Nóg vuurwerke

Die talentvolle Kapenaar was al op ons skerms te sien as onder andere die hotel-kroegman Randall in die kykNET-dramareeks Dwaalster en op die silwerdoek as die tikverslaafde Abie wie se ma hom uit desperaatheid doodgemaak het in die fliek Ellen: Die storie van Ellen Pakkies.

Jarrid (30) het 13 kg afgeskud vir dié rol en so met sy boeiende spel beïndruk dat hy nie net as beste akteur by die kykNET Silwerskermfees aangewys is nie; hy het ook verlede jaar sy eerste Safta vir beste akteur gewen.

Jarrid en die Suidooster-ster Jill Levenberg, wat
Jarrid en die Suidooster-ster Jill Levenberg, wat sy ma in die fliek speel, Foto: Gallo Images/Lefty Shivambu

Nou laat hy mense weer regop sit – dié keer as die skurk Bompie in die telenovelle Arendsvlei.

Bompie verkoop dwelms en het baie mag in die onderwêreld.

View this post on Instagram

We welcome @jarrid.geduld to the Vlei #Arendsvlei?? Video Credit:??@kyknetkie

A post shared by ARENDSVLEI (@arendsvlei) on

En hy’t sy oog op die naïewe matrikulant en danser Monique (Robyn Rossouw).

Toe dié se dansmaat in sy pad staan, kry hy sommer ’n handlanger om sy been te breek.

By sy Arendsvlei-medester Robyn Rossouw. Foto: Ins
By sy Arendsvlei-medester Robyn Rossouw. Foto: Instagram

En dis net die begin. Daar kom “nog hope” vuurwerke, sê Jarrid. “Solank as wat daar ’n direkte bedreiging is, gaan daar moeilikheid wees.” Trouens, wat Monique betref, “gaan niks Bompie keer nie”.

Sy grootwordjare

Jarrid het onder meer in Belhar en Eersterivier grootgeword.

“Ek het van my babajare tot op nege in (die woonstelblok) Chestnut Place in Belhar grootgeword. Dit was die beste jare. Dit sit ’n glimlag op my gesig,” vertel Jarrid, wie se ouers geskei is toe hy nog jonk was.

Hy onthou hoe hy smiddae ná sy skooldag by die Primêre Skool Belhar na sy ouma aan moederskant, Joan Minnaar, se huis gestap het.

“Ek het dadelik grondboontjiebottertoebroodjies geëet en tee gedrink wanneer ek daar aankom, want dit was my gunsteling,” onthou hy. “Dan het ek na die hoek van die flat gegaan en saam met die ouens van die blok ge-breakdance. Ek was die jongste lid.”

Die roem en toe die seer

Hy was in gr. 7 toe die produksiemaatskappy Monkey Films in 2003 by sy laerskool oudisies gehou het vir ’n hoofrol in hul fliekweergawe van Boy Called Twist, wat in die Kaap afspeel.

“Hulle het landwyd oudisies gehou en toe na my skool toe gekom waar hulle ná ’n jaar lange soektog op my besluit het – so is Jarrid Geduld die akteur gebore,” vertel hy.

Jarrid was skielik ’n kinderster. Maar daar was ook die donker kant. Hy’t op 13 met dwelms begin eksperimenteer en was later verslaaf daaraan, nes Abie, die karakter wat hy jare later sou speel.

Hy het egter op 18 ná ’n goeie vriend se dood sy lewe reggeruk.

En hy kyk nog nie een keer terug nie.

Hy het al in onderhoude oopgemaak oor sy dwelmverslawing.

“Dit was baie belangrik om my storie te deel sodat mense die omvang van dwelms kan sien, maar ook die triomf daarna,” sê Jarrid.

Sy hartsmense

Hy is die enigste akteur in sy gesin.

