Armie Hammer. Foto: Getty Images/ Gallo Images
Armie Hammer. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Die 34-jarige akteur het glo die Kaaimanseilande verlaat – waar sy vervreemde vrou, die televisiepersoonlikheid Elizabeth Chambers (34), en hul twee kinders, Harper (6) en Ford (4), woon – en is sedert 31 Mei ’n binne-pasiënt by ’n kliniek in Florida.

’n Bron na aan Armie het bevestig hy het “laat in Mei” na sy vervreemde vrou uitgereik en gesê hy is “gereed om behandeling te ontvang en beloof om so lank in die kliniek te bly as wat dit neem om gesond te word”, berig Vanity Fair.

Sy probleme het in Januarie vanjaar begin toe ’n rits ongure boodskappe aanlyn uitgelek is wat glo van hom kom en waarin hy ’n kannibalistiese fetisj en verkragtingsfantasieë bespreek.

Daarna het verskeie eksmeisies beweer hy het hulle tydens hul verhouding aangerand.

Die nou al berugte boodskappe – daar is nooit bevestig dat die akteur dit wel gestuur het nie – is oorspronklik op ’n Instagramrekening genaamd House of Effie gedeel. Sy is glo ’n eksmeisie van Armie.

Nadat die boodskappe uitgelek is, het verskeie van Armie se ekse hom daarvan beskuldig dat hy hulle wou beheer en hulle fisiek mishandel het.

House of Effie beweer minstens vyf vroue was betrokke in affairs met die akteur – en elke vrou is laat glo dat hulle die enigste een is. Nadat die skermfoto’s op Twitter begin versprei het, het aanhangers bevraagteken of House of Effie dalk die boodskappe vervals het – iets wat die persoon agter die blad ontken het.

Maar ’n onderhoud wat intussen opgeduik het waar Armie sy seksuele voorkeure in 2013 met die tydskrif Playboy bespreek, het die bewerings teen hom aangevuur.

“Ek het altyd daarvan gehou om ’n dominerende minnaar te wees. Ek hou daarvan om die nek en hare en al daai dinge te gryp,” het hy gesê. “Maar dan trou jy en jou seksuele aptyt verander . . . Jy kan nie juis jou vrou se hare trek nie.” Die onderhoud is nog meer steurend aangesien vorige meisies volhou die skandalige bewerings is waar.

Die skrywer Jessica Ciencin Henriquez, wat in September 2020 afgeneem is waar sy alte danig met die akteur lyk, het die Instagramboodskappe op Twitter bespreek.

“As jy steeds bevraagteken of daardie boodskappe van Armie Hammer die ware Jakob is (en dit is) moet jy dalk begin bevraagteken hoekom ons in ’n samelewing leef wat bereid is om mishandelaars in plaas van slagoffers die voordeel van die twyfel te gee,” het sy geskryf.

NUWE MEISIE

Armie het ook na bewering liefde gevind in die Kaaimanseilande, berig People.

Die Rebecca-akteur het vroeër vanjaar tyd saam met plaaslike inwoners van die eiland deurgebring, het 'n bron aan People vertel.

“Hy gaan met 'n tandheelkundige op die eiland uit,” het die bron aan People verklap. “Hulle was onlangs op 'n 'staycation' aan die anderkant van die eiland waar hulle woon.

“Hulle lyk gelukkig en gemaklik met mekaar,” voeg die bron by. “Dit lyk asof hulle baie vriende het en sy stel hom voor aan mense wat hom nog nie ontmoet het nie.”

ARMIE UIT DIE KOLLIG

Intussen het Armie ook verskillende rolprent- en TV-projekte verlaat of laat vaar weens die bewerings teen hom.

Hy sou vroeër Al Ruddy speel in die komende The Godfather-reeks The Offer, maar het die projek in Januarie verlaat te midde van die omstredenheid rondom die beskuldigings, het Variety destyds berig.

Benewens sy vertrek van The Offer en die Jennifer Lopez-fliek Shotgun Wedding in Januarie, het hy ook verlede maand aangekondig dat hy nie na Broadway sal terugkeer nie. Hy was van plan om in die rolverdeling van die bekroonde regisseur en akteur Tracy Letts se toneelstuk The Minutes te wees.

Armie is einde Maart ook die trekpas gegee van sy laaste rolprentprojek, die opkomende riller The Billion Dollar Spy. Die akteur het ook vroeër die reeks Gaslit met Julia Roberts en Sean Penn verlaat en is ook die deur gewys deur sy talentagentskap en jarelange publisiteitsbeampte.

Gerugte doen ook die ronde dat Armie se gewilde en bekroonde fliek Call Me by Your Name se opvolgprent geskrap is. Armie het die rol vertolk van een van die protagoniste, Oliver, wat verlief raak op die 17-jarige student, Elio (Timothée Chalamet). Die fliek handel oor hul verhouding. 

In 'n onderhoud het die regisseur van die rolprent, Luca Guadagnino, aan die vermaaknuuswebtuiste Deadline onthul dat hy om verskeie redes weg van die idee van 'n opvolgprent beweeg het.

“Die waarheid is my hart is steeds daar, maar ek werk nou aan hierdie fliek (Bones and All) en ek gaan hopelik binnekort Scarface doen.”

BRONNE: VANITYFAIR.COM, PAGESIX.COM, DAILYMAIL.CO.UK, TMZ.COM, INSTYLE.COM, PEOPLE.COM, DEADLINE.COM, GQ.COM.AU
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.