“Penguin Films en die Arendsvlei-familie is verpletter om van Ceagan se se heengaan te hoor,” sê Roberta Durrant, die kreatiewe vervaardiger van Arendsvlei, aan Huisgenoot.

“Dit was altyd ’n plesier om saam met hom aan verskillende produksies te werk. Hy sal onthou word as ’n gawe en hardwerkende kunstenaar. Ons harte en gebede is met sy familie en vriende in hierdie tyd,” voeg sy by. 

Hoewel die oorsaak van die jong akteur se skielike dood nog nie bekend is nie, het huldeblyke en medelye vir die boorling van Paarl teen Sondagaand in die sosiale media ingestroom. 

“Ek voel geëer dat ek die skerm al die jare met jou gedeel het, my broer. Dankie vir al die herinnerings. RIV,” skryf die akteur Jarrid Geduld, wat as die skurk Bompie Galant in Arendsvlei te sien is.

“Dit was lekker om saam met jou te werk, Ceagan Arendse! Dankie vir alles, my vriend,” skryf die akteur Emile Smit, wat die rol van Woelag se vriend Stretch in die telenovelle vertolk het. 

Die kykNET & kie-kanaal het ook intussen die hartseer nuus in die sosiale media aangekondig. 

“#Memoriam: Rus in vrede, Ceagan Arendse. Die naweek het ons die slegte nuus ontvang dat die akteur Ceagan Arendse gesterf het. Hy is ’n geliefde akteur wat in vele programme soos Arendsvlei, Suidooster en Projek Dina te sien was. Ons dink aan sy vrou, familie en vriende in die moeilike tyd,” lui die inskrywing. 

CEAGAN SE VELE ROLLE

Ceagan was nog tot September verlede jaar in Arendsvlei te sien. Min storielyne het die tonge so laat klap soos die dubbele moord op sy karakter, Woelag, en Steve Mortlock (Elton Landrew).  

Kykers het gesien hoe die superfeeks Wendy Newman (Rehane Abrahams) en Steve ’n ultimatum aan Woelag stel toe hulle uitvind hy wil ’n bank beroof. Hulle het hom nie toegelaat om dit te doen tensy hy hulle deel van die rooftog maak nie. Na die suksesvolle rooftog het Steve en Woelag stry gekry oor geld en Wendy het later albei doodgeskiet.

Behalwe Arendsvlei was hy ook te sien as Willie Hendriks in die SABC2-reeks Riemvasmaak. In 2019 het hy ook 'n draai gemaak as Frankie in die kykNET-sepie Suidooster en verlede jaar as Theo in die reeks Projek Dina. 

Van sy laaste werk sluit in die kykNET-dramareeks Afgrond wat van Woensdagaand op die kassie te sien is. 

Die akteur het ook vanaf Oktober tot November verlede jaar aan Showmax se nuwe neo-noir-reeks Skemerdans gewerk. In die reeks wat op die Kaapse Vlakte afspeel, vertolk hy die rol van Warren.

ceagan arendse,akteur,skemerdans
Ceagan as Warren in Skemerdans. Foto: Zaheer Banderker

Die reeks, wat bekende gesigte soos Vinette Ebrahim en Brendon Daniels in die rolverdeling het, sal vanaf 29 April op die stroomdiens te sien wees. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe