap Legends, maar neem tot Februarie volgende jaar verlof.

“Ons is al twee baie betrokke ouers, en ek gaan hom beslis tot dan self versorg,” sê die ma, wat haar babaseun borsvoed.

Stefan was nog tot vroeg in November op die stel van Getroud met Rugby, waar hy as Divan Landman aan sy storielyn verfilm het.

Pa en seun. Leonard het met geboorte 2,87 kg geweeg. Foto: ER Lombard

Kykers kan dié tonele einde Desember sien. Vir die res van die jaar het hy geen TV-werk aanvaar nie om soveel moontlik tuis te wees.

Sy boererockgroep, Elvis Se Seun, sal tot voor Kersdag net een of twee keer per week optree. Dan gaan die gesin op Hartenbos uitspan.

Baba Leonard begin sagte kreungeluidjies maak hier waar hy op die stoep in sy ma se arms lê.

“Hy gaan binnekort wakker word vir voedingstyd,” voorspel sy met ’n teer glimlag.

Pa en ma het sy babakamer in skakerings van blou en grys versier en die kunstige Anelle was self verantwoordelik vir die geskilderde diereprente teen die muur.

Anelle is ook verantwoordelik vir die kunswerke teen die muur. Foto: ER Lombard

Die dieretema het sy oorsprong by die “leeu” in Leonard se naam.

Anelle se ouers, Paul en Agnes Bester van Hermanus, kuier nou hier by hulle.

Die ander grootouers, Paul en Susan Ludik van Namibië, kom binnekort hul kleinseun ontmoet.

As alle swangerskappe so lekker is, is sy reg om dadelik weer swanger te raak, terg die nuwe ma met duiweltjies in haar oë.

Stefan lag eers net, maar dan gee hy toe: “Dit sal awesome wees om ’n dogter-seun-kombinasie te hê. Maar nie nou dadelik nie, hoor!”