Crystal-Donna Robberts,kanker,behandeling,voltoo
Crystal-Donna Roberts se Facebook-inskrywing

"Ná my operasie [mastektomie] in Mei het ek met chemo in Junie begin. Ek het twee weke ná my operasie gehoor ek gaan chemoterapie ook nodig hê,” vertel Crystal-Donna (35) aan Huisgenoot oor haar stryd teen borskanker.

“Ek was nogal onsteld daaroor, veral omdat ek my hare verloor het,” vertel Crystal, wat die rol van Janice in die telenovelle Arendsvlei speel. Die Kaapse aktrise het verlede jaar begin om haar hare natuurlik te laat uitgroei. "As mense nie van my my hare so hou nie, dan sal ek nie aan die projek deelneem nie,” het sy onlangs by die kykNET-Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad, aan Huisgenoot vertel.

“Hoe gaan ek dit oorleef, het ek gedink. My haarverlies en naarheid en al die ander newe-effekte," het sy vertel oor haar kankerstryd.

“My obsessie met my hare klink seker baie ydel, maar al het ek my behandeling gister gestaak, gaan daar maande lank nog ’n herinnering daaraan wees as ek in die spieël kyk. Alles wat gebeur het is daar voor my," vertel sy.

“Al moet mens erkenning gee aan wat met jou gebeur het, wil ek nie net ‘Crystal-die-meisie-wat-kanker-gehad-het’, wees nie," sê Crystal, wat in flieks soos Krotoa te sien was. “Ek het dit oorleef en sterkter daaruit getree. Gister het ek bestraling voltooi ná die chemo; 25 rondes oor vyf weke. Ek het nooit gedink ek gaan oorweldig en emosioneel raak as ek behandeling voltooi het nie," vertel sy.

Fiëstas
Die aktrise Crystal-Donna Roberts sê haar swart rok deur Lena Lisa het haar soos Audrey Hepburn laat voel. Foto: Instagram.

“Maar toe ek op daardie bed lê en die masjien draai om my, het die trane uit my oë begin loop. Ek het toe besef watter geweldige reis dit was. Die reis gaan steeds aanhou om gesond te bly. Dit was oorweldigend toe ek besef dis die laaste behandeling, want ek het vir biopsies gegaan sedert verlede jaar en nou is dit amper 2020. Dit het amper ’n hele jaar gevat. Dit is waaraan ek my tyd afgestaan het," sê Crystal.

“Vandag het ek opgestaan en gewonder wat moet ek aantrek as ek vir bestraling gaan, sodat ek my top maklik kan uittrek. Ek hoef my nie meer daaroor te bekommer nie. Ek hoef myself nie meer daarop voor te berei nie – op die newe-effekte.”

Wat is haar boodskap aan ander mense wat met borskanker gediagnoseer word?

“Ons is absoluut sterker as wat ons dink. Dit klink soos ’n cliché, maar dis waar. Ek gesels nou met jou van die gimnasium af oor die foon. Ek is fine."

FOTO Instagram/ Crystal Donna Roberts

“Iets wat vir my ook belangrik is: ons hoor die heeltyd ons moet positief bly. Ja, dit is so, maar ons moet ook kan erken ons voel sh***y. Dis gesond. Dit moet uit jou sisteem kom, anders is dit skadelik.

“Maar as jy daaroor praat, het dit nie noodwendig meer mag nie. Maar moenie jouself daaraan oorgee nie. Gaan daardeur om aan die anderkant uit te kom.

“En moenie skaam wees om vir hulp te vra nie.”