Maar wat op dees aarde kan dié ervare sanger so laat voel?

Wanneer die Springbokke Saterdag op Twickenham teen die Engelse te staan kom, gaan Arno die Suid-Afrikaanse volkslied voor ’n stampvol stadion sing.

“In my 13 jaar in die musiekbedryf het ek nog nooit op my senuwees geraak nie. Nie met Skouspel of Afrikaans is Groot nie,” vertel Arno al die pad uit Londen.

“Dit is ’n groot oomblik. Jy het ’n minuut en ’n half om jou beste te gee,” sê hy.

Arno, wat self ’n reuse-rugbyondersteuner is, meen dit is ’n groot eer en hy het nie een oomblik geskroom toe hy genader is om die volkslied te sing nie.

“Twickenham is die tuiste van rugby, so ek is verskriklik opgewonde.”

Hy sal Saterdagoggend saam met die orkes ’n oefenlopie hê voor die wedstryd later die middag, vertel hy.

Arno het ook in 2006 en weer in 2007 die kans gehad om die volkslied vir die Springbokke gesing.

Hy sê prins Harry (34) sal na verwagting ook by die wedstryd wees. 

“Net die hele ervaring is ongelooflik. Dit is op ’n ander vlak. Maar hopelik sit ons nie in dieselfde losie as die koninklikes nie, want my vrou (Lizanie) sal prins Harry nie kan uitlos nie en hy is maar pasgetroud, so ons wil nou nie ’n bakleiery hê nie,” skerts Arno.

Hy vertel hy gaan ‎"‎Nkosi Sikelel' iAfrika‎" regstreeks saam met ’n weermagorkes sing. “Ek sien verskriklik baie uit daarna,” sê die sanger.

Hy sien ook uit daarna om die naweek saam met vriende, wat die rugbywedstryd gaan kyk, te kuier en ’n Engelse bier of twee te geniet.

“Ons vlieg Dinsdag weer terug,” sê hy.

En vir aanhangers wat dalk wonder of ’n nuwe album op pad is, kan Arno gerusstel. “My album is klaar; ons wag net vir die regte tyd om dit uit te reik,” verklap hy.