Nancia, wat tans as die leerder Candice in die telenovelle Arendsvlei op kykNET & kie te sien is, het in 2015 vir die eerste keer 'n nieroorplanting gehad. Sy het intussen gehoor dat sy weer 'n oorplanting moet kry. 

Die aktrise, wat in Kaapstad woon, is tans in die finale fase van nierversaking en het onlangs ’n infeksie opgedoen.

“Ek is verlede week in die hospitaal opgeneem as gevolg van ’n maagaandoening wat my laat dehidreer het," vertel Nancia aan Huisgenoot

Sy is Maandag uit die Life Vincent Pallotti-hospitaal in Pinelands, Kaapstad, ontslaan. 

Nancia is daagliks in pyn, maar verkies om positie
Nancia is daagliks in pyn, maar verkies om positief te bly. Foto: kykNET

Die dokters het haar op binneaarse vloeistof gehou tot sy stabiel en gehidreer was. Volgens Nancia voel sy “baie beter”, maar is sy ook "verskriklik moeg" as gevolg van bloedarmoede.

Maar sy bly hoopvol oor die pad vorentoe. “Ek gaan 'n ysterinspuiting kry en gaan ’n vergadering beplan met die oorplantingskoördineerder om die volgende oorplanting te begin reël," vertel sy.

Volgens Nancia sien sy elke paar maande haar nefroloog ("nierdokter"), en daarna word haar bloed getoets om haar nierfunksie te monitor. 

“Laas jaar het die nierfunksie stadig begin agteruitgaan en infeksie het ’n probleem geword," vertel die aktrise.

Volgens Nancia is daar baie bakteriële weerstand teen antibiotikum wat die behandeling nog moeiliker maak.

Die jong aktrise het op 28 April 2015 vir die eerste keer ’n nieroorplanting gekry. Sy het verlede maand aan Huisgenoot vertel dat sy nog 'n nieroorplanting moet kry. 

Sy was net agt maande oud toe sy in 1999 begin siek raak het, onthou Nancia. “Vandat ek die eerste keer siek geraak het, het my dokter en familie geweet dat ’n oorplanting in die toekoms sou plaasvind. Ons het nie presies geweet wanneer dit sou wees nie,” het sy aan Huisgenoot vertel. 

In 2014, toe sy 15 jaar oud was, het die jong aktrise uitgevind dat sy die volgende jaar ’n nieroorplanting moet kry. 

“Ek was verlig, en bang. Ek wou net weer energie hê, want ek wou teruggaan skool toe en ’n normale lewe lei,” sê dié oudleerder van die Hoërskool Jan van Riebeeck in die Moederstad. 

Chelsea Thomas en Nancia Dorland is te sien as die
Chelsea Thomas en Nancia Dorland is te sien as die hoërskoolleerders Angelique en Candice in Arendsvlei. Foto's: kykNET

Haar pa, Cornelius Dorland (57), het in 2015 uitgevind dat hy sy nier aan haar kan skenk. 

“Ek en my pa het ’n baie gesonde verhouding; so dit het die hele proses makliker gemaak. Hy was nog altyd vreesklik ondersteunend en het nie twee keer gedink om vir my ’n tweede kans op ’n normale lewe te gee nie,” het Nancia aan ons vertel. 

Die oorplanting was suksesvol. “My lewe het nie vreeslik verander nie, maar die eerste ses maande ná die oorplanting was baie moeilik. Daarna kon ek ’n normale tienerlewe lei met meer energie en baie minder medikasie.”

Dit het haar toegelaat om te matrikuleer en om verlede jaar haar graad in drama- en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch te behaal.

Om positief te bly

Volgens die aktrise, wat ook in die kykNET-reeks Kompleks te sien was, is dit moeilik om positief te bly.

“Ek probeer altyd fokus op alles wat ek wel het, dan voel dit asof ek nie eintlik mag kla nie. 

“Om chronies siek te wees maak 'n mens se lewe verskriklik ongemaklik, maar daar is altyd hoop vir nog 'n suksesvolle oorplanting met al die energie wat daarmee saamgaan,” vertel sy.  

Volgens Nancia help dit baie dat sy 'n ondersteuningsnetwerk het.

“Ek is oortuig dat ek die vreemdste familie in die wêreld het, maar hulle maak die lewe soveel makliker. Die ander patiënte in die hospitaal is beslis al moeg vir al die lag wat uit my kamer kom as hulle vir my kom kuier." 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe