Die aktrise het die nuus dat sy vir die Mej. SA-kompetisie ingeskryf het in die sosiale media gedeel. 

“Daar was ’n tyd dat ek gedink het om aan Mej. Suid-Afrika deel te neem sou nie meer moontlik gewees het vir my nie. Ek het begin grootword en besef dat sekere dele van my anders was as die samelewing se vooropgestelde idees van die “perfekte vrou”, maar soos met alles in die lewe het die tye verander en die organisasie was gereed.

“Ons streef nie meer na perfeksie nie, maar verwelkom liewer oorspronklikheid. Ons kan in ruimtes bestaan waar mense ander beginsels as ons het sonder oordeel en met die nodige respek, deernis en menslikheid. 

“Vandag kan ek met trots sê dat ek vir Mej. Suid-Afrika 2020 ingeskryf het. Ek wil myself ten volle onthul, nes ek is, sonder voorgee. Alles sal in God se hande bly. 

Dankie aan my ouers, sibbes en my binnekring wat my ondersteun terwyl ek streef daarna om my waarheid uit te leef. Ek is dankbaar vir hoe ek groei gedurende hierdie tyd, en ek is opgewonde oor die geleentheid wat ek het om die stem te laat hoor van enigiemand wat verdien om gehoor te word,” het die boorling van Paarl in die Boland op Instagram geskryf. 

Beáta hoop nou om Sasha-Lee Olivier op te volg as Mej. SA. Sasha-Lee het Mej. SA geword nadat verlede jaar se wenner, Zozibini Tunzi, in Desember 2019 in Atlanta in die VSA as Mej. Heelal gekroon is. 

As Beáta met die kroon wegstap, sal sy nie die eerste Mej. SA in haar uitgebreide familie wees nie. Haar niggie aan vaderskant, Tamaryn Green, is in 2018 as die mooiste vrou in die land aangewys is. 

“My vertroue in my intuïsie wanneer ek besluite neem, het grootliks tot die besluit bygedra,” vertel Beáta (24) ’n week ná haar aankondiging aan Huisgenoot

“Tesame met die huidige klimaat in Suid-Afrika, wêreldwyd en so ook die positiewe verandering aan die handelsnaam van die Mej. SA-organisasie, was ek oortuig daarvan dat die dapper stap gewaag kan word deur myself te openbaar met my storie.”

Beáta het in 2019 haar honneursgraad in produksiebestuur en vervaardiging aan die Universiteit Stellenbosch behaal. 

Huisgenoot het vroeër in Mei berig oor die veranderinge aan vanjaar se kompetisie. Die organiseerders het reeds in 2019 besluit dat inskrywings aanlyn gedoen kan word, en weens die coronakrisis sal die beoordeling ook nou aanlyn geskied. 

Die semifinaliste sal uit die aanlyn inskrywings gekies word, en die kroningsaand sal soos verlede jaar in Augustus plaasvind. Hoewel dit steeds op televisie uitgesaai sal word, sal daar geen gehoor wees by vanjaar se geleentheid nie.

Beáta het reeds voorheen die kroon gedra in skoonheidskompetisies. 

Sy is in 2013 gekroon as “Born Free Generation Miss South Africa Teen”. 

“Daardie titel het daartoe bygedra dat ek meer intens betrokke geword het by gemeenskapswerk in plaaslike gemeenskappe en om as tiener te groei. Dit het egter hoegenaamd nie my besluit om nou in te skryf beïnvloed nie,” sê Beáta. 

In 2017 is sy ook aangewys as die Wes-Kaapse Mej. Mamelodi Sundowns, en was ’n jaar lank ’n ambassadeur vir die Mamelodi Sundowns-sokkerklub. 

Sy het die titel by haar ouer suster, Tshidi, oorgeneem. Beáta het nog twee broers, Viran en Senor, en ’n suster Kristel Ilke. Hul ouers, Martin en Melvina, is in 2004 geskei. 

Sy sê dat as aktrise, storieverteller en aspirant-rolprentvervaardiger word haar persoonlike deernis en stamina oneindig beproef, maar tesame met die uitdagings wat sy al moes deurmaak, kan dit net help op haar pad na die Mej. SA-titel. 

“Ek is ’n passievolle, deernisvolle, lojale en gemeenskapsgeoriënteerde persoon wat ook graag leer van ander. Dit is uiters noodsaaklik dat alle gemeenskappe op platforms soos Mej. SA verteenwoordig word.

“As ek die titel wen, sal my storie en wat dit verteenwoordig, die narratief verander en ’n groot impak kan maak op die lewens van vele wat tans uitgesluit voel. Die kombinasie van my karakter, my storie en veral die tye waarin ons leef, skep die ideale klimaat om enige denkpatrone aan te raak, basiese menslikheid te bevorder en daardeur lewens te kan verander,” vertel sy. 

Wanneer Beáta en haar niggie Tamaryn saam is, geniet hulle net die tyd as familie sonder enige afleidings. 

“Met ons wat elkeen ’n besige skedule het, is werk die laaste ding waaroor ons praat wanneer ons as familie bymekaar is,” sê Beáta. 

Twee kitsvrae aan Beáta: 

  • Wie is jou gunsteling- voormalige Mej. Suid-Afrika? 

Daar is te veel om te noem. Elke Mej. SA verteenwoordig haar eie en unieke storie, wat elk ’n plek onder die son het. Ek kan my inspirasie verkry van enige vorige Mej. SA sou die behoefte opduik.

  • Hoe bly jy besig tydens inperking? 

Afgesien van ander werkvereistes, bring ek my dae deur deur te rus, lees en skryf, om navorsing en beplanning te doen, asook oefening en introspeksie te doen.