Sy smeulende glimlag en donker oë vermurwe al jare lank harte, maar net die mense na aan hom het geweet dat daardie glimlag ’n waarheid verbloem.

Tot onlangs, toe die akteur Armand Aucamp (32) besluit het om hom voor die wêreld kaal te stroop en met almal te deel dat hy gay is. 

Dit was ’n reuseverligting, maar terselfdertyd vreesaanjaend, sê die aantreklike donkerkop.

“Baie was op die spel,” vertel Armand. 

“Jy sien, ek het eintlik al in 2012 uitgekom. Toe het ek vriende en familie vertel en vooraf gewonder of hulle dit sal aanvaar. Dit was groot. Maar dié keer was ook my loopbaan ter sprake. Jy is bang: Gaan jy weer werk kry?”

Maar dan val hy homself in die rede. “Dis goed wat jy jouself vertel, en dit is nie die werklikheid nie.”

En dit lyk wel asof sy vrese onnodig was. 

Net drie weke nadat hy besluit het om in die Sondagkoerant Rapport aan die wêreld te vertel hy is gay, bel Deon Opperman, die skrywer en vervaardiger van Getroud met Rugby, om Armand ’n rol in dié kykNET-sepie aan te bied.

“Dit het net reg gevoel,” sê Armand. 

“As ’n jong akteur wil ’n mens graag in soveel moontlik mediums werk, en jy is bang om te vroeg in ’n sepie vasgevang te word. En met dié dat ek uitgekom het, het dit amper vir my gevoel asof ek dinge nou sonder vrees kan aanpak. Vanjaar doen ek dinge wat vir my reg vóél, en toe hy my bel, het ek nie ’n oomblik getwyfel nie.”

Net drie weke nadat hy besluit het om in die Sondagkoerant Rapport aan die wêreld te vertel hy is gay, bel Deon Opperman, die skrywer en vervaardiger van Getroud met Rugby, om Armand ’n rol in dié kykNET-sepie aan te bied.

Deon was ook die skrywer van Sterlopers, die eerste Afrikaanse televisiereeks waarin Armand te sien was. 

Sedertdien het hy vir hom ’n plek in Afrikaanse kykers se harte oopgespeel met rolle soos dié van Jacques Rynhardt in die fliek Ballade vir ’n Enkeling, Tom Niemandt in die TV-reeks Die Boekklub en Jan van Riebeeck in die rolprent Krotoa.

Deesdae is hy ook bekend as ’n kok met ’n passie vir minkoolhidrateresepte wat banting- of ketovriendelik is. 

Sy resepteboek, Armand Kook Kaal, is verlede jaar uitgereik en was die inspirasie vir sy gelyknamige kookprogram wat tot onlangs op VIA uitgesaai is.

Dinge gaan ook voor die wind weg van die planke en kameras: Daar is iemand spesiaals in sy lewe, vertel Armand. 

’n Sagtheid rus op sy gesig toe hy vertel van Tannah Harris (31), ’n fiksheidsinstrukteur van Kaapstad en die een aan wie sy hart behoort. 

“Ek is in ’n wonderlike verhouding met iemand wat vir my omgee. Hy ondersteun my en deel my belangstelling in gesonde kos.” 

Die twee het mekaar juis ontmoet danksy hul gedeelde passie vir ’n gesonde, aktiewe leefstyl. Hulle is nou al ’n jaar lank ’n paartjie. 

“Dis nuut, maar dit is lank genoeg om te weet of jy by iemand is wat jou ondersteun en jou lewe beter maak.” Armand glimlag breed en voeg by: “En absoluut, ja.”

Het dié verhouding hom aangepor om ook in die openbaar oor sy seksualiteit te praat? 

“Ek het lank daaroor gepraat en dit oorweeg, maar ek dink tog ’n verhouding is soos ’n spieël, en dit het my die dele gewys wat ek steeds van die wêreld af weghou.”

armand aucamp,tannah harris
Armand Aucamp en die liefde in sy lewe, Tannah Harris. Foto: Instagram/@armandaucamp

Die openbare reaksie op sy groot nuus was grotendeels positief, sê Armand. 

Hy ervaar dié positiwiteit veral by die kookdemonstrasieaande wat op sy resepteboek geskoei is, vertel hy. 

Dié aande bring hom nader aan die publiek, en sedert hy sy masker afgehaal het, kom gee aanhangers hom sommer ’n drukkie. 

Daar was byvoorbeeld ’n “oom en tannie” wat op die oog af “konserwatief” gelyk het, maar toe sy hand kom skud en sê: “Geluk, met daai artikel. Ons seun is ook gay.”

“Dan dink ’n mens: Dalk kan ek iets vir iemand daar buite beteken,” sê Armand.

Nadat hy in 2012 by familie en vriende uit die kas geklim het, het hy agtergekom hy vermy dit om openlik oor sy seksualiteit te praat. 

“Ek het dit nooit ontken nie, maar ek het nooit daaroor gepraat nie, en dit het vir my ’n probleem geword. Jy pas aan voor mense, en voor jy jou kan kry, is jy terug in die kas.”

As kind was hy oopkop, maar toe hy ’n tiener word, het hy onbewustelik dinge van homself weerhou, vertel hy. 

“Ek was vreeslik musikaal, maar ek het gedink as ek ’n klassieke pianis word, sal mense dalk iets agterkom. En dis amper asof ek weens vrees ’n bietjie my liefde daarvoor verloor het. Ek was baie goed daarmee om te pretend. Dis dalk hoekom ek ’n akteur is.” 

Hy lag. “Miskien was dit my aanvanklike akteursopleiding. Ek kon dinge maklik ignoreer en kompartementaliseer.”

“Ek is in ’n wonderlike verhouding met iemand wat vir my omgee. Hy ondersteun my en deel my belangstelling in gesonde kos.”

Die Aucamp-gesin het in 1996, toe Armand 10 jaar oud was, van Fort Beaufort in die Oos-Kaap na Stellenbosch verhuis, waar hy later aan Paul Roos Gimnasium gematrikuleer het.

Sy pa, Chris, ’n historikus en oudlektor in die geskiedenis, en sy ma, Petra, voorheen ’n Afrikaanslektor, is ondersteunend in als wat hy en sy broer en suster aanpak, vertel hy. 

Nou restoureer sy pa historiese geboue in die Boland en sy ma bedryf ’n gastehuis op Stellenbosch. 

Sy broer, Christoff (37), het lank Engels in Viëtnam gegee, maar keer in Julie na Suid-Afrika terug. Sus Marcelle (27) werk in die gasvryheidsbedryf en woon tans in Fidji. 

Sy ouers het hom met liefde omvou toe hy aan hulle vertel hy is gay. 

“Hulle het niks gesê nie en my net vasgedruk. Ek dink hulle het besef dat ons almal nou moes aanpas, want dit was nie wat hulle verwag het nie. Maar sonder dat dit gesê is, het ek geweet die belangrikste vir hulle was dat ek moet weet hulle is lief vir my ongeag wat gebeur.”

Vanjaar vier hy ’n dekade in die vermaakbedryf. Sedert sy studie aan die CityVarsity-kollege in Kaapstad het hy ook ’n hele paar rolle in internasionale flieks en televisiereekse vertolk – ’n tronkbewaarder in Mandela: Long Walk to Freedom, ’n toneel teenoor een van die hoofkarakters in die Amerikaanse televisiereeks Homeland sowel as ’n rol in die Kanadese reeks The Book of Negroes saam met die Hollywoodster Cuba Gooding jr. 

Tog sonder hy ’n plaaslike verhoogrol as ’n hoogtepunt uit. 

In 2013 het hy in die Maynardville-opelugteater in Kaapstad die rol van Cardenio in dié “verlore stuk” van Shakespeare vertolk. 

“Dit was vir my baie groot, veral omdat dit Shakespeare en dié rol was waarvoor akteurs elke jaar gegaan het.” 

armand aucamp,akteur
Hulle doen graag saam staproetes. Foto: Instagram/@armandaucamp

Nou sien hy daarna uit om van 15 Julie af elke dag ’n halfuur lank saam met die Getroud met Rugby-kykers in hul sitkamer te kuier. 

Sy karakter, Jacques, is ’n skrywer van hygromans met ’n effense “antagonistiese streep”, vertel Armand.

“Al weer ’n skrywer,” sê hy laggend. Sy karakters in Ballade vir ’n Enkeling en die televisiereekse Hard Copy en Die Boekklub was ook skrywers. 

“Ek weet nie hoekom nie; dalk lyk ek slimmer as wat ek is!” 

Dis nie in dié stadium ’n permanente rol nie, en Armand het sewe weke lank gependel tussen die Moederstad, waar hy woon, en Johannesburg, waar die reeks verfilm word. 

Die eerste helfte van die jaar was bedrywig, maar hy kry binnekort ’n ruskans, vertel hy met ’n vonkel in sy bruin oë. 

armand aucamp,akteur,getroud met rugby
Armand is binnekort in die kyk­NET-sepie Getroud met Rugby te sien as ’n skrywer van hygromans. Hier is hy op die stel saam met Marlee van der Merwe, wat die rol van Kristien vertolk. Foto: Verskaf/getroudmetrugby

Hy en Tannah vertrek eersdaags op ’n eilandvakansie na Mauritius; dit sal Armand se eerste vakansie in ’n jaar en ’n half wees. 

Reis is een van sy groot liefdes: Hy het Europa al saam met sy ouers platgetoer en was al in Suidoos-Asië, China, Kanada en baie lande in Suider-Afrika. 

Maar dié keer gaan hy en sy geliefde by ’n oord uitspan. 

“Ek hou eintlik daarvan om met my rugsak te toer, maar dan rus jy nie regtig nie,” lag hy. 

“Ek sien nogal daarna uit om net te gaan leeglê.” 

  • Die kykNET-sepie Getroud met Rugby op kykNET (DStv-kanaal 144) skuif op 1 Julie na 18:00.