“My ma, Norma, is ’n betaalstaatbestuurder by die Britse Hoë Kommissaris. My broer, Keeran (31), is ’n bestuurder by ’n Nike-fabriekwinkel, en hy en sy lieflike vrou, Crystal Langtry-Geduld, het drie pragtige kinders, Khloe-Rose (8), Christian (3) en die pasgebore Cassidy. My suster, Nichola (28), is ’n direkteur by ’n telebemarkingsonderneming. En dis my lieflike klein gesin.”

Deesdae keer mense hom op straat voor om geselsies met “Bompie” van Arendsvlei aan te knoop.

By sy hartsmense: sy suster, Nichola, broer, Keera
By sy hartsmense: sy suster, Nichola, broer, Keeran, en ma, Norma. Foto: Verskaf

“Die oomblik dat ek in die openbaar is, skree mense: ‘Los ha af, asseblief!’ Natuurlik verwys hulle na Bompie. Dit gebeur dikwels en ek gee regtig nie om nie. Ek sal ’n vet gesprek met mense hê.”

Jarrid tuis

Die akteur woon steeds in Eersterivier. “Tuis is ek net Jarrid Geduld, die ou met ’n goeie hart wat baie foute gemaak het, wat homself weer opgetel het, wat vir homself lag, maar meestal aanhou glimlag.”

Hy is fiksheidsbewus en begin sy dag altyd met ’n oefensessie. Dan leer hy sy lyne, kyk ’n goeie dokkie en bring tyd saam met sy hond, Barbie, ’n driejarige rooineuspitbull, deur.


Voor inperking het hy onder meer begin skiet aan ’n nuwe fliek, Indemnity, wat volgende jaar uitgereik word.

“Ons werk nie nou nie weens COVID- 19.”

Sy groot liefde

Sy meisie, die aktrise Vashti Prins, is beter bekend as Danny in die sepie Suidooster. Die twee koer gereeld op Instagram.

“Ek en Vashti het mekaar in 2018 by Atlantic Studios (waar Suidooster en Arendsvlei geskiet word) ontmoet. Ons is nou al sowat drie jaar saam,” vertel hy.

Saam met sy meisie in die regte lewe, die Suidoost
Saam met sy meisie in die regte lewe, die Suidooster-aktrise Vashti Prins. Foto: Instagram

“Ons is albei deurmekaar oor hoe lank ons nou eintlik saam is; ons maak grappies daaroor. Ons lag tot vandag toe daaroor. Om eerlik te wees het ons tred verloor.

“Maar ons is versot op mekaar.

“Ek dink nie om met iemand in die bedryf uit te gaan maak die verhouding makliker nie. Goeie kommunikasie laat ’n verhouding werk en ons kies mekaar elke dag.” 

Jarrid sê:

  • Ek is verslaaf aan adrenalien.
  • Ek sou waarskynlik ’n beroepsrugbyspeler wou gewees het as ek nie ’n akteur was nie.
  • Ek versamel horlosies.
  • Ek het ’n groot plakkaat van Marilyn Monroe bokant my kop teen my slaapkamermuur.


Blitsvrae
  • Wie is jou gunsteling-TV-baddie? Janice (Crystal-Donna Roberts) se broer, Steve Mortlock (Elton Landrew), in Arendsvlei.
  • Google jy ooit jouself op die internet? (Lag.) Ek doen.
  • Wat is die vreemdste ding wat ’n aanhanger jou al gevra het? “Het jy rêrag getik?”
  • As jy vir een dag kon plekke ruil met ’n Hollywood-ster, wie sou dit wees? Die akteur Forest Whitaker. Net om te sien hoe hy so ’n sagte siel is.
  • Die een ding waarsonder jy nie ’n dag lank kan klaarkom nie? My tandeborsel.
  • Watter TV-reeks binge jy tans tydens inperking? Ek hou meer van dokumentêre reekse. Ek kyk tans Tiger King en Pandemic op Netflix. Albei reekse is regtig boeiend en werp lig op regte situasies.
  • As jy ’n boek oor jou lewe skryf, wat sal die titel wees? Scene But Gone.