Menicia Sass

In Arendsvlei vertolk sy die rol van Chantel, die
In Arendsvlei vertolk sy die rol van Chantel, die skool se grootste boelie.

In Arendsvlei vertolk sy die rol van Chantel, die skool se grootste boelie. Menicia is ’n boorling van Atlantis wat nou in Brackenfell, Kaapstad, woon.

Sy is ’n oud­matrikulant van die Hoërskool Bloubergrant.

Haar karakter loop tuis deur onder die giftong van haar ma, Valdonia Lee Mathews (Gerwen Simon). Menicia is geensins soos haar karakter nie en is sterk teen ’n skoolboeliekultuur gekant.

Vertel ons meer oor jou karakter, Chantel.

Sy is arrogant, spontaan, bekkig, soek aandag en toon min respek vir ander. Chantel is onaantasbaar en selfs onderwysers voel soms geïntimideer deur haar. Maar by die huis is ’n tekort aan liefde en betrokkenheid.

Hoe voel dit om ’n boelie te speel?

Emosioneel put dit my uit. Dit maak diep seer in ’n mens se binneste om so ’n karakter te wees. Hoe meer ek die rol vertolk, hoe meer gaan my hart uit na die slagoffers van boelies.

Dit is uiters belangrik om die stil­swye oor sulke mishandeling te verbreek en daaroor te praat.

Is jy op skool geboelie?

Ek is nie op skool geboelie nie. Ek weet hoe om ander te respekteer en dissipline te handhaaf. Maar as leerders met my skoor­gesoek het, het ek nie my mond gehou nie.

Enige raad aan kinders wat op skool onder boelies deurloop?

Meld dit onmiddellik aan. Dit kraak jou selfbeeld af en jou skoolwerk ly daaronder. Praat met iemand. Jy is op skool om van jou lewe ’n sukses te maak.

Sommige mense raak met boelies bevriend; dalk kan jy ’n verskil in hul lewe maak. Hulle soek miskien net aandag.

Menicia en haar medester Craig Adriaanse, wat die
Menicia en haar medester Craig Adriaanse, wat die rol van Wesley in Arendsvlei vertolk.

Watter raad sal jy aan jou karakter in Arendsvlei wil gee?

Om oop te maak en te praat oor die emosionele mishandeling wat sy by die huis deurmaak. Ek sal haar wil laat besef dat sy en haar slagoffers eintlik baie dinge gemeen het.

Is jy soos jou karakter?

Ek is nie. Ek is meer grapperig en ’n sosiale mens wat hou van geselskap en om mense te inspireer. Maar ons albei is ewe bekkig!

Grootste lewensles wat skool jou geleer het?

Glo in jouself. Bly ’n kind so lank as wat jy kan. Dissipline is van groot belang. Werk hard en jy sal die resultate sien.

Wat beplan jy vir die res van 2019?

Ek hou my oë en ore oop vir enige oudisies vir TV- en teaterstukke of advertensies. Ek wil graag jong mense inspireer en motiveer deur hulle toe te spreek by skole, of enige instansies waar jong mense bereikbaar is.

Menicia se 5 wenke om skool te oorleef
  • Bly gefokus.
  • Toon respek aan jouself en jou medeleerders. Almal is daar met ’n doel.
  • Stel doelwitte vir jouself.
  • Stel vir jou ’n visie en ’n missie.
  • Geniet elke oomblik in die skoolbanke, want dit gaan jou beste herinnerings ooit word.


Pretfeite oor Menicia
  • Chantel in Arendsvlei is haar eerste TV-rol.
  • Sy is die enigste aktrise in haar familie.
  • Sy is een van vyf kinders.
  • Sy hou van dans en sing.


Kay Smith (27)

Kay Smith, Kapenaar en voormalige 7de Laan-aktrise
Kay Smith, Kapenaar en voormalige 7de Laan-aktrise speel Debra, dogter van die superfeeks Wendy Newman (Rehane Abrahams).

Vertel ons meer oor jou rol in Arendsvlei.

My karakter is uitgesproke en outgoing. Sy is vol selfvertroue en sterk. Debra is passievol en warmbloedig, en dis haar warmbloedigheid wat deure vir haar oopmaak.

Wat geniet jy die meeste op die stel?

Om die voorreg te hê om saam met amazing mense te werk wat lief is vir wat hulle doen. En te doen waarvoor ek lief is. My vriende op die stel is Gretchen Ramsden, Crystal-­Donna Roberts, Roberto Kyle en Ann Juries-­May.

Is jy soos jou karakter of verskil julle soos dag en nag?

Ek dink elke karakter wat ek speel, het iets van Kay in hulle.

Jou karakter ervaar geweldige groepsdruk. Het jy raad vir tieners wat groepsdruk beleef?

Luister na jou gut. Leer om daarmee gemaklik te word om “nee” te sê. Bevriend mense wat jou nie druk om goed te doen wat jy nie wil doen nie. En speak out.

Enige raad aan leerders om skool se moeilike tye te oorleef?

Op hoërskool voel dit dalk asof alles oor lewe en dood gaan, maar dit is nie regtig die geval nie. Haal diep asem en droom oor alles wat jy wil bereik. Jy kan net sukses behaal deur harde werk. Neem kanse, al is dit vreesaan­jaend, en toets jou vermoë.

In watter beroep sou jy gewees het as jy nie voor die kameras was nie?

Ek wou soveel verskillende beroepe volg; dis deels hoekom ek ’n aktrise geword het. Nou kan ek dit in die skoene van verskillende karakters doen.

Pretfeite oor Kay
  • Haar eerste TV-rol was as joernalis in die SABC2-reeks Colour TV (2011).
  • Sy was al ’n paar keer op die kassie, onder meer in 7de Laan as Tarryn, Errol se meisie.
  • Kay kom uit ’n groot gesin. Sy is een van sewe kinders.
  • Sy was verlede jaar in die plaaslike fliek Baby Mamas te sien.
FOTO'S: VERSKAF, INSTAGRAM/@CRAIG_ADRIAANSE