Die 14-jarige het die Kentucky Derby, ’n tradisie wat Anna Nicole ook geniet het, onlangs saam met haar pa, Larry Birkhead, bygewoon en sy het alte stylvol gelyk in ’n helderblou pak met ’n wit verehoed daarby. 

“Dannielynn het eerste gekom in haar @jovanifashions-broekpak en ’n pragtige wit verehoed,” skryf Larry in ’n Instagram-plasing. 

“Sy het gesê sy wou iets heel anders dra as wat sy voorheen gedra het. Ek skat dit beteken geen meer meisietjie-rokkies nie?”

Die trotse pa het ook ’n rits hutsname bygevoeg, onder meer een wat vier dat sy dogter se draadjies afgehaal is, skryf People.com.

Met haar blonde lokke, smal neus en mooi glimlag trek Dannielynn baie op haar ma. Met Dannielynn se geboorte het sy om meer as een rede in die kollig beland. Haar halfbroer, Daniel Wayne Smith, is net drie dae tevore aan ’n dwelmoordosis dood.

Anna Nicole Smith.
Anna Nicole Smith. Foto: Gallo Images/Getty Images

Anna Nicole was verslae oor die verlies aan haar broer en bronne na aan haar het gesê sy is eintlik ook dood toe Daniel dood is. Daar was ook verwarring oor wie Dannielynn se biologiese pa is.

Baie mense het bespiegel dit was Anna se lewensmaat Howard K. Stern – tot ’n vaderskapstoets getoon het Larry is die pa.

Dannielynn en haar pa lei ’n taamlik gewone lewe in Kentucky en sit die derby-tradisie voort wat Anna geniet het. 

Larry het voorheen gesê Dannielynn het baie van Anna se karaktereienskappe. “Sy is vreesloos soos haar ma,” het hy aan 20/20 gesê. 

“Sy sal op enige wipwa klim wat jy voor haar sit. 

“Ek kan reg langs my dogter staan en ons kan soos ’n tweeling lyk, en die eerste ding wat hulle sal sê is ‘haar ma se ewebeeld’,” het hy ook gesê.

Bronne: distractify.com, 20/20, People.com