Die akteur van Jurassic World-faam het onlangs sy verlowing aan die ster van Terminator Genisys se dogter Katherine Schwarzenegger aangekondig.

Die voormalige goewerneur van Kalifornië het Chris gelukgewens met die opening van die fliek Jurassic World in 2015. “Ek staan reg langs Chris Pratt. Geluk aan die suksesvolle openingsnaweek, @prattprattpratt. Jy verdien dit.”

Volgens ’n bron het Chris die tradisionele roete gevolg voor hy Katherine (29) die groot vraag gevra het, berig US weekly.

“Chris het Maria Shriver en Arnold Schwarzenegger se toestemming oor die Kerstyd gevra,” het ’n bron vertel en bygevoeg “Maria het hom gehelp met die beplanning daarvan gehelp.”

Maria, ’n voormalige joernalis, is in die wolke oor haar dogter se verlowing en het só op Chris se Instagram-inskrywing reageer: “Geluk aan twee liefdevolle, gawe, sorgsame, bedagsame en geestelike mense. Ons is so bly vir julle. Julle is geseën en dit geld ook vir almal wat julle ken . . . kom ons laat waai!” het Maria (63) geskryf.

Intussen het Chris se eks, die aktrise Anna Faris, haar beste wense aan die paartjie oorgedra en selfs skertsend aangebied om hulle in die huwelik te bevestig, berig Cosmopolitan. Chris en Anna se paadjies het in Augustus 2017 geskei.

Anna het in haar potsending, Anna Faris is Unqualified, gesê: “Chris het vanoggend vir my ’n teksboodskap gestuur en gesê: ‘Ek het gisteraand Katherine gevra om te trou’. En ek het gesê: ‘Aa, dis wonderlik!’ Ek het vir hom teruggeskryf: ‘Ek wil jou net herinner ek is ’n geordende predikant.’”

Sy het egter toe gesê sy is “nie baie goed” daarmee om mense in die huwelik te bevestig nie. Sy het gesê sy het geweet “dierbare Chris” is gereed om die groot vraag te vra. “Ek is lief vir haar en lief vir hom. Ek is so bly hulle het mekaar gevind.

Bronne: US Weekly, independent.ie, Cosmopolitan