En die soort besorgdheid wat haar karakter teenoor kinders se welstand uitoefen, is iets wat Jolene (39) self baie na aan die hart lê.

Sy is as kind geboelie en daarom is sy in die sosiale media baie uitgesproke oor sulke kwessies wat jong kinders daagliks in die gesig staar.

“Ek het pas die Black Mirror-episode Hated In The Nation gekyk en gaan ’n reeks inskrywings vir die jonger kinders doen wat geboelie word, en vir die ouer mense wat die slagoffers van volwasse boelies is,” het sy in 'n onlangse Instagram-inskrywing laat hoor. 

“Boelies is oral, maar hulle mag nie meer toegelaat word om sonder gevolge met hul gedrag weg te kom nie! Kom ons staan op en wys hierdie boelies uit en hou hulle verantwoordbaar.”

Jolene vertel sy het self onder boelies se “aaklige” afknouery op skool deurgeloop. 

“Ek was anders omdat ek ballet gedoen het in plaas van ander gewilde sportsoorte. Ek was ook kaptein van die skolierpatrolliespan wat my op 'n baie vroeë ouderdom in 'n sterk leiersposisie geplaas het,” sê sy aan Huisgenoot. 

"Ek het ook op 'n sekere tyd van skole verander, wat 'n groot aanpassing vir 'n jong kind kan wees.”

Nietemin is Jolene onlangs deur haar laerskool genooi om as hoofspreker by hul prysuitdeling op te tree.

Jolene as die gefolterde Beatrice by haar TV-man,
Jolene as die gefolterde Beatrice by haar TV-man, David (Oscar Petersen). Foto: kykNET

Sy het vroeg opgedaag en op die plek stilgehou waar sy destyds moes aanskou hoe die meisies netbal speel terwyl hulle haar spot.

“Ek wens ek kon vir my jonger self gesê het: 'God onderskei jou nou sodat jy op jou uniekheid kan begin fokus. Jy word nie gemaak om deel te wees van die skare nie, en dit sal jy ook nooit wees nie.’” 

Sy het ook oor die jare geleer dat boelies nie ná skool verdwyn nie. 

“Ek het al verhale van vreeslike afknouery in 'n professionele omgewing gehoor, en dit is die rede waarom ek nou so op my sosiale media 'n beroep oor die kwessie doen,” vertel die aktrise. 

“Ek wil hê dat mense moet verstaan dat boelies net mag oor ander uitoefen omdat hulle self baie swak is. Daar is krag in getalle en daarom beweeg boelies altyd in ’n groep. Hulle is bang om alleen te wees.”

Jolene is opgewonde oor haar 40ste verjaardag. Fot
Jolene is opgewonde oor haar 40ste verjaardag. Foto: Verskaf

Jolene vier binnekort haar 40ste verjaardag en is omtrent in haar noppies oor die groot mylpaal in haar lewe.

“As ek terugstaan en na my eerste 40 jaar kyk, kan ek nie wag om te sien wat die Here vir die volgende 40 vir my beplan nie. Ek het nog nooit meer gemaklik in my vel gevoel nie - boonop sê almal die lewe begin eintlik eers op 40. Ek weet nou wat dit beteken. Dit is so opwindend!” borrel sy. 

Haar ouers, Joseph (60) en Charlene (59), het as verjaardaggeskenk vir haar bederf met ’n vliegtuigkaartjie na Italië, Malta en Finland. Daar in die buiteland sal sy eersdaags haar verjaardag met oorgawe vier. 

Jolene se raad aan haar 21-jarige self
  • Nie almal wat vir jou glimlag is jou vriend nie.
  • Dit neem drie jaar voordat die chemiese hoogtepunt van die romanse eweredig raak. Moenie voor daardie punt 'n ernstige besluit oor 'n verhouding neem nie.
  • Koop eiendom so vroeg as moontlik in jou eie naam en soveel as moontlik daarvan en verkoop dit nooit.
  • As jy ooit vir 'n teken bid, dan is dit die teken!

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.