Hier sit Arnold Vosloo in lewende lywe sonder enige mummie-grimering of grieselrige dinge wat uit sy nek groei voor hy monsteragtige dade begin pleeg. 

Hy lyk koel en kalm in sy pers hemp en swart snyersbroek in die voorportaal van ’n boetiekhotel op Stellenbosch. 

Voor hom op ’n tafeltjie staan ’n glas Suid-Afrikaanse vlytbier.



Een van Suid-Afrika se beroemdste akteurs het ná meer as drie dekades in Hollywood na sy geboorteland teruggekeer – dié keer vir ’n rol in ’n Afrikaanse fliek, Griekwastad, wat vandeesmaand op kykNET se Silwerskermfees in Kaapstad vertoon word. 

Dit is gegrond op die ware gebeure op die plaas Naauwhoek naby Griekwastad waar die skoolseun Don Steenkamp (toe 15) in April 2012 sy pa, ma en jonger suster doodgeskiet het. 

Hier sit Arnold Vosloo in lewende lywe sonder enige mummie-grimering of grieselrige dinge wat uit sy nek groei voor hy monsteragtige dade begin pleeg.

Arnold vertolk die rol van kol. Dick de Waal, wat die moordsaak ondersoek het.

“Ek kon die rol vertolk van dit wat ek is – ’n middeljarige Afrikaner,” gesels die 56-jarige akteur.

Net die lagplooitjies om sy oë en die grys teen sy slape laat Arnold anders lyk as toe hy in 1984 in die fliek Boetie Gaan Border Toe en later in die Hollywood-lokettreffers The Mummy (1999) en The Mummy Returns (2001) roem verwerf het. 

Sy stem sal jy op enige plek herken – daardie ewewigtige byna-radio­stem met ’n effense grom wanneer hy opgewonde sê: “Jaaaagrr.” 

En met “ja” en “u-huh” wys hy deurgaans hy luister.

don steenkamp,griekwastad
Don Steenkamp. Foto: Gallo Images/Getty Images/Foto24/Emile Hendricks
arnold vosloo,alex van dyk,gérard rudolf
Arnold, Alex van Dyk (Don) en Gérard Rudolf (heel regs), wat die staatsaanklaer, Hannes Cloete, speel, in ’n toneel uit die fliek. Foto: Misha Jordaan

“Dit was vir my baie belangrik dat dit in Afrikaans was, 30 jaar later,” sê hy oor die fliek Griekwastad, waarin hy die eerste keer in dekades weer sy moedertaal voor die kameras praat.

“Ek het al Engelse goed soos Blood Diamond met Leonardo DiCaprio hier kom skiet. Maar ek wou voel hoe dit is om Afrikaans te praat, in Afrikaans emosies uit te druk en in Afrikaans te dink.”

Vir sy rol in Griekwastad het hy sy hare soos dié van “my ou self” laat sny, vertel Arnold. 

“Ek het nie noodwendig aan Dick de Waal gedink toe ek by die ou met die rooi-wit-en-blou barbierspaal in Kimberley stop nie. ‘Sny soos toe ek op skool was,’ het ek gevra...”

Terug op eie bodem het Arnold met mening na sy wortels teruggekeer. 

“Dit was vir my baie belangrik dat dit in Afrikaans was, 30 jaar later,” sê hy oor die fliek Griekwastad, waarin hy die eerste keer in dekades weer sy moedertaal voor die kameras praat.

Voor die verfilming in Mei vanjaar begin het, het hy ’n week lank by sy ma, Joyce (83), en suster, Nadia Vosloo, in Alberton gekuier. 

“Dis my happy spot met koffie en beskuit, hoender-casserole, chutney chicken en die Johnny Guitar Roadhouse met toasted hamburgers en slaptjips.

“Dalk is dit die romantiese deel daarvan om nie van ’n 60 km-radius van waar jy grootgeword het weg te gaan nie. Jy ken elke sprietjie gras,” mymer hy.

Arnold het al tevore geleenthede gekry om weer in Suid-Afrika te kom werk. 

“Ek was elke keer met iets anders besig,” onthou hy. 

cobus van den berg,deon meyer,griekwastad
Die vervaar­digers Cobus van den Berg (links) en Deon Meyer saam met Arnold op die stel. Foto: Misha Jordaan

Maar toe, in Januarie vanjaar, het die vervaardiger Tim Theron deur Arnold se agent van hom laat hoor en gevra of hy nie in Griekwastad sal verskyn nie. En Arnold het dadelik ingestem.

Die misdaadskrywer Deon Meyer (61) het die fliekregte op die joernalis Jacques Steenkamp se boek, Die Griekwastadmoorde, gekoop en is ’n medevervaardiger van die fliek. 

Net enkele tonele is op die afgeleë Griekwastad in die Noord-Kaap geskiet. 

Die meeste tonele is 800 km daarvandaan op Hopefield in die Wes-Kaap verfilm waar ’n soortgelyke opstal opgespoor is. 

“Selfs die naambord vir die plaas lyk dieselfde, en die leiklippad,” vertel Arnold.

“Dis my happy spot met koffie en beskuit, hoender-casserole, chutney chicken en die Johnny Guitar Roadhouse met toasted hamburgers en slaptjips.

Dié keer speel hy nie ’n fiktiewe karakter nie, maar moes hy in die polisiestewels klim van die kolonel wat die raaiselagtige moorde ondersoek het.

Het hy die ware Dick de Waal ontmoet?

“Ek het dit oorweeg, maar toe besluit ek ek wil hom nie ontmoet nie. Omdat ek so ’n geliefde entiteit in Suid-Afrika is oor die Boetie-flieks, kan ek nie skuil nie. Ek kom met bagasie. Ek lyk soos ek lyk en is wie ek is,” sê Arnold.

“Ek wou Dick in my eie kop skep. Die dinge waarin ek belanggestel het, was: Hoe vors hy dinge na? Hoe lyk sy notaboeke? Ek het wel foto’s van sy notas in die hande gekry. Hy het op ’n wit stuk papier geskryf: Naauwhoek. Hek na huis. 73 m. Vat 48 sekondes as jy dit stadig stap. As ek hierdie deur oopmaak, hoe lank sal dit vat om soontoe te loop? Links is ’n skaapkraal.

“Elke ding was so metodies. Ek dink ek het my kop en my oë verander.”

kol.dick de waal,griekwastad,fliek
Die regte Dick de Waal. Foto: Gallo Images/Getty Images/Foto24/Emile Hendricks

Die ware Dick is deesdae ’n brigadier en die hoof van die Noord-Kaapse provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad, maar wil hom nie oor die fliek of die uitbeelding van hom voor die kameras uitlaat nie.

Om hom vir die rol voor te berei het Arnold baie oor die moordsaak gelees. 

Die Hopefield-omgewing waar hulle rondgery het, het hom ook reg ingestem vir die fliek. 

“Dis oop om jou – die plat landerye, elders omgeploeg of met twee voet hoë fynbos. Dis baie stimulasie vir die sintuie.”

Hy is trots op die eindproduk. “Die surprise is dit gaan nie net oor die moorde nie; dit gaan ook oor die rimpel­effek wat dit op die dorpie het. Dis nie ’n tipiese rolprent nie, wat nog te sê ’n tipiese Afrikaanse fliek.”

“Ek het dit oorweeg, maar toe besluit ek ek wil hom nie ontmoet nie. Omdat ek so ’n geliefde entiteit in Suid-Afrika is oor die Boetie-flieks, kan ek nie skuil nie. Ek kom met bagasie. Ek lyk soos ek lyk en is wie ek is,” sê Arnold.

In Amerika het hy pas klaar gewerk aan ’n Jack Ryan-televisiereeks uit die pen van Tom Clancy waarin John Krasinski die titelrol speel. 

In die nuwe seisoen, wat vandeesmaand aanlyn begin, speel Arnold ’n bose Suid-Afrikaanse huursoldaat.

Ná twee besoeke vanjaar aan sy geboorteland – eers vir die verfilming van Griekwastad en nou weer vir die première daarvan – is hy oorgehaal om in die toekoms meer tyd hier deur te bring.

Wanneer sy vrou, Sylvia Ahi, oor ’n paar jaar as rekenmeester by die firma Ernst & Young in Los Angeles aftree, wil hulle ’n plekkie iewers in Suid-Afrika huur.

“Sê nou maar ses maande in Durbanville. En dan gaan ons ses maande terug States toe wanneer dit hier koud raak. Dan huur ons die volgende keer ’n huis in Durban en so oor die hele land, tot sy besluit waar dit vir haar lekker is,” sê hy.

arnold vosloo,akteur,griekwastad
Arnold Vosloo. Foto: Misha Jordaan

Toe hulle byna 21 jaar gelede getroud is, het Sylvia al ’n seun gehad. 

Arnold is nou die “oupa” – ja, dis hoe hy genoem word – van die negejarige Jauqun Escacega.

“Ek leer hom natuurlik vloekwoorde soos ‘bliksem’, ” sê Arnold. 

“Wanneer hy ’n bietjie meer brains het, so op 14, 15, sal ek hom bring. Net ek en hy alleen.

“Ek voel ek is hier by my tribe – wit, bruin, swart. Ek ken hulle voor hulle hul monde oopmaak. En dis die plek waar ek met die son op my vel en die tortelduiwe heeltemal vergeet van action, action! In Amerika kan ek soos ’n regte Afrikaan die reën ruik voor dit kom...”

Al het dié Afrikaan daar doer oor die waters gaan naam maak, wil hy die stof van sy vasteland vir niks verruil nie – nie eens vir die glans van Hollywood nie.

Die akteurs in die rolverdeling
  • Kol. Dick de Waal

Arnold Vosloo speel die ondersoekbeampte.

  • Don Steenkamp

Die skoolseun Alex van Dyk, wat ook in die fliek Die Stropers te sien was, speel die moordenaar.

  • Marthella Steenkamp

Jane de Wet, Lexi in die Showmax-reeks The Girl from St. Agnes, speel Don se suster.

  • Deon Steenkamp

Albert Pretorius, tans te sien in die gruwelreeks Die Spreeus, vertolk die rol van Don se pa.

  • Christel Steenkamp

Esther von Waltsleben, van reekse soos Buurtwag en Proesstraat, speel Don se ma.

  • Lt. André McAnda

Jody Abrahams, oftewel Donovan in 7de Laan, speel dié karakter.

  • Genl. Henriëtte de Waal

Rolanda Marais speel Dick se vrou en ’n polisiesielkundige.

Kom neem deel aan die gesprek
Kom neem deel aan die gesprek. Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebook en WhatsApp, en teken in op ons nuusbriewe.