JACQUES BLIGNAUT

Jacques en Melanie by hul kroos, Angelique, Emmanu
Jacques en Melanie by hul kroos, Angelique, Emmanuelle en Raphael. Foto: Kevin Mark Pass Photography

Die 7de Laan-akteur en sy vrou, Melanie, se drie kinders, Angelique (10), Emmanuelle (8) en Raphael (4), is mal oor Kersfees. “Hulle geniet dit om geskenke te kry, maar verstaan ook die regte betekenis van Kersfees. Vir hulle is al die tyd wat ons saam met familie deurbring die beste,” vertel hy. Met dié dat Jacques nog tot 23 Desember op die stel is, is daar nie juis tyd vir wegbreek oor die feestyd nie. “Ek sal elke beskikbare minuut saam met my familie deurbring en ons gaan kyk wat ons alles in Johannesburg vir die pret kan doen,” sê hy.

ROLANDA MARAIS

Rolanda en klein Charlotte. Foto: Verskaf
Rolanda en klein Charlotte. Foto: Verskaf

Kersfees beteken familietyd vir Rolanda. “Ons sou na Hentiesbaai in Namibië gegaan het, maar weens covid-19 gaan ons maar net Sandbaai toe,” vertel die aktrise. Haar ouers, Fanie en Charlotte, het ’n huis op dié kusdorpie. Rolanda en haar regisseur-man, Jozua Malherbe, se dogtertjie, Charlotte (4), is veral opgewonde oor Kersfees. “Sy het self die Kersboom versier en geniet dit vreeslik wanneer die liggies elke aand aangesit word,” sê Rolanda. Sy het ook ’n Kersvader-uitrusting gekoop wat Jozua op Oukersaand moet dra. “Ek sien vreeslik uit na daai magic en om haar gesiggie te ervaar wanneer sy Kersvader sien.”

ARMAND AUCAMP

Armand Aucamp. Foto: Suzaan Swart
Armand Aucamp. Foto: Suzaan Swart

Kersfees beteken samesyn en vakansietyd vir dié ster van Die boekklub. “Ek sukkel soms om af te skakel, so dis vir my die lekkerste tyd van die jaar, want dan weet ek niemand werk nie,” vertel Armand laggend. Hy gaan Kersfees by sy ouerhuis op Stellenbosch vier. Die dag is vanjaar ekstra spesiaal, want dis die eerste keer in agt jaar dat hy Kersfees saam met sy ouers, Chris en Petra, broer, Christoff, en suster, Marcelle, gaan deurbring. “My broer het baie lank in Viëtnam gewerk en my suster het op luukse seiljagte gewerk. Desember is gewoonlik haar besigste tyd, so sy kom nie elke jaar huis toe nie,” sê hy. Hulle was nooit op dieselfde tyd hier nie. “Dit gaan baie spesiaal wees om die eerste keer in so lank as gesin weer bymekaar te wees.”

Op hul Kerstafel:

Armand gaan die eerste keer ’n “marrowdona” berei. “Dis ’n massiewe riboogsteak wat so lank soos ’n filet is. Rondom die steak word gesaagde murgbene gepak met roosmaryn tussenin. Dit word dan met ’n tou vasgebind en drie uur lank op die Weber gesit. Dit gaan amazing lyk,” vertel hy opgewonde.

Die
Die "marrowdona" wat Armand vanjaar gaan berei. Foto: Verskaf

JAY ANSTEY

Die aktrise van Legacy en Inconceivable vier Kersfees elke jaar saam met haar ouers, Penny en Norman, en ousus, Amy. “Ons is nie baie godsdienstig nie, maar glo daaraan om dankbaarheid te toon vir die jaar wat ons gehad het,” sê Jay. Sy en haar gesin beplan ook om vanjaar ’n veganistiese feesmaal te berei. “My gunstelingdeel is die Kersfees-crackers. Ek haal alles uit!”

Jay Anstey. Foto: Instagram (@jayanstey)
Jay Anstey. Foto: Instagram (@jayanstey)

Jay is vanjaar dankbaar vir haar gesin, gesondheid en werk. “Ek is ook dankbaar dat die jaar verby is sodat ons almal kan reset en 2021 met meer positiwiteit kan binnegaan.”

TRIX VIVIER

Trix Vivier. Foto: Instagram (@trixvivier)
Trix Vivier. Foto: Instagram (@trixvivier)

Trix se gunsteling-Kersherinnering as kind was om bypassende uitrustings saam met haar aktrise-suster, Lea Vivier, te dra. Hulle het dan toneelstukke opgevoer en liedjies vir hul ouers, Adri en Pieter, gesing.

“Ons vier nie juis Kersfees in die tradisionele sin nie, maar ons kom op die 25ste bymekaar om my pa se verjaardag te vier en vir die seëning om geliefdes rondom ons te hê,” sê Trix, wat nou as Petra in die telenovelle Legacy te sien is en verlede jaar ook in Trackers was.

Trix saam met haar aktrise-suster, Lea Vivier. Fot
Trix saam met haar aktrise-suster, Lea Vivier. Foto: Instagram (@trixvivier)

Hulle gaan Kersfees langs die kus uitspan. “Ek gaan baie lees, kook en herinnerings met my susters deel,” sê Trix, wat benewens Lea ook ’n kleinsus, Meije, het. En waarvoor is sy vanjaar dankbaar? “My gesondheid, gesin en werk.”