Louw Breytenbach
Die TV-aanbieder Louw Breytenbach wag op die uitslae van kankertoetse nadat dokters drie vergroeisels aan sy bors en rug opgemerk het. Foto: Verskaf

Die onsekerheid oor sy kankeruitslae knaag aan hom en laat dit voel asof die dae verbysleep, sê die TV-persoonlikheid Louw Breytenbach.

Louw, die aanbieder van Drama Mammas op Via, sê hy moes verlede week onder die lem gaan om minstens twee vergroeisels te verwyder wat moontlik kwaadaardig kan wees.

Die TV-aanbieder vertel dokters het hom aangeraai om dadelik ’n spesialis te besoek, omdat sy familie ’n geskiedenis van kanker het.

“Ek het vir my gewone, jaarlikse mediese ondersoek gegaan toe my huisdokter die twee vergroeisels – iets soos moesies aan my bors en rug – opgemerk het,” vertel Louw.

“En toe kom die slag: dit kan moontlik kanker wees.” 

Die gewraakte "k-woord" is nie aan hom onbekend nie, sê Louw.

Ses jaar gelede is prostaatkanker by sy pa, Pieter Breytenbach (62), gediagnoseer, maar dit is tans in remissie. Kanker is ook by nog minstens een ander familielid gediagnoseer.

Louw Breytenbach
Louw wys die letsel aan sy bors waar dokters die een vergroeisel verwyder het. Foto: Verskaf

“Die belangrikste was om die vergroeisels dadelik te ondersoek,” sê Louw. “Dokters moes die twee vergroeisels onder narkose verwyder en daarby saam ook ’n kolonoskopie uitvoer, omdat ’n derde vreemde gewas in my kolon opgemerk is.” 

Die onsekerheid ry hom, vertel Louw. “Jong, die lewe druk maar ’n bietjie in hierdie stadium,” sê hy en gee ’n skugter laggie.

Dan meer ernstig: “Dit voel amper asof daar te veel onsekerhede in een gegewe stadium is: dis die coronakrisis en die verwoesting wat die virus saai, maar nou is daar ook die moontlikheid dat ek hierdie uitdagende pad sal moet stap.” 

Dokters kon vir hom tot dusver nog geen aanduiding gee nie, sê Louw. Hy verwag om die uitslae van die toetse teen eerskomende Vrydag (26 Februarie) te ontvang.

“Ek is maar een groot bol senuwees in hierdie stadium. Dis ’n verskriklike moeilike ervaring, maar die ergste is die wag. Dis asof jou gedagtes weghol met jou – jy dink aan daardie ‘wat ás’, en dis vreesaanjaend.”

Louw Breytenbach
Foto’s van die letsels aan sy liggaam wys waar dokters die twee vergroeisels verwyder het. Foto: Verskaf

Nou wil hy ander opnuut daaraan herinner om hulle gesondheid eerste te stel, vertel Louw.

“Ek wil aan ander sê: kyk na jouself en gaan vir daardie mediese ondersoek. As ek dit gelos het, kon dit jare geneem het voordat ek besef het daar is fout. Ek wil graag mense aanmoedig om hulle gesondheid eerste te stel.”

Maar al is dit ook slegte nuus, sê Louw, weet hy hy is sterk genoeg om ook hierdeur te kom. Dis immers nie die eerste beproewing op sy lewenspad nie. 

Die aanbieder was in 2019 ook in die nuus nadat hy in Junie van daardie jaar betrokke was in ’n ongeluk waarin drie mense dood is. Louw het laataand met sy voertuig teen ’n stilstaande sleepwaentjie agter ’n minibustaxi gebots. Hy het in Julie verlede jaar aan Huisgenoot vertel dat postraumatiese stressteuring en angs ná die ongeluk by hom gediagnoseer is.

Terwyl hy nou die ure aftel tot wanneer hy sy uitslae gaan ontvang, bly hy hoop vir positiewe nuus, sê Louw.

“Ek is nou al op hierdie punt waar ek vir myself gesê het: ás dit kanker is, gaan ek met alles binne my daarteen baklei. My pa het dit oorwin en ek het hom daarteen sien baklei, daarom gee dit my die moed om te sê ek sal net so hard soos my pa baklei as ek dan slegte nuus moet ontvang. En, nes my pa, sal ek dit dan hopelik ook oorwin.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe