Sy was net agt maande oud toe sy in 1999 begin siek raak het, onthou Nancia, wat in Kaapstad woon. 

“Vandat ek die eerste keer siek geraak het, het my dokter en familie geweet dat ’n oorplanting in die toekoms sou plaasvind. Ons het nie presies geweet wanneer dit sou wees nie,” vertel die aktrise aan Huisgenoot. 

In 2014, toe sy 15 jaar oud was, het sy uitgevind dat sy die volgende jaar ’n nieroorplanting moes kry.

“Ek was verlig, asook bang. Ek wou net weer energie hê, want ek wou teruggaan skool toe en ’n normale lewe lei,” sê dié oudleerder van die Hoërskool Jan van Riebeeck in die Moederstad. 

Nancia is daagliks in pyn, maar verkies om positie
Nancia is daagliks in pyn, maar verkies om positief te bly. Foto: kykNET

Sy was baie bly toe haar pa, Cornelius Dorland (57), vir haar in 2015 ’n nier kon skenk. 

“Ek en my pa het ’n baie gesonde verhouding; so dit het die hele proses makliker gemaak. Hy was nog altyd vreeslik ondersteunend en het nie twee keer gedink om vir my ’n tweede kans op ’n normale lewe te gee nie,” sê Nancia. 

Die oorplanting was suksesvol. “My lewe het nie vreeslik verander nie, maar die eerste ses maande ná die oorplanting was baie moeilik. Daarna kon ek ’n normale tienerlewe lei met meer energie en baie minder medikasie.” 

Dit het haar toegelaat om te matrikuleer en om verlede jaar haar graad in drama- en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch te behaal.

Met elke probleem het jy twee keuses, jy kan óf jammer voel vir jouself óf jy kan elke dag opstaan en dink aan alles wat jy wel het.

Nancia sukkel steeds met haar gesondheid en moet gereeld die dokter besoek. 

“Enigiemand met ’n nieroorplanting moet versigtig leef, want ’n mens kry baie maklik ’n infeksie. Ek kry baie hoofpyne as ek nie genoeg water gedrink het nie en my ystervlakke is baiekeer laag, wat tot moegheid lei,” sê die aktrise, wat ook in die kykNET-reeks Kompleks te sien was. 

Nancia het intussen gehoor dat sy weer ’n nieroorplanting moet ondergaan. “Ek is nie op die oomblik op ’n waglys nie, want ek het ’n groot familie wat kan skenk wanneer die tyd kom,” sê Nancia hoopvol. 

Chelsea Thomas en Nancia Dorland is te sien as die
Chelsea Thomas en Nancia Dorland is te sien as die hoërskoolleerders Angelique en Candice in Arendsvlei. Foto's: kykNET

En hoe kry sy dit reg om so positief te bly al is sy daagliks in soveel pyn? 

“Ek beskou myself nie as ’n slagoffer nie. Baie mense het erger probleme as ek. Ek is bevoorreg genoeg om gehelp te word deur fantastiese dokters en ek het ’n groot ondersteuningsnetwerk,” sê sy. 

“Met elke probleem het jy twee keuses, jy kan óf jammer voel vir jouself óf jy kan elke dag opstaan en dink aan alles wat jy wel het. ’n Mens is nooit in beheer van wat die lewe na jou toe gooi nie, maar jy is in beheer van jou reaksie daarop,” voeg sy by.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe