Twee weke nadat Ann en haar gesin afskeid geneem het van haar pa, Alfred, het hulle die tragiese nuus ontvang dat Alfred se ma, Joan, ook oorlede is. 

Die Kaapse aktrise het Donderdag op haar Instagram-blad onthul haar ouma is oorlede. “Vanoggend is my Ma Joan Juries huis toe geroep. Sy was vurig. Ek gaan haar mis. Dit is ’n baie moeilike tyd. Rus in vrede, Ma,” het Ann by ’n foto van haar en haar ouma geskryf. 

“Hierdie afgelope paar maande was vir ons baie moeilik," vertel Ann aan Huisgenoot. "Ons was almal baie besig en siek; so dit was moeilik om alles te verwerk.” 


Die gesin het harde terugslae ervaar en vertel dat hulle nou in die proses is om te rou.

“Alfred se dood het gekom as ’n skok, want ons het dit nie verwag nie," vertel Ann se ma, Beverley Juries, wat 40 jaar lank die vrou aan Alfred se sy was. "Drie dae ná sy dood het ons almal covid-19 opgedoen. Dit het die grieving en anxiety nog moeiliker gemaak.

 Van links is: Ann se broer, Earl Juries, sy verlo
Van links is: Ann se broer Earl Juries, sy verloofde, Clarissa Scheepers, Ann se ouers, Beverley en Alfred Juries, haar skoonsuster, Jade, en broer Lyle Juries, Ann, en haar man, Reiner May. Voor is Lyle en Jade se dogter, Gia. Foto: Verskaf.

Alfred, wat bekend was vir sy bereidwilligheid om altyd ander te help, het op 19 Desember by die Netcare Kuilsrivier-hospitaal in Kaapstad weens covid-19 gesterf.

Die familie sou kort voor dit, op 4 Desember, ’n gesinsdag hou om ’n familielid se verjaardag te vier. “Ons sou dam toe gegaan het,” vertel Beverley. “Toe sê hy dat hy verkoue het en toe ons die volgende oggend opstaan, kon ek hoor die hoes is ’n bietjie erger as wat dit die vorige dag was.”

Dae later het sy toestand verswak. Hulle het toe op 12 Desember hom vir die coronavirus laat toets. ’n Dag later het sy uitslag gekom: Dit was positief. 

Beverley sal nooit die skok op Alfred se gesig vergeet toe hy die uitslag uitgevind het nie.

Ann se ma, Beverley, vertel sy en Alfred het mekaar op die dansbaan ontmoet. Die egpaar was meer as 40 jaar lank saam. Foto: Verskaf
Ann se ma, Beverley, vertel sy en Alfred het mekaar op die dansbaan ontmoet. Die egpaar was meer as 40 jaar lank saam. Foto: Verskaf

“Hy’t nog steeds sy medikasie gebruik en dit het gelyk asof dit beter gaan," vertel sy. Maar twee dae later was die groot keerpunt. “Hy’t ’n baie kwaai hoes gehad, en dit het deur die dag aangegaan,” vertel Beverley. Die egpaar het toe daarna saam besluit dat Alfred in die hospitaal opgeneem moet word. 

“Ek het toe met ons huisdokter gesels, en Alfred was dieselfde aand, op 16 Desember, opgeneem.”

Volgens Beverley was alles nog normaal voor sy die oproep van die hospitaal ontvang het. 

“Die volgende oggend toe die foon rondom agtuur lui, het ek verwag dat die hospitaal my ’n update sou gee, maar toe’s dit die slegte nuus . . .” 

Ann vertel haar troudag was een van die gelukkigste oomblikke saam met haar pa, Alfred. Foto: Verskaf
Ann vertel haar troudag was een van die gelukkigste oomblikke saam met haar pa, Alfred. Foto: Verskaf

Die aand voor hy gesterf het, het Alfred nog saam met die res van sy gesin oor die foon gesels en die Turkse dramareeks Deur dik en dun op E.tv gekyk, waarin sy dogter Ann die stem van die karakter Ipek verskaf.

"Hy’t nog vir my gesê dat dit voel asof ek saam met hom in die hospitaal was," vertel Ann nou. "Hy’t nog selfs tyd gehad om vir my te sê dat hy trots was op my.” 

Ann het kort daarna op Instagram die hartseer nuus bekend gemaak dat haar pa gesterf het. "My held is oorlede. Ek is vir ewig verander. Bid asseblief vir ons," het Ann geskryf by foto's van haar saam met haar pa.

"Sondae is die swaarste, familietyd is net nie nou dieselfde nie," het Ann onlangs op Instagram geskryf. "Ek besef ál meer hoe bevoorreg ek is om soveel sielsgenote te hê. Ek wil jou aanmoedig om jou geliefdes te waardeer. Vertel vir hulle jy is trots, vertel vir hulle jy is lief vir hulle. Môre is nie beloof nie."

Kort ná Ann se pa, Alfred, se afsterwe, is Alfred se ma, Joan, ook oorlede. Meer oor haar ouma se afsterwe wil Ann nie uitbrei nie. 

Boodskappe van medelye het op Ann se Instagram-blad ingestroom nadat sy die tragiese tyding van haar ouma bekend gemaak het. "Ek is so, so jammer om die nuus te hoor, Ann. Ek hou jou naby," het die aktrise Lee-Ann van Rooi in die kommentaar-afdeling geskryf.

"Ek is so jammer Ann," het Ann se Arendsvlei-medester Ilse Klink geskryf. "My medelye aan jou en jou familie in die verskriklike tyd. Ek stuur al my liefde."

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.