Die talentvolle akteur het ’n bedrywige 2021 wat w
Die talentvolle akteur het ’n bedrywige 2021 wat wag. Foto: Verskaf

UITERS BEDRYWIG

Die akteur het in 2018 sy groot deurbraak gemaak in die kortfliek Kloof, wat gaan oor ’n ontgroenings­week op ’n universiteitskampus wat lelik handuit ruk. 

Deesdae is Jurgen (25) ’n bekende gesig op TV. In 2020 was hy te sien in die kykNET-dramareekse Sara se geheim en Projek Dina.

“Ek het Thulani in Projek Dina gespeel en het Xhosa gepraat. Ek praat Afrikaans, maar my ma (Lisa Vyuokazi Dlamini) is Zoeloe en my pa (Leon) is bruin,” vertel hy.  

 Jurgen Mc Ewan by sy trotse ouers, Lisa Vyuokazi
Jurgen Mc Ewan by sy trotse ouers, Lisa Vyuokazi Dlamini en Leon Mc Ewan. Foto: Verskaf

Meer onlangs het Jurgen kykers beïndruk met sy spel as die sekuriteitswag Clem Pekeur in die kykNET & kie-telenovelle Arendsvlei.

“Ek was aan die einde van die eerste seisoen ’n paar keer in die reeks, toe weer in seisoen twee, en nou in seisoen drie het my karakter ’n vrou en kinders en huis. My storie het begin ontwikkel.”

In ’n toneel in Arendsvlei. Foto: kykNET & kie
In ’n toneel in Arendsvlei. Foto: kykNET & kie

VELE AKSENTE

Jurgen woel ook agter die skerms. Sy stem kan gehoor word in verskeie oorsese reekse wat in Afrikaans oorgeklank word. Hy is die stem agter die karakter Selim in Vuurspel en Elif en doen ook stemwerk vir verskeie karakters in Gebroke harte.

Hy het aksente gedoen as deel van sy dramastudie aan die Universiteit Stellenbosch.

“Ek doen ook ’n Britse en Russiese aksent,” sê Jurgen. “Ek is mal oor ’n Russiese aksent, en ek kan ’n Indiese aksent ook doen. Ek praat Afrikaans, Engels, Xhosa, Zoeloe en Duits.” 

’n VROEË BEGIN

Jurgen is die jongste van ses kinders en het op Atlantis in die Wes-Kaap grootgeword. Hy woon deesdae op Stellenbosch. Hy stel al van hoërskool af belang in toneelspel.

“Dit het in 2011 vir my in die teater begin met my eerste produksie by die ATKV toe ek in gr. 10 saam met die skool die verhoogstuk Die klein prins op Springbok opgevoer het. Dit was lekker en interessant. Dit was my eerste keer op ’n groot verhoog voor ’n klomp mense.” 

Hy het in 2013 aan die Sekondêre Skool Schoonspruit op Malmesbury, so 30 km van Atlantis, gematrikuleer.

“Dis ’n kuns-en-kultuurskool, en dis waar my liefde vir drama begin het,” sê Jurgen. “My dramaonnie was juffrou Kobie. Sy het ’n baie groot rol in my lewe gespeel op skool en tot vandag toe,” vertel die akteur. 

“Op skool was ek die kort, vaal outjie wat almal geïrriteer het. Ek is nou 1,77 m lank, maar ek het eers ná gr. 9 gegroei. Ek het een aand net gaan slaap en die oggend opgestaan en was groot.” 

DIE EWIGE STUDENT

Jurgen het in 2016 sy dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy het verlede jaar sy nagraadse onderwyssertifikaat voltooi en beplan om vanjaar kriminologie aan Maties te studeer.

“Tydens my onderwys­studie het ek in opvoedkundige sielkunde besef hoe magtig die mens se geheue is. Dis waar my liefde vir kriminologie vandaan gekom het,” vertel hy.

Terwyl hy drama studeer het, het hy op drie wynplase gewerk.

“Wanneer ek drie uur vry gehad het tussen klasse, het ek vir daardie drie uur gaan werk.” Tydens die lockdown het sy werk by Arendsvlei darem sy huurgeld gedek. “Dis hoe amazing God gewerk het,” sê Jurgen.

ALLEENMENS

Hy hou van alleentyd.

“In my kamer met lekker sagte musiek. My perfekte dag begin halfses soggens in die gim. Dit gee my ’n massiewe confidence booster. Dis belangrik vir my om na my liggaam te kyk. En dan om betyds by die werk te kom. Ek oefen dan weer ná werk en is lief vir sonsondergange. Ná gim gaan koop ek altyd vir my mageu-pap en gaan staan iewers tussen plase en huise en vat net die uitsig in en vergeet van die werk en die dag.” 

EN WAT HOU 2021 IN? 

“Ek werk nou aan projekte saam met Enrico Hartzenberg, die skepper van die web­reeks Van Adamse. Dit gaan moontlik ook ’n aanlyn projek wees. Ek werk ook aan ’n projek wat gegrond is op die Kaapse skrywer Marvin Borcherds se boek Disa­straat en skiet aan ’n kykNET-kortfliek wat vanjaar uitgereik word.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe