ELANA AFRIKA-BREDENKAMP

elana afrika-bredenkamp
Elana Afrika-Bredenkamp. Foto: Verskaf

Die TV-en radioster het by ’n sakementor geleer om ’n uur voor die res van die huis wakker te word. Dit gee haar tyd vir ekstra takies.

“Ons roetine is redelik ingestel aangesien ons klein kinders het,” vertel Elana, wat twee dogtertjies, Esther Beth (5) en Annabelle (4), het.

“Ek berei ’n gesonde ontbyt vir die gesin voor en my man, Ian Bredenkamp, maak die koffie.” Daarna lees sy ’n boek om die dag aan die gang te kry. “Ek noem dit ‘conclusions’ en gebruik dit dikwels as motivering op my radioprogram,” vertel Elana.

ian bredenkamp
Ian Bredenkamp geniet sy ontbyt. Foto: Verskaf

Sy en Ian trek die dogtertjies saam aan. “Dis nooit chaoties in ons huis nie, maar lekker raserig.” Hierna neem Ian hul kleingoed skool toe terwyl Elana afsit kantoor toe.

“Om 08:15 doen ek ’n inligtingsessie met ons uitvoerende persoonlike assistent.” Van nege tot 12 soggens kan sy op Jacaranda FM gehoor word.

“Ons roetine bly dieselfde, al saai ek uit van my tuiskantoor.”

ARMAND AUCAMP

armand aucamp
Armand Aucamp. Foto: Willem Botha

Die Boekklub-akteur is soms al halfses uit die vere. Dan sluk hy ’n koppie espresso af. 

“Ek kom lê dan weer in die bed en sal die nuus lees en ’n bietjie my sosialemediablaaie deurgaan terwyl ek my koffietjie drink,” sê Armand, wat in Seepunt, Kaapstad, woon.

“Ek doen dan iets fisiek soos om te gaan stap op die Seepuntpromenade of te gaan gim. Die res van die dag is onvoorspelbaar.”

ROXY LOUW

roxy louw
Roxy Louw. Foto: Verskaf

Dié branderplankryer en model is al sesuur soggens op. “Ek word wakker met sonop. Ons het nie gordyne nie en hou daarvan om in te val met die natuur se ritmes,” sê die Kapenaar. Die res van haar dag lyk so:

06:10: Ek begin elke dag met ’n vars groen smoothie.

06:20: Dis tyd vir hawermelkkoffie.

06:30: Ek neem ’n tydjie vir myself. Ek doen asemhalingsoefeninge en skryf in my dagboek.

roxy louw
Foto: Verskaf

07:00: Dis tyd vir sweet. Ek en my man, Sam Barton, sal branderplank ry of joga doen. Soms sal ons in die berg gaan stap of gaan draf en daarna ’n duik in die koue see vat.

08:00: Ek stort en geniet geposjeerde eiers op rogroosterbrood saam met avokado.

09:00: Ek begin met die dag.

SEAN VAN NOORDWYK

sean van noordwyk
Sean van Noordwyk. Foto: Verskaf

Sedert die Getroud met rugby-akteur die Kanadese skrywer Robin Sharma se boek The 5AM Club gelees het, staan hy elke oggend vyfuur op. 

“Die gejaag van Johannesburg het dan nog nie ingeskop nie,” sê Sean. Hy maak vir hom ’n koppie swart koffie en kry hom reg vir gim.

5 am club,boek
Foto: Verskaf

“Ek oefen sewe dae per week – vyf dae spiergroepe en twee dae kardio-oefeninge. Wanneer ek tuis kom, spring ek in die stort en maak vir my ’n gesonde ontbyt.”

Hy gaan dan deur sy tonele vir die dag en pak alles in wat hy nodig het vir werk. 

sean van noordwyk
Sean gaan deur sy tonele. Foto: Verskaf

“Ek laai elke oggend ’n motiverende aanhaling op my Instagram Stories en daarna is ek gereed om die pad werk toe aan te pak met musiek wat my in ’n energieke bui sit.”

SUCCESS LEKABE 

success lekabe
Success Lekabe. Foto: kykNET

Sy’s nie juis ’n oggendmens nie, bieg dié Tussen ons-aanbieder. “Teen die tyd wat my alarm afgaan en ek nie die snooze-knoppie gedruk het nie, is dit klaar ’n wen vir die dag,” sê Success. 

“Ek sal my geestelike boek lees of in my joernaal skryf.” Nog ’n belangrike taak is om te kyk of haar potplant, Kevin, nog leef en om ’n goeie koppie koffie te drink.

“Terwyl ek daai koppie drink, dink ek aan als wat moet gebeur die dag soos werk, my ma bel en natuurlik wat ek gaan aantrek. Teen die tyd wat my koffie klaar is, is ek reg om te carpe diem.”

SUE PYLER 

sue pyler
Sue Pyler. Foto: Verskaf

“Vanaf seweuur ontwaak ek en groet dadelik vir Miss Vicky, my chihuahua,” sê die RSG-omroeper. “Nadat Madame Vierpoot haar gaan verlig en ek ’n glas water gesluk het, is dit terug bed toe vir ons twee.” 

miss vicky
Miss Vicky. Foto: Verskaf

Daarna is dit 20 minute se skermtyd, en hierna kry sy haar reg vir haar werkdag. “Ek berei my ontbyt voor en gaan sit om te eet sodra die agtuur nuus begin.”

Ná die nuus ry sy werk toe waar sy haar heel eerste koppie koffie geniet. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe